As hy nie 'n ou uithaal wat jou probeer vastrek met 'n piramideskema nie, skeer hy gek met iemand wat foto's van alle hoeke af neem om die ideale selfie in sosiale media te kan deel. Dis alles tong-in-die-kies en aanhangers gons gedurig oor hoe hulle die mense wat hy speels uitbeeld in die video's herken. 

Volgens Arno het die die Facebook-reeks Real Bros of Simi Valley hom geïnspireer om die skreeusnaakse video's te skep. Hy wou gek skeer met realiteitsreekse soos Keeping Up with the Kardashians en daarom het hy die naam Keeping up with Kyle vir sy video's gekies.

“Kyle is nie op iemand spesifiek gegrond nie, maar gaan eerder oor die stereotipiese Engelse ou wat gimnasium, na nagklubs of feeste toe gaan en probeer om cool te wees,” verduidelik Arno aan Huisgenoot.  

View this post on Instagram

Gepaard met ‘n gebalanseerde dieet van mcdonalds en kfc. Breakfast of champions

A post shared by Arno Greeff (@arnogreeff) on

Die akteur, wat ook ’n professionele videograaf en kameraman is, sê hy skiet vir die laaste vier jaar sy eie video's. 

“Ek het ook kamerawerk gedoen vir die kykNET-leefstylprogram Leef Jou Reis en daarom skiet en redigeer ek my video's self.”

Al het hy nooit gedink sy 24 400 Instagram-volgelinge gaan die video's só baie geniet nie, is hy tog bly hy kan mense laat lag, sê Arno. 

“Ek het agtergekom ek het net mooi foto’s op Instagram gedeel en daar is nie veel waarde daarin nie. Omdat ek daarvan hou om mense te laat lag, het ek besluit om snaakse video's op Instagram te deel.”

Die akteur, wat binnekort te sien gaan wees as Braam Malherbe in Huisgenoot en kykNET se tweede fliek, Vergeet my nie, erken dis soms stresvol om die video's te neem. 

“Alhoewel ek ’n grapjas is, verwag mense ’n spesifieke standaard en ’n sekere hoeveelheid video's. Daarom wil jy hulle nie teleurstel nie en probeer ek om altyd aan snaakse idees te dink.”

View this post on Instagram

Instagram model

A post shared by Arno Greeff (@arnogreeff) on

Die akteur was vir die laaste drie maande in Kaapstad om aan ’n nuwe Netflix-reeks Blood and Water te werk. 

Hoewel hy nie in die stadium veel daaroor wil verklap nie, sê Arno dis ’n jeugdrama wat in Kaapstad afspeel en die tweede oorspronklike Netflix-reeks wat uit Suid-Afrika kom. 

Sy Instagram-volgelinge kan beslis ook nog skreeusnaakse video's verwag, laat Arno hoor.