Die prinses se jonger suster, Eugenie, het die nuus Donderdag in die sosiale media bekendgemaak en ’n roerende inskrywing bygevoeg.

“Beabea – wow! Ek is so gelukkig vir jou, my liefste groot sus, en Edo. Dit kom reeds ’n lang pad en julle is vir mekaar bedoel,” het prinses Eugenie aan haar ouer suster en toekomstige swaer geskryf. 

Op die foto's is dit veral die knoets van ’n diamanring aan Beatrice se vinger wat opmerkbaar is.

En die paartjie lyk smoorverlief op die pragfoto’s wat deur prinses Eugenie geneem is.

“Ons is baie gelukkig om die nuus van ons onlangse verlowing met julle te kan deel. Ons is albei baie opgewonde om die nuwe hoofstuk van ons lewe aan te pak en kan nie wag om te trou nie. Ons deel soveel van dieselfde belangstellings en waardes en ons weet dit sal ons deur baie jare saam dra: vol liefde en geluk,” het die gelukkige paartjie oor hul verlowing laat hoor.

Beatrice, prins Andrew en Sarah Ferguson, hertogin van York, se dogter is in November verlede jaar die eerste keer saam met haar nuwe liefde gewaar.

Daar was maande gelede reeds sprake dat prinses Beatrice en Edoardo (36) die knoop sal deurhak toe hulle saam ingetrek het by die St. James-paleis, die plek waar die paartjie die meeste van hul tyd deurbring.

By pragtige foto’s wat Edo van homself en die prinses op Instagram gedeel het, skryf hy: “Jy sal nooit alleen wees nie, my lief, my hart is jou huis. Hand aan hand, vandag, môre en vir altyd.” 

Huisgenoot het in Desember berig dat die prinses kort ná Eugenie se troue dié vangs ingekatrol het, en dit terwyl hy glo nog aan Dara Huang, die ma van sy kind, verloof was.

Die 35-jarige eiendomsmagnaat se voorkoms is nes dié van ’n filmster met golwende hare en priemende blou oë – en boonop vloei daar ’n bietjie blou bloed deur sy are. 

Edo, soos sy vriende hom noem, is die seun van graaf Alessandro Mapelli Mozzi, ’n Italiaanse aristokraat en Olimpiese skiër, en die Britse sosiale vlinder Nikki Shale.

Edo is ook ’n multimiljoenêr uit eie reg. Hy het in 2007 die eiendomsmaatskappy Banda gestig, waarvan hy steeds die uitvoerende hoof is. En asof dit nie genoeg is nie, is hy skynbaar ook ’n vrygewige siel.

Aanvanklik is berig dat Edo en Dara, ’n ambisieuse en suksesvolle argitek, ses maande gelede uitmekaar is. Maar volgens The Mail on Sunday was Edo steeds aan Dara verloof en het hulle nog saamgewoon terwyl hy Beatrice die hof gemaak het. 

Prinses Beatrice saam met haar kêrel, Edoardo Mapelli Mozzi – het asemrowend gelyk. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Edo en Dara was drie en ’n half jaar lank verloof,” het ’n vriend aan die Britse koerant gesê. “Selfs nadat sy romanse met Beatrice begin het, het hy steeds saam met Dara en hul kind in die gesinshuis gewoon.”

Volgens ’n bron het Dara in Oktober uit hul woonstel getrek “en die tydsberekening spreek boekdele”. Terwyl Dara weier om oor die drama kommentaar te lewer, is haar ma meer uitgesproke.

Staan die prinses en haar “prins” dalk sommer binnekort voor die kansel? Ons wag in spanning.