Carina, wat dr. Alexa Welman in die Laan speel, kan nie in die sosiale media uitgepraat raak oor die vakansie wat sy saam met haar man, Deon, op die prentjiemooi eiland Mauritius geniet nie.

Volgens Carina (30) het hulle die eilandparadys besoek om hul tweede huweliksherdenking, wat op 21 Oktober vanjaar was, en ook Deon se 30ste verjaardag te vier. 

Die paartjie het sewe aande by die Radisson Blu Poste Lafayette-oord tuisgegaan. 

By ’n pragtige foto wat Carina van haarself op Instagram gedeel het, verklap sy net hoe heerlik dié ervaring was.

“Op 'n katamaran . . . Met die wind in my hare en die son wat my vel soen. Kyk uit op die pragtige water van Mauritius op pad na Gabriel-eiland . . . Kan nie beter as dit raak nie!” het sy by die foto geskryf. 

Carina het aan Huisgenoot vertel hoe ongelooflik die ervaring was om in die waters van Mauritius lafenis te soek.

“Dit voel nes 'n droom. Die water is verskriklik helder en pragtig, dit lyk soos op ’n poskaart. Om net daar rond te dryf en oor niks te bekommer nie is onbeskryflik.”

Om ’n hoogtepunt van hierdie vakansie uit te sonder was vir Carina moeilik, want sy meen daar is te veel om op te noem.

“Om in die pragtige turkoois water te swem, te snorkel en al die pragtige seediere te sien, die asemrowende natuurskoon te beleef en in te neem, die land se verskriklike lekker kos en kultuur te beleef en natuurlik net om met jou voete in die sand te sit, lekker te gesels en ’n cocktail te drink!” vertel sy oor die heerlike tyd wat hulle gehad het.

Carina verklap hulle reis soveel hulle kan. En wanneer hulle nie reis nie, is hulle besig om die volgende een te beplan. “Ons probeer om elke jaar in Suid Afrika nuwe plekke te sien. En dan reis ons ook minstens een keer per jaar oorsee,” sê sy.

Hulle het verlede jaar ook in Europa vakansie gehou. Deon het van die prettige kiekies van hul reise op Instagram gedeel. 

Carina verklap ná twee jaar van die getroude lewe raak die huwelik by die dag net beter en lekkerder.

Sy en haar man, Deon, 'n geoktrooieerde rekenmeester, maak tyd vir mekaar ten spyte van hoe besig dit by die werk gaan.

“Ons albei werk baie lang ure en dis dan belangrik om steeds tyd te maak om met mekaar te gesels,” vertel sy.

Volgens Carina is hulle altwee ook baie suksesgedrewe, maar vergeet nooit wat regtig belangrik is nie – die mense waarvoor hulle die liefste is.