Ontmoet LuLu – of eerder @honnelulu – soos sy op Instagram bekendstaan, die hond wat die akteur Neels van Jaarsveld se hart gesteel het.

“Sy is baie spesiaal,” sê Neels oor sy hondekind. “Op die oomblik is alles wat sy doen oulik. Ek het gedink ek kan lekker slaap, maar LuLu vat die koek!”

Neels van Jaarsveld
Neels en LuLu. Foto: Verskaf

Die veelsydige akteur wat oor die jare bekend geword as die “Met eisj”-man, is deesdae te sien in die kykNET-regsdramareeks Fynskrif waarin hy die rol van die regsman Ben van Wyk vertolk. Hy is ook tans op DStv Box Office in die misdaadfliek Griekwastad te sien saam met onder andere Arnold Vosloo en Rolanda Marais.

LuLu, ’n miniatuur spikkel-worshond, is in Maart gebore. Sy het 'n bietjie meer as ’n week gelede deel van die Van Jaarsveld-huishouding geword.

Neels van Jaarsveld
LuLu in droomland. Foto: Verskaf

Neels sê die naam LuLu beteken "uitstaande voorbeeld van ’n spesifieke soort mense of ding".

Hy vertel LuLu het baie speelgoed en twee bedjies waarin sy kan slaap, maar soms is dit darem net té moeilik om vir haar nee te sê wanneer sy by hom in die bed wil klim.

Neels van Jaarsveld
LuLu tussen die komberse. Foto:Verskaf

“Honde is onvoorwaardelik lief vir jou," sê Neels. "Hulle gee regtig om, maak nie saak wie jy is nie of hoe jy voel nie. Ek dink honde maak mense beter.”