Ses beste vriende, plus ’n permanente kuiergas, wat in drie woonstelle langs mekaar bly en heeltyd oor en weer kuier. Lui dit ’n klokkie? 

Ja, dit klink soos iets uit die sitkom Friends. Maar ons praat nie hier van ’n episode uit dié TV-reeks waar ’n groep van ses jong New Yorkers 10 jaar lank, tot in 2004, weekliks wêreldwyd in sitkamers gekuier het nie.

Dit gaan oor die werklike lewe van ses, plus een, vriende wat op die boonste vloer van ’n ou woonstelblok in Linden, Johannesburg, woon en daagliks presies weet wat in mekaar se lewe gebeur. 

Hulle is ’n groep Millenniërs, tussen 21 en 33 jaar oud, en werk almal in die Afrikaanse vermaakbedryf.

Dit is die Goudstad se eie “Friends”: die aktrises Simoné Nortmann (28), Mila Guy (25), Ansu Visser (25) en Melissa Willering (21); die akteurs-vervaar­digers-skrywers-regisseurs Bennie Fourie (30) en Beer Adriaanse (33); en die skrywer Burger Meyer (30). 

Hulle het dalk nog nie Hollywood-bekendheid verwerf soos die kassie se bekendste vriendekring, Jennifer Aniston, David Schwimmer, Courteney Cox, Matthew Perry, Lisa Kudrow en Matt LeBlanc, nie.

Hulle speel ook nie saam in ’n sitkom nie, maar dié groep kreatiewe maats skryf nou hul onder­skeie suksesverhale.

Kyk ’n mens na die name van Afrikaanse televisieprogramme soos Hotel, Buurtwag, Fynskrif en Getroud met Rugby en flieks soos Vuil Wasgoed, Wonderlus en Liewe Kersfeesvader, spring dié sewe name onmiddellik op.

Maar hoe het dié groep vriende, wat elkeen karaktereienskappe van Friends se karakters het, in dieselfde woonstelblok beland?

“Ons is ’n sekte,” terg die skerpsinnige Beer, wat tans in die kykNET-regsdrama Fynskrif te sien is. Hy is die groep se eie lawwe Joey (Matt se karakter in die Amerikaanse sitkom), net veel slimmer en minder lomp.

Dié kreatiewe groepie vriende is nie bang vir ’n lawwe foto nie. Hulle is immers Millenniërs wat onder meer weet hoe om die volmaakte foto vir die sosiale media te neem. Foto: Onkgopotse Koloti.

Hy is die enigste een wat nie permanent in die woonstelblok bly nie, maar hy is so gereeld daar, die vriende beskou hom as hul “permanente gas”. Hy en Mila, wat pas twee nuwe flieks uit die pen van Deon Opperman verfilm het, is al sedert Februarie vanjaar ’n paartjie.

Mila is ’n mengelmoes tussen Friends se loskop, Phoebe (Lisa), en die ver­antwoordeliker maar spontane Rachel (Jennifer). 

Bennie, medeskrywer van die kyk­NET-komedie Hotel en Vuil Wasgoed-­akteur, -skrywer, -regisseur en -medevervaar­diger; en Burger, medeskrywer van die sepie Getroud met Rugby, het eerste as vriende saam in die blok ingetrek. 

“Ek en Burger het blyplek gesoek en op dié woonstelblok afgekom,” vertel Bennie. Dit was in November 2015.

Met sy skerp humorsin is Bennie ­volgens die groep net soos Chandler (Matthew). 

As ’n gefokusde denker is Burger weer die toonbeeld van Ross (David), sê die groep. Die detailgeoriënteerde manier waarop hy “grootliks”, volgens Bennie, die styl van hul moderne woonstel raak gevat het, spreek veral hiervan. 

Mila het daarna, in Januarie 2017, in een van die woonstelle in die blok in­getrek. Simoné, wat eersdaags in die nuwe fliek Stroomop te sien is, het twee maande later by Mila ingetrek.

Met haar realistiese uitkyk op die lewe is Simoné ’n tipiese Rachel, vertel die vriende.

En toe kom Melissa, van Getroud met Rugby-faam, en Ansu, van Wonderlus, ook hier woon. Melissa het in April 2017 ingetrek en Ansu in September. 

Dié twee is volgens die groep albei soos Monica (Courteney): Hulle is perfeksionisties, het ’n sterk mening, en albei kan in ’n japtrap opgewonde raak. 

“Ek was deel van die WhatsApp-­groepie nog voor ek hier ingetrek het,” vertel Ansu trots oor dié groep met die naam MiCasaSuCasa, wat vry vertaal Spaans is vir “my huis is jou huis”.

Bennie en Ansu lag alte lekker vir hul vriende. Foto: Onkgopotse Koloti.

“Ons is heeltyd in mekaar se blyplekke; dus pas die naam perfek,” sê Mila.

Toe ons die sewe by hul drie uniek gemeubileerde woonstelle ontmoet, hang ’n aansteeklike opwinding in die lug.

“Kyk, ons het almal spesiaal wit T-hemde aangetrek vir vandag!” roep Mila borrelend uit. Hulle lyk kompleet asof hulle gereedmaak om ’n Friends-episode te verfilm. 

Die onderhoud en fotosessie is immers al drie maande gelede gereël omdat dit so ’n gesukkel was om ’n dag te kry waarop dié klomp gewilde, besige kreatiewe geeste almal op een slag bymekaar kon wees. 

“Ja, almal is nie noodwendig altyd op een slag hier nie, maar wanneer jy by die huis kom, kuier iemand altyd by iemand. Dis nooit doodstil nie,” sê Mila. 

Bennie en Burger se stylvolle sitkamer is gewoonlik die plek waar hulle saam televisie kyk of bordspeletjies speel. 

“Ons kyk mekaar se programme hier,” sê Bennie. Beer skerts: “Ja, dis soos Friends én Melrose Place.” Laasgenoemde was ’n Amerikaanse televisieprogram oor ’n reeks dramatiese gebeure in die lewe van ’n groep jong volwassenes in Los Angeles.

Dit is net wanneer hulle speletjies­aande in dié sitkamer hou dat irritasies wil-wil kop uitsteek. “Dis wanneer die klein jakkalsies uitkom, maar gelukkig is dit nooit te ernstig nie,” sê Mila en hulle lag lekker saam.

Al verskil hul persoonlikhede soos dag en nag, is dié klomp baie geheg aan mekaar. Foto: Onkgopotse Koloti.

Wanneer al sewe van hulle gelyk begin lag en praat, is dit moeilik om by te hou. Die kwinkslae vloei en dis asof ’n golf van jong energie deur die vertrek spoel. 

Bennie, Beer, Mila en Ansu is oënskynlik die ekstroverte, terwyl Simoné, Melissa en Burger dinge fyn waarneem. “Jy moet seker maak jou deur is gesluit wanneer jy die dag alleen wil wees,” sê Ansu, wat soms teruggetrokke kan wees.

Omdat die meeste van hulle vryskutwerk doen, “is die kans goed dat jy soms twaalfuur of vieruur die middag nog in jou nagklere betrap word,” sê Simoné. “Gelukkig is my kamer in die hoek!”

“Melissa en Simoné is die sluipers,” sê Bennie, en Melissa lag sonder om teen te stribbel. Ansu voeg by: “Ja, Melissa sal in die oggend wakker word, dan weet ek sy is in ons huis, maar as ek weer sien, is sy weg.”

‘Wanneer jy by die huis kom, kuier iemand altyd by iemand’

Al terg hulle mekaar oor en weer oor elkeen se unieke gewoontes, skroom hulle nie om ook ernstig te raak nie. “Ek dink ons almal het respek vir mekaar. As een van ons nie lus is om die aand saam met die res te kuier nie, sal ons nie geïrriteerd raak daaroor nie,” sê Ansu.

“Ons kom heeltyd by mekaar uit, maar dis nie noodwendig altyd gehaltetyd nie,” sê Bennie. “Ja, ons moet letterlik ’n braai of ’n kuier reël om regtig by mekaar uit te kom,” sê Ansu.

Hulle sal dan in Mila en Simoné se kombuis kos maak, by Ansu en Melissa eet en daarna verder by Bennie en Burger kuier. 

En watter sjefs in die groep maak die beste kos vir dié kuieraande? “Tussen my en Mila maak ons die lekkerste kos in die groep,” sê Burger, en die res beaam dit. “Ja-nee, as jy jouself benoem, moet dit jy wees,” terg Bennie hom.

Burger is volgens die groep die een wat met “fancy kos” eksperimenteer, terwyl Mila die een is wat lekker “home cooked meals” maak.

Terwyl al drie woonstelle in tipiese, outydse Linden-styl met blokkieshoutvloere uitgelê is, verskil die dekorstyl. Die vroue se twee woonstelle is albei een­voudig-sjiek, met mure vol foto’s en prente in fotorame, veral in Mila en Simoné se plek.

Beer, Mila en Simoné. Die vroue deel ’n woonstel, en Beer, wat met Mila uitgaan, is die gas. Foto: Onkgopotse Koloti.

Ansu en Melissa het ’n lekker ruim kombuisgebied, en dis juis hier waar die klomp meestal saam eet.

Die twee mans se woonstel is volgens die vroue “die mooiste” blyplek. Dramatiese grys mure vorm die volmaakte agtergrond vir ryk en warm teksture en die woonstel is keurig versier met hout, leer en warm kleure.

Om as ’n klomp kreatiewe mense met soortgelyke talente ’n paar vierkante meter te deel is iets wat hulle waardeer. Dit is waar talle van hul projekte ge­bore word, want die klomp beraam gereeld saam planne.

“Ons dink aan idees vir sketse en dit gaan nog gemaak word,” sê Ansu, en Beer voeg by: “Ja, dis lekker om nuwe projekte met mekaar te bespreek.” Hulle gesels ook graag met mekaar oor nuwe rolle en skryfwerk.

’n Groot pluspunt is dat hulle ook hul swaarkrytye in die wisselvallige vermaak­bedryf, wat almal die een of ander tyd aan die bas voel, met mekaar kan deel. “Dis ’n lekker sielkundige omgewing om in te wees,” sê Bennie. “Wanneer jy af is omdat jy dalk nie werk het nie en useless voel, is hier altyd iemand wat verstaan, want nie almal van ons het altyd op dieselfde tyd werk nie.”

Simoné voel hul groep het die idee van hoe die bedryf is op sy kop gekeer. “Wanneer jy nie werk het nie en jy voel jy is die enigste een, moet jy net ’n draai by een van ons kom maak,” sê sy. 

Ansu beaam dit: “Ons is geseën om dit te kan hê. Waar ander akteurs dalk by die huis sit en alleen voel, weet ons ons is nie alleen nie. Ons het altyd mekaar om op te steun.”

Want net soos die karakters in Friends deel dié sewe beste vriende alles met mekaar, van ’n koffiebeker tot ’n boor om skilderye teen die muur op te hang.

Maar wat dié groep anders maak, is dat hulle werklik beste vriende is, selfs wanneer die kameras ophou rol en die ateljeeligte afgeskakel word.