Al is sy vasbeslote en gefokus om die Mej. Heelal-kroon huis toe te bring, lyk dit of Tamaryn Green groot pret het in Thailand.

Die pragtige Mej. Suid-Afrika het foto’s gedeel van waar sy tans die land besoek as deel van haar deelname aan die kompetisie. Die deelnemers het onder meer die Groot Paleis in Bangkok besoek. Sy het ook op die waters van Pattaya gevaar, 'n plek wat vir sy warm waters en wit strande bekend is.

Tamaryn het die groep skoonhede se besoek aan die Phyathai 2 Internasionale Hospitaal as ’n spesiale ervaring beskryf. Hulle is deur die hospitaalraad en -personeel ontvang. 

“As ’n mediese student is ek altyd verwonder deur mense wat hulself daaraan toewy om ander gesond te maak en dié spesialiste is geen uitsondering nie. As ’n toekomstige pediater kyk ek op na hulle en almal wat onverpoos werk om seker te maak dat ons volgende generasie gesondheid en  welstand ervaar.”

Tamaryn is ’n mediese student aan die Universiteit Stellenbosch en het haar studie onderbreek toe sy Mej. Suid-Afrika word.

“Dis ’n oomblik waarvoor ek my lewe lank gewag het,” het die donkerkop kort voor haar vertrek na Thailand gesê. “Mense dink dikwels die kompetisie gaan net oor wat jy dra en oor jou hare en grimering, maar dit verg heelwat geestelike, emosionele en fisieke voorbereiding. Ek oefen en eet gesond.”

Die kroning vind op 17 Desember plaas.