Dié skoonheid het op 21 in 1990 die asems weggeslaan toe sy gekroon is as mej. Suid-Afrika en 29 jaar later – op 50 – doen sy dit steeds.

Suzette het hierdie groot mylpaal met ope arms verwelkom en vier sedert verlede Donderdag fees saam met haar naaste vriende en familie.

En vandag vier sy en haar verloofde, Mark Weston (54), hierdie spesiale dag op die wit strande van Mosambiek.

Suzette van der Merwe is mooier as ooit
Suzette en haar verloofde van die afgelope 3 jaar, Mark Weston. Foto: Verskaf.

"Ons eet sedert Donderdag net koek,” het Suzette vanaf die prentjiemooi eiland Azura Benguerra vertel.

“My beste vriendinne het my verras met 'n ontbyt en Tamaryn was ook daar.”

Tamaryn Green is in 2018 as Mej. Suid-Afrika gekroon en was die naaswenner in die mej. Heelal-kompetisie.

Die volgende aand het Suzette saam met 20 van haar intieme vriende en familie gespandeer. Haar twee kinders, Graydon (19) en Skye (17), sowel as haar ouers, suster en 90-jarige ouma het saam partytjie gehou.

“Ons het op die nat gras in die reën op Afrikaanse musiek gedans met sparkles,” sê sy.

Suzette van der Merwe is mooier as ooit
Suzette saam met haar twee kinders, Graydon en Skye. Foto: Verskaf.

Saterdagoggend het sy en Mark na Mosambiek se blou see en wit strande gevlieg vir drie aande.

“Ons het vanoggend 06:00 sjampanje op die strand gedrink. Die son skyn vandag en die see is die mooiste turkoois kleur.”

Suzette is al van vroegdag oorval deur oproepe. Talle bekendes het haar ook in die sosiale media gelukgewens.

“Op 50 is ek so dankbaar. Ek het soveel seëninge waarvan die grootste familie en goeie gesondheid is. En ook 'n man wat my bederf en vir wie ek elke dag net liewer word.”

Op 50 lyk Suzette steeds beeldskoon en dit is duidelik dat sy die ouderdom vorentoe nog baie goed gaan dra.

“My vel lyk amazing. Ek is ook nie meer 'n size 32 of 34 nie, maar 'n 36. Maar ek het nog nooit mooier in my eie vel gevoel nie,” sê sy.

Verjaarsdagkoek
Die voormalige Mej. Suid-Afrika het beslis haar verjaarsdag met 'n stuk koek gevier. Foto: Verskaf.

Die een lewensles wat Suzette op 50 geleer het is dat die lewe kort is.

“Ek is dankbaar vir die kanse wat ek al gewaag en gevat het. Ek het baie foute gemaak, maar ek is bly ek het stories om my kinders en kleinkinders eendag te vertel.

Wyshede, lag- en traanstories. Soos die gesegde lui: You don’t regret what you did, you regret the things you didn’t do.”