Hoewel die skare vol Amerikaners was, het die akteurspaartjie Suid-Afrika se vlag hoog laat wapper. 

“My jonger broer, Wion Flett, en Ralf Schmitt was saam in die Drakensberg Seunskoor en is die afgelope 24 jaar al beste vriende," sê Anel. Ralf is die Ndlovu-koor se befaamde dirigent. "Ek het so oor die jare vir Ralf sien groei as dirigent van verskeie kore."  

“Ek was nog altyd ’n groot aanhanger van sy benadering en vernuwing van wat histories as ’n kooroptrede gesien word. En toe ek hoor Ndlovu kom Los Angeles toe, was ek voor in die koor om hulle te ondersteun,” sê sy trots.

“Meer soos South Africa’s Got Talent!! Ek het vandag die voorreg gehad om die regstreekse vertoning van America’s Got Talent in die legendariese Dolby-teater (waar die Oscars gehou word) by te woon. So trots op Ralf Schmitt dat ek wil bars. Ek ken hom sedert hy ’n klein seuntjie was. Wat hy en die kinders van Ndlovu-jeugkoor bereik het, is niks minder as ongelooflik nie,” het sy in die sosiale media oor die ervaring geskryf.

Die Suid-Afrikaanse koor het op die aand die gehoor met hul weergawe van die rockgroep U2 se Beautiful Day bekoor.

Behalwe om die Suid-Afrikaanse koor in lewende lywe op die Dolby-teater se verhoog te sien was dit ook ’n ongelooflike ervaring om te sien hoe America's Got Talent aanmekaargesit word, sê Anel. 

“Omdat ek en James albei betrokke is by die vervaardiging van produksies, het ons regtig waardering vir die ongelooflike organisering wat dit verg om ’n regstreekse vertoning op daardie skaal aanmekaar te sit.”

Die koor is verlede Desember deur America’s Got Talent genader om vir die talentsoekprogram in te skryf nadat hul musiekvideo van Ed Sheeran se liedjie Shape of You opslae gemaak het.

Met hul oudisie het hulle 'n betowerende vertoning van Vicky Sampson se liedjie African Dream gelewer en die wêreld opnuut aan die gons gehad. 

“Ons wil ons storie vertel en die wêreld aan ons koor voorstel,” het Ralf kort voor die groep vandeesmaand na die VSA teruggekeer het aan Huisgenoot vertel. 

“Dit bly ’n Amerikaanse program en ons moet liedjies uitvoer waarby ’n Amerikaanse gehoor aanklank sal vind,” het hy bygevoeg. 

Hoewel Suid-Afrikaners nie vir hul gunstelingdeelnemers in die talentsoekprogram mag stem nie, het Anel haar 7 300 Instagram-volgelinge – onder wie 'n hele paar Amerikaners is – aangemoedig om te stem sodat die koor na die halfeindronde kan deurdring.

Die akteurspaar, wat sedert September 2016 in Los Angeles woon, het ook onlangs vir vyf maande in Suid-Afrika kom kuier terwyl James aan die M-Net-reeks Trackers gewerk het.

Anel het gedurende hul besoek hier ook nie stilgesit nie. Sy was bedrywig met die beplanning van Semi Soet 2 en het 'n paar stemopnames gedoen. 

Om in die kompetisie te bly en deur te gaan na die halfeindronde het die Suid-Afrikaanse koor genoeg stemme nodig.

Hoewel die uitslae eers Donderdagaand in Suid-Afrika bekendgemaak word, het die groep reeds op Instagram aangekondig hulle is deur na die halfeindronde. 

Trotser kan ons nie wees nie!