Greteli by haar ouers, Newton en Lisl. Foto: Versk
Greteli by haar ouers, Newton en Lisl. Foto: Verskaf

Greteli, wat bekend is vir haar rolle in die kykNET-dramareeks Alles Malan asook Netflix se gewilde Blood & Water, het onlangs op Instagram ’n baie oulike video van haar pa gedeel wat voorberei vir sy eerste dag op ’n filmstel. Greteli skiet tans in die Paarl aan ’n reeks.  

“My pa wou nog altyd ’n ekstra wees. Toe vat ek ’n kans en vra die regisseurs of hy dit kan doen. Hulle was so gaaf om hom ’n kans te gee,” vertel Greteli. 

Newton, wat ’n argitek van beroep is, sê hy het nuwe respek vir akteurs en ander lede van produksiespanne gekry toe hy sien wat alles agter die skerms gebeur. 

“Dit het ’n uur en 30 minute geneem om ’n toneel van drie tot vyf minute te skiet,” verklap hy. 

Pa en dogter geniet die strand. Foto: Verskaf
Pa en dogter geniet die strand. Foto: Verskaf

En hy moes al douvoordag aanmeld om die taak te voltooi. 

“Toe ons daar aankom, het ek die ander ekstras ontmoet en leer ken. Ons het ontbyt gekry wat in so ’n bruin kardoessak verpak was, ’n brêkvis-wrap nogal,” skerts hy. 

“Daarna is ons klere deurgegaan en het hulle besluit wat ons gaan aantrek. Maar vrek, die aantrekhok is warmer as die hel, ’n donker tent sonder ’n stoel of ’n spieël.”

Hy voeg ook by dat hy skoon begin giggel het van opgewondenheid toe hy eindelik vir die eerste toneel gaan aanmeld het. 

Hy en Greteli het ook kans gehad om saam op die kamera te wees. 

“Daar is ’n toneel waar my regte pa aan die een kant van my sit en my storie-pa aan die ander kant. Ons hoop maar mense kyk dit mis,” lag Greteli. 

Al het hy ’n ander vorm van kuns gekies om as loopbaan te volg, vertel Newton sy ma het altyd vir hom gesê hy moet drama gaan swot

“Al het ek nie, is dit seker maar die ander kant van kuns wat ek in my lewe kan geniet terwyl ek nog kan werk.”

Greteli en Newton by kleinsus Elwené. Foto: Verska
Greteli en Newton by kleinsus Elwené. Foto: Verskaf

En hoewel hy nie planne het om daadwerklik weer die akteurshoed op te sit nie, droom hy tog daarvan om deel te wees van “ ’n lekker gesinstorie waarin hulle ’n ekspedisie aanpak en verskeie dinge gebeur, maar wat tog ’n goeie einde het”. Tog staan hy altyd gereed vir ’n onderhoud met ‘Tracey Lee’ (die televisie- en radioaanbieder Tracey Lange), vertel Newton in die video.  

Newton, ma Lisl en kleinsus Elwené is baie trots op Greteli se suksesse in die vermaakwêreld. 

“Haar betrokkenheid in die vermaakwêreld het ons almal verbaas, en ons is baie trots daarop. Haar sukses is te danke aan haar geloof en toewyding. Ons harte is altyd by haar, en sy weet dat ons haar ondersteun in elke rol en karakter wat sy aanpak.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe