Die gelukwensinge het ingestroom nadat Reandi (30) op Instagram onthul het ’n "mini-Grey" is op pad. En nou is dit amptelik: Hulle verwag ’n dogtertjie, verklap sy aan Huisgenoot.

"Geseënd, geseënd, geseënd! Om te weet die Here vertrou ons om ouers te wees van een van sy kinders is die ongelooflikste eer, blydskap en verantwoordelikheid wat ons ooit sal hê. Ons is heeltyd aan die beplan en droom oor ons kleine geskenkie," vertel Reandi.

Die aktrise het in September uitgevind sy is swanger – en dit net 20 minute voor sy op stel moes gaan. "My gedagtes was orals behalwe op daardie stel, en dit het alles in my gevat om nie die hele tyd in trane uit te bars of aan die lag te gaan van opgewondenheid nie,” vertel Reandi, wat in die Laan ma speel vir ’n tienerseun, Thomas.

Reandi was ook baie kreatief toe sy die swangerskapnuus aan haar man, Dewald, onthul het. "Ek het ons een spaarkamer se deur toegemaak met danger tape, met 'n bord wat lees 'Nursery under construction. Occupation date: June 2019,'” vertel sy. 

Dewald was vir ’n paar oomblikke omtrent stomgeslaan, vertel sy. Maar toe hy besef wat aangaan, het hy van oor tot oor geglimlag. En vier maande later sit hy steeds met daardie groot glimlag, grap die aktrise. 

Die emosies loop hoog in die Grey-huishouding nadat hulle uitgevind het hulle verwag ’n dogtertjie. Hul pienkvoet word na verwagting in Junie gebore.

Die paartjie, wat vir sowat ’n jaar en ’n half getroud is, trek nou in hul nuwe huis in Johannesburg in en beplan om binnekort die babakamer in te rig. 

Hunker sy na enige snaakse kossoorte tydens haar swangerskap? Vir iemand wat nooit sterk kos eet nie, is Jalapeno-poppers bo-aan haar lys, vertel Reandi. "Skielik is enige kos sonder 'n branderigheidjie sommer vervelig," sê sy.

En as daar enigiets is wat sy vir die kleinding kan sê, wat sal dit wees? "Onthou die komplimente, vergeet die beledigings. Geniet die fleur en skoonheid van jonk wees. Jy is net een keer daar en dit gaan so vinnig verby."

Sy is opgewonde om ma te word. "Om die ma van my wonderlike man se kind te wees; om die ma van my ma en pa se kleinkind te wees; om die ma van 'n kind te wees wat die Here aan ons gegee het . . . daar is geen woorde nie. Net dankbaarheid."

Die gelukkige paartjie meen niks in hul huwelik het verander noudat hul kleinding op pad is nie, maar toe haar magie begin wys, het dit meer van ’n werklikheid vir albei van hulle geword.

"Dit bring ’n mens vir seker nader aan mekaar. Om te weet julle het iets saam geskep en gaan saam die grootste verantwoordelikheid deel wat enige mens kan hê, versterk beslis die band tussen man en vrou. Ons is ongelooflik gelukkig."