“Kom help my met daai lovesong wat ek nog klaar moet skryf oor die ‘girl’ wat ons so mal gehad het. Ons het altyd oor Annatjie baklei . . .”

Só het Bobby van Jaarsveld al in 2009 in die liedjie “Annatjie”, wat op die album Net vir Jou verskyn, oor sy vrou gesing. Bobby en Annatjie het op Maandag 7 Januarie hul agtste huweliksherdenking gevier.

Bobby het op Instagram geskryf hy sal dié donkerkopvrou en ma van hul drie kinders, Sion (7), Leben (5) en Armani (2), “weer kies”.

Volgens Bobby se bestuurder en ma, Ronel Brink, het Annatjie 13 jaar gelede reeds deel van die Van Jaarsveld-familie geword.

Die Van Jaarsveld-familie het al verskeie kere op sosiale media hul liefde vir Annatjie gedeel. Op haar verjaardag het Bobby se sangeres-sussie, Karlien, Annatjie op Instagram as haar “sielsvriendin” beskryf.

“Jy is die skerpste, mees sarkastiese mens wat ek al ontmoet het, jy laat my op my heel hardste en lekkerste lag,” het Karlien in haar inskrywing geskryf. “Jy besit so 'n groot deel van my hart. Ek het jou so lief,” het sy met hartjies bygevoeg.

Ronel het ook op Annatjie se verjaardag verlede jaar gesê Annatjie is die “gom” van haar gesin. “Ons het jou so lief, jy is nie my skoondogter nie. Jy is my dogter,” het sy geskryf.

Bobby het op 20 Desember 'n inskrywing op Instagram geplaas waar hy bevestig het sy familie het see toe getrek. Ons het verlede maand berig die Van Jaarsveld-paartjie het moontlik na Ballito verhuis om by Bok van Blerk en sy vrou, Hanna Grobler, aan te sluit. 

“Iemand stuur vir jou groete. Dit is Annatjie, sy sit hier langsaan my,” sluit Bobby se liedjie af. Dit is toe hý wat “sy Anna” se hart gewen het.