Ashish, wat al onder meer in die sepie Isidingo te sien was as die IT-spesialis Prada, het onlangs op een fliekstel beland met die Amerikaanse aktrise (33), wat al in lokettreffers soos Transformers en Teenage Mutant Ninja Turtles gesig gewys het.

"Die fliek heet Rogue en die fantastiese M.J. Bassett (wat steek agter gruwelflieks soos Deathwatch en Silent Hill: Revelation) behartig die regie," vertel Ashish oor die aksiefliek. Meer oor sy rol kan hy nog nie verklap nie. "Ons skiet die fliek op verskeie plekke in Suid-Afrika, maar meestal in die bos," sê die 35-jarige akteur.

"Dis fantasties. Ek sien altyd uit daarna om met internasionale talent te werk en sy is net wonderlik. Sy is een van die coolste, gaafste en hoogs intelligente mense wat ek al ooit ontmoet het en sy bring altyd so 'n wonderlike teenwoordigheid en energie na die stel," sê Ashish.

"Ek het 'n baie lang lys van plaaslik en internasionale akteurs wat ek respekteer en bewonder en wat ek hoop om te ontmoet en mee saam te werk.

"Om met haar en die wonderlike Philip Winchester te werk, sowel as die fantastiese Suid-Afrikaanse akteurs, is beslis iets wat ek hoog ag in my loopbaan."

Philip, 'n Amerikaanse akteur, was al te sien as die assistent-distriksprokureur Peter Stone in die misdaaddramareeks Law & Order: Special Victims Unit.

Ashish sê Megan is een van die vriendelikste mense
Ashish sê Megan is een van die gaafste mense wat hy al mee gewerk het. Foto: Verskaf

Megan het onlangs op Instagram-foto's en 'n -video gedeel van haar wat voorberei vir haar rol.

View this post on Instagram

Training for #RogueMovie

A post shared by Megan Fox (@meganfox) on

Die plaaslike akteur Greg Kriek is ook in die fliek te sien, het hy op Instagram laat val, en ook hy het net goeie goed oor Megan te sê. "Dit was 'n ongelooflike voorreg om met Megan Fox te werk," het Greg op Instagram vertel by 'n foto van hulle saam.

"Nie net het sy gat geskop skoot ná skoot soos die fliekster wat sy is nie, maar sy is 'n wonderlike mens met 'n groot hart en vrygewige gees! Sy bewys dat jy terselfdertyd oorspronklik, nederig en suksesvol kan wees!"

Ashish en Greg is nie al plaaslike talent wat in Rogue te sien is nie. Brandon Auret, wat in flieks soos District 9 en Chappie te sien was, en die akteur Sisanda Henna, wat die bendeleier Nkunzi in die nuwe Deon Meyer-reeks Trackers speel, wys ook gesig in Rogue teenoor Megan.

Megan is getroud met die akteur Brian Austin Green (46) van Beverly Hills 90210-faam. Die paartjie het drie seuns saam, Noah (7), Bodhi (5) en Journey (3).

Ashish is die volgende paar maande bedrywig met nog projekte, vertel hy. Keer sy 7de Laan-karakter Kevin terug na Hillside na hy onlangs die prokureur Lesedi (KB Motsilanyane) se hart gebreek het? "Ek sou graag so wou dink," vertel Ashish. "Kevin is in 'n baie slegte lig daar weg, maar ek dink daar is nog baie meer om aan daardie karakter te verken," meen die akteur. 

"Die Laan se karakters en die gehoor het 'n toksiese verhouding met hom gebou weens sy dade. Maar daar is so baie meer aan hom. Hy is 'n gebroke man en ek dink (mens moet op) 'n reis gaan om eerstens te identifiseer hoekom hy is soos hy is en die goed doen wat hy doen en tweedens, op 'n reis van bevryding gaan met hom. Hy is nie 'n slegte ou nie, hy doen net slegte goed. Nes sommige gebreekte goed herstel kan word. Iemand moet net sê genoeg. Miskien is dit Lesedi. Miskien is dit Alexa (Carina Nel). Wie weet?"