’n Twitter-gebruiker Bria Madrid het Vrydag op Twitter ’n foto van haar en die voormalige Gossip Girl-ster Blake Lively (30) gedeel by ’n Spice Girls-konsert.

En lyk sy nie te fraai met haar hoë wighakke nie? Trouens, sy lyk ewe nes Baby Spice, oftewel Emma Bunton.

"Ek het ’n foto gevind van toe ek vyf jaar oud was by my eerste konsert. Ek het ’n foto geneem met ’n meisie wat soos Baby Spice aangetrek is en het nou net besef dis Blake Lively," skryf Bria. Volgens Bria is die foto in 1997 by die Glen Helen-amfiteater in Kalifornië geneem. 

Blake het grapperig daarop gereageer en gesê: "My geheim is uit". 

Maar Blake het nie daar gestop nie. Sy het ook die foto op Instagram geplaas met die onderskrif: "Besig om te maak asof ek iemand anders is... sedert 1997. (Dankie vir die foto van ons by die Spice Girls-konsert. Jammer, nie jammer nie – ek het gemaak asof ek Emma Bunton is".

Dis toe dat Bria uit haar vel spring. Nie net het Blake, wat met die Deadpool-akteur Ryan Reynolds (41) getroud is, haar foto raakgesien nie, maar Emma Bunton (42) het self daarop gereageer, berig Teen Vogue.

"Dis amper onwerklik om te dink dat Blake Lively erkenning gegee het aan die foto, maar ek is ook mal daaroor dat ons dieselfde liefde en obsessie oor die Spice Girls het. En Baby Spice het kommentaar op die foto gelewer. Wat is die lewe?" twiet Bria. 

Volgens Teen Vogue het Emma op Instagram kommentaar gelewer. "Dis so oulik, jy lyk asemrowend met daai poniesterte".

Blake kon natuurlik nie haar geluk glo nie en sê: "Ek kan nie glo jy weet wie ek is nie. Dit sal nooit normaal wees nie."

En Twitter het ook saam gesels:

Het jy ’n foto van jouself en ’n bekende in toeka se tyd?

Ekstra bronne: Teen Vogue, USA Today, Evening Standard