Alyssa (47), wat bekend is vir haar rolle in die televisiereeks Charmed en die sitkom Who’s the Boss?, het verklap dat sy in April vanjaar kwaai simptome van covid-19 getoon het. Volgens Daily Mail is daar studies wat toon dat haarverlies ’n gevolg is van die virus. 

By die video skryf Alyssa: “Gedink ek wys vir julle wat #covid-19 aan jou hare doen. Neem dit asseblief ernstig op. #WearADamnMask #LongHauler”. 

Die Hollywood-ster het vroeër vertel dat sy positief getoets het vir covid-19-teenliggame nadat sy drie keer negatief getoets het en sê ook dat dokters haar as ’n “long hauler” beskou. Dis mense wat weke en maande nadat hulle positief getoets het vir die coronavirus, steeds met die simptome van die siekte worstel, volgens CNN. 

Verlede week het Alyssa in ’n uitgebreide boodskap op Instagram haar volgelinge gemaan om versigtig te wees. 

“Dit was ek op 2 April nadat ek twee weke siek was. Ek was nog nooit so siek nie. Alles was seer. Smaakverlies. Dit het gevoel of ’n olifant op my bors sit. Ek kon nie asemhaal nie. Ek kon nie kos binnehou nie," skryf sy.

"Ek het 4 kg in twee weke verloor. Ek was verward. Matige koors. En die hoofpyn was aaklig. Ek het basies elke covid-simptoom gehad. Aan die einde van Maart het ek twee covid-19-toetse gedoen en albei was negatief. Ek het ook ’n covid-teenliggaam-toets gedoen nadat ek 'n bietjie beter gevoel het. Negatief.

"Nadat ek die laaste vier maande met blywende simptome soos duiseligheid, maagabnormaliteite, ongereelde menstruasie, onreëlmatige hartklop, kortasem, geen korttermyngeheue en algemene moegheid saamgeleef het, het ek by ’n laboratorium bloed laat trek vir ’n teenliggaamtoets. Ek het covid-19.

"Ek wil net hê julle moet bewus wees dat ons toetsstelsel nie perfek is nie, en ons ken nie die regte getalle nie. Ek wil ook hê julle moet weet dat hierdie siekte nie ’n fopstorie is nie," skryf die Amerikaanse aktrise.

“Ek het gedink ek gaan dood. Dit het gevoel asof ek besig is om te sterf," vertel Alyssa. Die aktrise en haar man van die afgelope 11 jaar, Dave Bugliari (39), het 'n agtjarige seun, Milo, en vyfjarige dogter, Elizabella.

"Ek gaan my plasma skenk in die hoop dat ek ’n lewe kan red. Kyk mooi na julleself. Was asseblief jul hande, dra ’n masker en handhaaf sosiale distansiëring. Ek wil nie hê enigiemand moet voel soos ek gevoel het nie. Mooi bly. Ek is lief vir julle almal (wel, miskien nie vir die trolle nie. Net die gawe mense),” het sy by ’n foto van haarself met ’n suurstofmasker geskryf. 

Alyssa is een van vele Hollywood-sterre wat al positief vir die coronavirus getoets het. Hieronder is die akteur Idris Elba en die sangeres Pink. Albei het sedertdien herstel daarvan. Die akteurs Tom Hanks en Bryan Cranston van Breaking Bad-faam is twee van die sterre wat sedertdien herstel en bloedplasma geskenk het vir covid-19-navorsing, berig Vulture

Bronne: Daily Mail, CNN, Vulture