’n Suikervrye verjaardagkoek wat hy met sy klein vuiste kon bydam, ’n gebaljaar om die swembad saam met die honde en Zoom-geselsies met sy nefies en niggie in Engeland.

So het klein Archie Harrison Mountbatten-Windsor waarskynlik sy eerste verjaardag deurgebring in die glinsterstad van glansmense waar sy ouers nesgeskop het.

En die res van ons? Wel, ons kon kyk hoe sy ma vir hom ’n storie lees – oftewel probeer lees.

Maar Archie is ’n tipiese eenjarige. Die spruit van moontlik die beroemdste egpaar op aarde is in dié stadium min gepla oor afkoms of etiket.

Al wat vir hom saak maak, is dat hy kan doen wat hy wil – en net omdat miljoene mense op Instagram kyk terwyl Mamma die bladsye van Duck! Rabbit! omblaai, beteken dit nie hy moet luister nie. Of net in dáái boek belangstel nie.

View this post on Instagram

"Duck! Rabbit!" with Meghan, The Duchess of Sussex (and Harry, The Duke of Sussex behind the camera), read to their son Archie for his 1st birthday. Happy Birthday, Archie! . Thank you #DuchessMeghan for helping us to raise urgent funds for our coronavirus appeal by reading "Duck! Rabbit" by @akrfoundation, illustrated by @tlichtenheld (published by @chroniclekidsbooks). . As the world grapples with the coronavirus pandemic, children’s lives are being turned upside down. By donating to Save with Stories, you can support the most vulnerable families in the UK and around the world by helping to provide early learning packs, supermarket vouchers, essential household items and virus protection. . Please donate today by visiting our website. Link in bio. . Or you can text STORIES to 70008 to give a one-off donation of £5. . Together, we can help families get through this. . You can only donate via text from a UK mobile. You’ll be billed £5 plus standard rate text message. We receive 100% of your donation. By texting STORIES you agree to calls about fundraising appeals, campaigns, events and other ways to support. Include NO PHONE to opt out of calls. Queries? 02070126400. Read our Privacy Policy savethechildren.org.uk/privacy The Save the Children Fund is a charity registered in England and Wales (213890) and Scotland (SC039570) . #SaveWithStoriesUK #SaveWithStories #GrowingThroughThis

A post shared by Save The Children UK (@savechildrenuk) on

Ons het sedert sy geboorte nog nie veel van Harry en Meghan, die uitgetrede hertog en hertogin van Sussex, se kleinman gesien nie; daarom is elke glimp van hom ’n bederf.

’n Verjaardagvideo wat die trotse pa geskiet het, het ons sommer heelwat meer van Archie gewys. Aan die einde van die opname beloon hy Harry met iets wat klink soos “da-da”.

Die oulike greep het aanhangers die ooreenkoms tussen Archie en sy pa op dieselfde ouderdom laat opmerk.

“Sjoe, hy is Harry se tweeling! Koning Archie swaai die septer!” sê een. “Die seun is Harry se ewebeeld,” merk nog een op. En hulle is reg – in dié stadium is daar nie veel van Meghan in die seuntjie nie.

Harry as baba
: Aanhangers kan nie uitgepraat raak oor die ooreenkomste tussen Archie, wat glo allesbehalwe skaam is, en sy pa, prins Harry, nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die vorm van sy gesig, die ondeunde oë, die rooi in sy hare – Archie is sy pa uitgeknip. Die baba wriemel en giggel tydens die verjaardagstorietyd saam met sy ma en gryp op ’n kol ’n ander boek vir Meghan om te lees.

“Ons sal daardie een later lees,” sê sy liefdevol vir hom. Die laaste keer dat koninklike waarnemers die kleinding gesien het, was op Oujaarsaand toe sy ouers ’n foto van hom in Harry se arms gedeel het terwyl hulle in Kanada was.

Toe weer niks, tot die groot verjaardagverskyning wat Meghan en Harry gebruik het om die aandag op ’n goeie saak te vestig deur die veldtogte @SaveWithStories en @SaveChildren te ondersteun.

Albei projekte is ten bate van kinders wat deur die coronaviruspandemie geraak word en samel skenkings in om kos en opvoedingshulpmiddels te verskaf.

Die SaveWithStories-projek is die geesteskind van die aktrises Amy Adams en Jennifer Garner, ’n vriendin van Meghan. Op die webtuiste lees baie van Hollywood se grootste sterre bekende kinderboeke voor, dikwels saam met hul eie kinders. “Meghan het Archie se verjaardag gebruik as ’n geleentheid om die saak te steun,” sê ’n bron.

“Kinderliefdadigheidsorganisasies lê haar baie na aan die hart.”

Archie is ’n spontane outjie wat “daarvan hou om vermaak te word, en hy is lief vir mense en geselskap”, sê ’n bron.

“Party kinders raak skaam en senuagtig tussen nuwe mense, maar nie Archie nie. Hy gaan na enigiemand toe sonder om ’n bohaai op te skop. Hy is op sy gelukkigste wanneer hy tussen mense is.”

Maar die arme Archie is ingeperk, nes die res van die wêreld, en sy ma moes haar oorspronklike verjaardagplanne vir haar baba se eerste verjaardag kanselleer.

Sy was glo slaggereed om ’n klein makietie met glansgaste te hou, maar die gesin moes noodgedwonge ’n stil viering by die huis hou.

Tog is daar erger plekke om ingehok te wees. Die gesin bly nou in ’n reusagtige villa van R333 miljoen in ’n eksklusiewe woonbuurt van Los Angeles.

Die huis is in die Toskaanse styl gebou en daar is 12 badkamers, agt slaapkamers, ’n skitterblink swembad en ’n tamaai werf.

Die villa behoort aan Tyler Perry, die 50-jarige akteur, skrywer, regisseur en komediant wat die rolprentkarakter Madea geskep het.

Die tydskrif Forbes het hom destyds as die besbetaalde man in die vermaakbedryf van Mei 2010 tot Mei 2011 aangewys.

Die Hollywood-grootkop het daardie jaar $130 miljoen verdien en is nou na raming $600 miljoen (R11,1 miljard) werd.

huis
Die huis in Beverly Hills waarin die paartjie tans woon, word besit deur die Hollywood-megaster Tyler Perry (REGS) wat glo aan hulle voorgestel is deur hul gemeenskaplike vriendin Oprah Winfrey. Foto's: X17-online/Magazine Features en Gallo Images/Getty Images

Harry en Meghan is glo deur hul gemeenskaplike vriendin Oprah Winfrey aan Tyler voorgestel. En die drie het duidelik genoeg by mekaar aanklank gevind dat hy sy huis aangebied het as basis terwyl hulle ’n huis van hul eie in Los Angeles soek.

Hy het die Sussexe blykbaar ook in sy privaat straler van R2,7 miljard van Kanada na Kalifornië laat vlieg kort voor die grense weens die coronaviruspandemie gesluit is.

“Dit was ’n goed beplande operasie wat oënskynlik perfek gewerk het, want die egpaar het nie nodig gehad om by doeane in ’n tou te wag nie,” vertel ’n bron aan The Sun.

Tyler se weelderige wegkruipplek is op ses hektaar in die streng bewaakte gemeenskap Beverly Ridge Estates geleë. Instandhoudingspersoneel en ’n privaat sjef en kinderoppasser is aan diens.

Onder die bure is mense soos Samuel L. Jackson, Katy Perry en Cameron Diaz. Dis onduidelik of Harry en Meghan huur betaal of as gaste van Tyler tuisgaan, maar almal in die buurt is blykbaar nie so in hul noppies met die aandag wat die nuwe inwoners lok nie. Helikopters hang glo bo die eiendom en hommeltuie is ook al waargeneem.

“Die plek is bekend vir sy uiterste eksklusiwiteit,” grom ’n inwoner.

“Mense wat hier woon, is baie ryk, maar baie privaat. Die aandag is nie welkom nie.”

Maar Tyler is ’n bewonderaar van die egpaar en wou hulle graag met hul oorgang na hul nuwe lewe help. Hy het ook al in die verlede sy medelye met Meghan uitgespreek.

In ’n gesprek in Januarie met die webtuiste Level noem Tyler die hertogin se opspraakwekkende onderhoud met die Britse joernalis Tom Bradby ná die Sussexe se Suid-Afrikaanse toer; sy het daarin die druk van die lewe in ’n glaskas betreur.

“Onthou toe Meghan Markle daardie onderhoud toegestaan het?” vra hy. “Sy het gesê: ‘Dankie dat jy my vra of ek oukei is. Want niemand vra my dit ooit nie.’

“Ek het haar jammer gekry toe sy dit sê. Mense vra sommer net: ‘Hoe gaan dit met jou?’ Maar nie baie mense bedoel dit regtig nie.”

Harry, Meghan, Archie, Guy die beagle en Oz die labrador is waarskynlik die enigste inwoners benewens personeel wat nou in die groot huis tuisgaan. Tyler se hoofbasis is in Atlanta, waar hy Tyler Perry Studios bestuur en saam met sy lewensmaat, Gelila Bekele (33), en hul vyfjarige seun, Aman, woon.

In die afwesigheid van huismaats en vriende wat inloer, het die honde die Sussexe se redding geword, sê die koninklike kenner Katie Nicholl.

“En sonder speelafsprake in die dagboek dink ek hulle is op die oomblik ook Archie se beste maats,” voeg sy by. Maar wat presies het die verjaardagseun op sy groot dag gedoen? Eers is op Zoom gesels en toe was daar ’n morsige koekbrekery.

“ ’n Smash cake is ’n groot Amerikaanse tradisie vir die eerste verjaardag,” verduidelik Brittani Barger, adjunkredakteur van die nuuswebtuiste Royal Central wat op nuus oor die koninklikes fokus.

“Die baba kry sy of haar eie klein koek waarby hulle letterlik met hul hande kan induik.” Brittani meen Meghan se ma, Doria Ragland (63), wat in Los Angeles woon, het moontlik gaan kuier.

“As dit net hulle vier was, sou hulle sosiale afstand kon behou. Maar Doria is in die hoërisiko-ouderdom.”

Gloria Ragland
Meghan se ma, Doria Ragland, is onlangs in Los Angeles afgeneem toe sy gaan draf het. Foto: TheImageDirect/Magazine Features

Volgens Katie sou Archie se nefies en niggie, prins George (6), prinses Charlotte (5) en die tweejarige prins Louis, hom waarskynlik oor Zoom gelukgewens het.

“Hulle het hul klein nefie maande laas gesien en het daarna uitgesien om te sien hoe groot hy geword het,” sê sy. Hulle het nog skaars tyd saam deurgebring met dié dat Archie net sewe maande in Brittanje was voor hy na Kanada weggevoer is toe sy ouers hul koninklike rolle laat vaar het.

Die nefies en niggie is trouens nog net een keer in die openbaar saam afgeneem – by ’n pologeleentheid vir liefdadigheid in Julie verlede jaar. Die Australiese koninklike kenner Angela Mollard sê die kweek van ’n hegte verhouding tussen die nefies en niggie is “nie noodwendig so belangrik” vir Meghan as vir haar skoonsuster, Kate, nie.

“Dis nie haar agtergrond nie. Sy het nie daardie ervaring van ’n warboel sibbes wat oor mekaar val nie.

“Dis ’n jammerte, veral aangesien Archie en Louis byna ewe oud is – dit kon ’n lewenslange vriendskap gewees het, maar hy word dit ontneem weens die onenigheid tussen Harry en William. Jy sou hoop hulle sou langertermyn dink.”

Tog is verskille opsygeskuif en het verjaardaghuldeblyke van die koninklike familie in die sosiale media ingestroom. Die Cambridges het op hul Instagram-blad, @KensingtonRoyal, ’n foto van Archie se doop verlede jaar gedeel met die byskrif “Wens Archie ’n baie gelukkige eerste verjaardag vandag toe!” en ’n rooi ballon-emoji daarby.

Op koningin Elizabeth se amptelike Instagramrekening is ’n kiekie geplaas waarop Haar Majesteit die pasgebore Archie by die Windsorkasteel ontmoet. “Gelukkige verjaardag aan Archie Mountbatten-Windsor wat vandag sy eerste verjaardag vier! Archie is die koningin se agtste agterkleinkind,” lui die byskrif.

View this post on Instagram

Wishing Archie a very happy first birthday today! ??

A post shared by Kensington Palace (@kensingtonroyal) on

Prins Charles het ’n swart-wit kiekie van sy kleinseun se doop geplaas. “ ’n Baie gelukkige verjaardag aan Archie, wat vandag een word,” lui die plasing.

Katie sê dit is onwaarskynlik dat Archie met geskenke oorlaai is, want “hy het alles wat hy nodig het. Sy ouers bestee nie groot bedrae geld aan speelgoed en klere nie.

Geskenke vir sy nuwe kinderkamer sal welkom wees, maar hulle waardeer ook geskenke wat betekenis eerder as materiële waarde inhou, soos ’n skenking aan ’n kinderwelsyn of ’n borgskap vir ’n dier in die natuur.”

Daar was berigte dat die koningin vir hom ’n houthobbelperd gekoop het, maar Katie sê dis “nie eintlik haar styl nie – sy is geneig om eenvoudige geskenke te gee”.

Maar Oprah het vermoedelik vir Archie ’n reuseversameling kinderboeke gegee, onder meer die Duck! Rabbit!-verhaal wat Meghan in die video lees.

En noudat Archie amper ’n kleuter is, wonder mense reeds oor ’n boetie of sussie. Die egpaar het al laat val hulle wil graag ’n tweede kind hê, en ’n vriendin van Meghan het onlangs verklap die aktrise het gespot Archie “het ’n klein maatjie bo en behalwe die honde nodig” en hy “is ’n bondel energie en verkies om eerder te speel as om te slaap”.

“ ’n Boetie of sussie vir Archie is beslis op die agenda,” sê Katie. “Hulle het nou baie hooi op hul vurk terwyl hulle ’n permanente blyplek soek, regmaak om hul liefdadigheidsorganisasie bekend te stel en hul voete in ’n nuwe stad te vind.

“Maar dit lyk of hulle dit geniet om besig te wees, en dit sal my regtig nie verbaas as ons ’n swangerskapsaankondiging kry nie.”

Dit lyk asof dié jaar vir die Sussexe in talle opsigte ’n veelbewoë een is. ’n Nieamptelike biografie, Finding Freedom: Harry and Meghan and the Making of a Modern Royal Family, sal glo in Augustus op die rakke wees.

Die boek, geskryf deur Harper’s Bazaar se koninklike redakteur, Omid Scobie, en die tydskrif Elle se koninklike korrespondent, Carolyn Durand, is simpatiek jeens die egpaar en beloof om “die ware Harry en Meghan uit te beeld” en “die waarheid oor wanvoorgestelde stories te vertel”.

Die boek is reeds vir voorafbestelling beskikbaar en mense in die binnekring sê Harry en Meghan is opgewonde oor die bekendstelling daarvan. Die paartjie kry ook ’n televisierolprent op die kanaal Lifetime TV.

Die film Harry & Meghan: Escaping the Palace gaan die gebeure uitbeeld rondom die hertog en hertogin se besluit om as senior koninklikes uit die kollig te tree.

Maar intussen woed ’n ander stryd voort. Meghan dagvaar die uitgewer Associated Newspapers vir inbreuk op privaatheid en kopieregskending oor ’n reeks artikels in The Mail on Sunday.

Hofdokumente konsentreer op die publikasie in 2019 van dele van ’n “privaat en intieme” brief wat sy destyds aan haar vervreemde pa, Thomas Markle, geskryf het. Maar in ’n slag vir die voormalige Suits-aktrise het sy onlangs die eerste ronde van haar saak verloor.

In ’n voorverhoor verlede maand, wat oor ’n afstand uit die hooggeregshof in Londen gevoer is, het regter Mark Warby dele van haar hofsaak uitgegooi, onder meer die bewering dat die koerantuitgewer “oneerlik” opgetree het deur net sekere dele van die brief aan te haal.

Hy het ook die bewering verwerp dat Associated Newspapers opsetlik ’n vete tussen haar en haar pa “aangeblaas het” en ’n agenda gehad het om beledigende stories oor haar te publiseer. Mark Stephens, ’n voorste Britse prokureur, noem in die Daily Mail die nederlaag ’n “vernedering” en “ ’n volslae ramp.”

“Die beste raad aan haar sal wees om te skik en weg te stap,” voeg hy by. “As dit verhoor toe gaan, sal die getuienis van haar en haar pa oor die brief en hul skeuring onder eed ondersoek word. As sy persoonlik verneder gaan word, sal daar geen erger uiteinde vir haar wees nie.”

Terwyl die hofsaak voortsleep, hou Meghan en Harry hulle met hul hoofstuk ná die koninklike lewe besig. Hul jongste toevoeging tot hul nuwe span bestuurders en agente is die uiters ervare en professionele Rebecca Mostow.

Dié 70-jarige raakvatter, wat voorheen ’n assistent vir David en Victoria Beckham en die sangers Seal en Prince was, is deur die Sussexe aangestel om hul dag-tot-dag-lewe in Beverly Hills te bestuur.

“Rebecca is uiters diskreet,” sê ’n bron aan The Sun. “Sy is pligsgetrou en professioneel en is al dekades lank tussen hoës en bekendes. “Sy is presies wat Harry en Meghan gesoek het en word sterk aanbeveel.”

Sy het ook heelwat ervaring met kinders, wat ’n groot pluspunt vir Harry en Meghan is. “Archie sal altyd hul no.1-prioriteit wees,” sê ’n bron na aan die egpaar. “Solank hy gelukkig is, is hulle ook.”

Bronne: dailymail.co.uk, people.com, dailystar, express.co.uk, newcastleherald.com.au, tatler.com, thesun.co.uk, townandcountrymag.com