Dis nie iets wat sy oor die algemeen sou doen nie, laat die aktrise hoor. 

“Ek het myself vir ’n oomblik gevra of ek dit regtig gaan doen,” onthou sy. 

Behalwe dat sy ’n vriendin saamgevat het vir morele ondersteuning, het Blyde ook voor die tyd ’n les gehad om te verduidelik hoe ’n vliegtuig nou eintlik werk. 

Die vlieënier was reg langs haar en het ook beheer oor die vliegtuig gehad.  

View this post on Instagram

A post shared by Blyde Smit (@blydesmit) on

Tog was die oomblik voor sy in die vliegtuig geklim het by die Rand-lughawe in Germiston, Johannesburg, vreesaanjaend vir die jong aktrise. 

“Ek voel ek is ’n goeie motorbestuurder, maar dit het my ook jare gevat. Toe die vlieënier eers sê hy gaan alles vir my verduidelik, maar ek moet self die vliegtuig vlieg, het ek die angs in my maag gevoel,” vertel sy laggend. 

Dit was asof sy vyf teaterstukke op een dag moes doen en glad nie voorbereid was daarvoor nie. 

“Maar die gevoel wat ’n mens kry as jy in die lug is en om te weet jy het dit gedoen, is onbeskryflik. ’n Mens voel so lig, braaf en asof jy die wêreld weer hierna kan aanvat,” sê Blyde. 

View this post on Instagram

A post shared by Blyde Smit (@blydesmit) on

Juis as gevolg van hierdie wonderlike ervaring sal sy dit beslis weer doen, en oorweeg sy dit nou selfs om haar vlieglisensie te kry. 

“Ek sal dit eintlik vir enigiemand aanbeveel, selfs al het hulle hoogtevrees. Die vlieënier het soveel geduld gehad en my soveel rustigheid gegee. Ek dink nie ek sou dit sonder hom kon doen nie,” sê sy.

As Blyde nie besig is om ’n vliegtuig te vlieg of by die Sasani Studios in Johannesburg is waar 7de Laan geskiet word nie, is sy besig om haar meestersgraad in rolprentstudie aan die Universiteit van Pretoria te voltooi. 

“Ek hoop om dit hierdie jaar klaar te maak.”

Blyde is ook baie kunstig en het hierdie jaar onder meer geleer om te teken, verf en borduurwerk te doen. 

“Ek speel ook die ukulele. Ek dink nie noodwendig ek is musikaal nie, maar ek het myself leer speel en het selfs begin om ’n liedjie te skryf.” 

Haar ander groot passie is fotografie.

“Ek het al 86 troues afgeneem en ek hou ook daarvan om tennis te speel en joga te doen.” 

As kind was sy maar ’n bangbroek, maar die laaste paar jaar doen sy goed wat sy nooit gedink het sy sou doen nie. 

“Ek is nou baie meer avontuurlustig, en met my 25ste verjaardag om die draai wil ek myself meer druk om nuwe goed te ervaar. Om ’n vliegtuig te vlieg was beslis ’n totale ervaring buite myself, maar ek is nie een oomblik spyt nie,” sê sy.