Elf dae gelede, op 10 Oktober, het Erica en haar man, Willem Boshoff, se lewens - na 'n twee jaar lange wag – onherroeplik verander toe hulle 'n pragtige baba dogtertjie ryker geword het. 

“Dit is die ongelooflikste gevoel; ek is hoog van liefde en dis so oorweldigend,” vertel Erica opgewonde in 'n telefoniese onderhoud aan Huisgenoot. 

“Dit voel asof ek onder 'n waterval staan – 'n waterval van liefde.” 

Sy is ons suiwer, helder lig van 'n wonderwerk.

Die aktrise, wat veral bekend is vir haar rolle in Fynskrif, Dwaalster end Erfsondes, het vroeër aan Huisgenoot gesê  sy en Willem (42) het sowat 26 maande geneem om swanger te raak en dat dit 'n moeilike en swaar proses was.

Maar in Februarie 2019 het die paartjie uitgevind dat die ooievaar eindelik by hulle 'n draai gaan maak. 

Klein Stella Kato Boshoff is omstreeks 18:11 gebore en weeg 'n gesonde 3,8 kg. 

Klein Stella Kato Boshoff is omstreeks 18:11 gebor
Klein Stella Kato Boshoff is omstreeks 18:11 gebore en weeg 'n gesonde 3.8kg. Foto: Instagram (@ericawes_)

“Sy is absoluut perfek en gesond. Deur die loop van my swangerskap het mense vir my aanhou sê hoe klein ek dra – maar kyk nou hoe groot is sy,” lag Erica. 

Erica het op haar Instagram-blad geskryf: "Stella Kato (soos die Afrikaners Karoo sê, maar met 'n ‘t’) Boshoff. Stella beteken ‘ster’, Kato beteken ‘suiwer’. Sy is ons suiwer, helder lig van 'n wonderwerk. Ons is heeltemal vernietig deur liefde. Heeltemal vernietig deur genade. Heeltemal vernietig deur uitputting.”

Erica vertel sy het gehoop om normaal geboorte te skenk, maar op die ou einde moes dokters 'n noodkeisersnee doen.

Foto: Instagram (@ericawes_)
Foto: Instagram (@ericawes_)

“Maar dit was steeds die amazingste, wonderlikste ervaring. Die personeel van die hospitaal en my dula (vroedvrou) was engele.”

Nou, 11 dae later as 'n nuwe ma, vertel Erica al die clichés oor swangerskap is heeltemal waar.

“Dit was die wonderlikste ervaring van my lewe, en ook een van die moeilikste goed waardeur ek moes gaan.

Sleep deprivation is real!” spot sy.

Dan vertel Erica hoe Willem deurgaans haar rots is.

Die tweetjies het in Desember 2016 die knoop deurgehaak.

“Willem is ongelooflik. Hy en ek neem beurte met haar (Stella) en hy help my orals waar hy kan.” 

Op haar Instagram-blad het Erica geskryf: “Willem, sonder wie ek nooit die afgelope 10 dae kon maak nie, jy is my kalm, stewige rots, my sagte plek waar ek kan val, my beskermende knor. Ek het jou lief.”

Hoewel Erica se ouderdom dit bietjie moeiliker gemaak het met die swangerskap, sê sy dat sy dankbaar is dat sy op 41 'n ma kan word, en nie op 25 nie. 

Stella beteken ‘ster’, Kato beteken ‘suiwer’. Foto
Stella beteken ‘ster’, Kato beteken ‘suiwer’. Foto: Instagram (@ericawes_)

“Ek dink dit hang af wie jy is. Daar is 25-jarige vrouens wat wonderlike mammas is, maar toe ek 25 was, en selfs in my vroeë dertigs, wou ek net toer en kreatief wees.

"Ek wou nie settle nie. Eers op 35 het ek besef dat ek graag eendag 'n babatjie sal wil hê.

“Nou, op 41, weet ek wie ek is, maar meer belangriker, wie ek nié is nie. En God se timing is ongelooflik. Ek verstaan dit nie, maar dit is perfek.

Ek en Willem moes eers vir twee en 'n halwe jaar saam wees, voor ons die ouers kan wees wat ons vandag vir Stella is.”

Terwyl Erica en Willlem nou hul nuwe rolle as ouers baasraak en moet oorleef met min slaap, wonder mens: het hulle al enige planne om hul gesinnetjie binnekort uit te brei?

Erica lag.

“My gebed, hoop en wens is dat ek en Willem hierdie keer per ongeluk sal swanger word. Dat ek een oggend sal wakker word, besef ek is naar en daarna uitvind ek is swanger.

“Maar vir nou is ek dolverlief op Stella. En ek kan haar net opsoen.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.