Lindsay Lohan se familie en vriende is besorg oor haar nadat sy onlangs ’n bisarre Instagram Live-­video gedeel het.

Daarin sien jy hoe die Herbie: Fully Loaded-­ster ’n ouerpaar met twee jong seuns in ’n straat in Moskou, Rusland, agtervolg.

“Ek wil julle ’n Siriese vlugtelinggesin wys wat ek ontmoet het en oor wie ek bekommerd is,” sê sy voor sy hulle voorkeer en na haar hotel nooi.

Maar toe die gesin weier, raak Lindsay ál vyandiger en beskuldig die man en vrou van kinder­handel. Tussendeur praat Lindsay in wat na geradbraakte Arabies klink, maar niks maak sin nie.

Dit ontaard in ’n bakleiery toe Lindsay een van die kinders probeer gryp en die vrou, vermoedelik die kind se ma, haar in die gesig slaan.

Pleks daarvan om op die lot van die vlugtelinggesin te fokus, laat die video vrae oor Lindsay se geestesgesondheid ontstaan.

“Die mense na aan Lindsay is al die afgelope jaar bang dat sy nie meer nugter is nie,” sê ’n bron in die binnekring.

“Die streng drankreëls in Doebai, waar sy deesdae woon, bied ’n goeie dekmantel. Maar haar naastes is bekommerd dat sy minder verantwoordelikheid vir haar optrede hoef te aanvaar omdat sy nie meer in Amerika woon nie.”

Twitter reageer




Lindsay en die lang arm van die gereg

Vanaf Januarie tot Februarie 2007 het sy tyd in die Wonderland-rehabilitasiesentrum in Los Angeles deurgebring en van 29 Mei tot 13 Julie in die Promises-rehabilitasiesentrum in Malibu, Kalifornië.

Elf dae nadat sy uit die rehabilitasiesentrum ontslaan is, is sy in Santa Monica, Kalifornië, in hegtenis geneem vir dronkbestuur, die besit van kokaïene en ’n rybewys wat verval het.

Sy het weer by ’n volgende rehabilitasiesentrum ingeklok waarna sy in Augustus ’n opgeskorte vonnis van 36 maande opgelê is, asook ’n 18 maand lange alkohol-opvoedingsprogram, 10 dae gemeenskapsdiens en rehabilitasie by die Cirque Lodge in Utah.

In Maart 2009 is sy daarvan verdink dat sy haar paroolvoorwaardes verbreek het, maar nadat die papierwerk behoorlik nagegaan is, blyk dit ’n oorsig aan die kant van die gereg te wees.

Omdat sy nog nie haar alkoholopvoedingsprogram voltooi het waartoe die hof haar in Augustus 2007 gevonnis het nie, is haar paroolvoorwaardes met ’n jaar verleng sodat sy die program kon voltooi.

Op 20 Mei 2010 het sy nie ’n hofverskyning bygewoon nie omdat sy na bewering haar paspoort by die Cannes-filmfees in Frankryk verloor het. ’n Bevel vir haar inhegtenisneming is uitgereik.

Vier dae later verskyn sy wel in die hof, dié keer op die voorwaarde dat sy lukraak vir alkohol- en dwelmmiddelgebruik getoets kan word en daar word ’n elektroniese monitor om haar enkel geplaas.

Maar Lindsay kon haarself nie langer as twee maande uit die moeilikheid hou nie. Sy is 90 dae tronkstraf opgelê omdat sy haar paroolvoorwaardes verbreek het.

’n Klag van diefstal volg toe sy op 22 Januarie 2011 met ’n duur halsnoer by ’n winkel uitloop. Intussen besluit die winkel om die videomateriaal vir duisende dollars te verkoop. Dit world weldra op Entertainment Tonight vertoon.

Daarna verander 2011 in ’n klimtol-jaar waarin Lindsay feitlik elke maand na en van die howe en met tussenposes die tronk, pendel.

Sake kalmeer effens in 2012 tot waar sy in November na bewering ’n restaurantwerker met haar motor en twee maande later in hegtenis geneem word ná ’n onderonsie in ’n Manhattan-nagklub.

In Maart 2018 word sy genader om die woordvoerder vir die regsfirma Lawyer.com te wees. En die hoop het nie beskaam dat Lindsay, oftewel LiLo, dalk op die regte koers mag kom nie.

Wel, tot die aand van 30 September vanjaar toe sy daardie oorverdowende klap gekry het nadat sy die kind van gewaande mensehandel wou red . . .

Bykomende bronne: cnn.com, eonline.com