“Ek is regtig bederf met ’n man wat goed daarmee is om my te bederf,” vertel Anel aan Huisgenoot. 

Die aktrise het haar 40ste verjaardagpartytjie by The Local Culture restaurant in Lonehill, Sandton, gevier en was omring deur haar naaste familie en vriende. 

“My man en suster Pulane het met die idee vorendag gekom om vir al my vriende te vra om ’n liedjie te stuur wat hulle aan my laat dink. Hulle het ’n speellys en voicenotes bymekaar gesit en vir my gespeel,” vertel Anel. 

Sy het later in ’n Instagram-inskrywing foto’s van haar verjaardagpartytjie gedeel en haar familie en vriende bedank wat die dag vir haar ekstra spesiaal gemaak het.  

“Dankie aan almal wat my dag so spesiaal gemaak het. Op hierdie Dankseggingsdag wil ek my familie en vriende bedank vir hul liefde, geduld en onwrikbare ondersteuning. Dankie dat julle my geliefd en waardeer laat voel, ek hoop dat julle weet dat die gevoel wedersyds is,” lui die inskrywing. 

“Ek en James was baie vinnig in Suid-Afrika gewees. Dit was vir my absoluut heerlik om my verjaardag met my vriende en familie te vier. Ek is opgewonde oor wat die volgende hoofstuk vir my in hou,” laat sy hoor. 

View this post on Instagram

?I have trained him well! #WinningatHusbanding?

A post shared by Anel Alexander (@anelalexander1) on

Volgens Anel was sy en haar man, James (41),  weer terug in die land om aan die fliek Semi-Soet 2 te werk wat vroeg volgende jaar verfilm word. Sy vertolk weer ’n hoofrol en is die vervaardiger van die fliek, terwyl James in ’n mindere mate as vervaardiger betrokke sal wees. 

Die oorspronlike rolverdeling van die rolprent van 2012, waaronder Nico Panagio, Sandra Vaughn en Diaan Lawrenson, keer almal terug vir die opvolgfliek. 

View this post on Instagram

Caption this... @semisoetmovie

A post shared by Anel Alexander (@anelalexander1) on

Die akteurspaar, wat vir die afgelope 16 jaar getroud is, was ook vroeër vanjaar vir vier maande in Suid-Afrika. 

James het toe aan die minireeks Trackers, wat onlangs op M-Net te sien was, gewerk. Die reeks is gebaseer op die misdaadskrywer Deon Meyer se trefferboek Spoor en handel oor georganiseerde misdaad, renosterstropers en smokkelary.

Anel het ook in een episode van die reeks verskyn as die eks van haar man, James, se karakter Lemmer, ’n geheimsinnige eksweermagman.

“Ons is natuurlik baie opgewonde oor hoe goed die reeks gedoen het,” sê Anel oor die reeks wat die Amerikaanse trefferreeks Game of thrones onttroon het as die reeks wat spog met die meeste kykers op M-Net.  

“Ons is nie net gewone akteurs nie, maar ook vervaardigers en kyk daarna met verskillende hoede op. Ek hoop dit wys vir die industrie en verspreidingsplatforms daar buite dat mense honger is vir plaaslike inhoud, maar plaaslike inhoud wat op ’n internasionale standaard produce word.”

Dit was vir die aktrise ook ongelooflik lekker om in die kykNET-dramareeks Tydelik Terminaal te verskyn, wat draai om ’n meisie se kankerstryd.

Sy vertolk die rol van Miranda Malherbe in die reeks met nuwelinge soos Carla Smith en Hendrik Nieuwoudt.

“Omdat ek so lanklaas op ’n stel was, was dit heerlik om op ’n stel te wees wat vir my bekend is.”

“Saam met dit was dit ’n groot bonus om met ’n groep jong en talentvolle akteurs te werk. Hulle het my regtig weggeblaas en dit was vir my groot pret,” sê sy.