Die gevoel van afgematheid het nie hierdie bekendes verhoed om solank in die Kersgees te kom en hul Kersbome te begin opslaan nie. 

JP Duminy

Die voormalige krieketspeler se vrou, Sue, het op Instagram ’n foto gedeel van hul gesin se versierde Kersboom.

“Dit het 554 foto’s geneem om almal te kry om op dieselfde tyd vir die kamera te kyk. Maar ons het dit (soort van) gedoen,” het die sakevrou by die foto geskryf waarop sy, JP en hul dogters, Isabella (5) en Alexa-Rose (2), in eenderse nagklere pryk. 

Gerhard Steyn

Die sanger het vanjaar die Kersboomversiering aan sy vrou, Zelri, en hul dogters, Zardi (3) en Zaniq (1), oorgelaat.

“Gou by die huis gestop tussen afsprake en kom toe op die prentjie af . . . My Steyn-girls besig om ons Kersboom op te slaan," skryf Gerhard op Instagram by 'n foto van sy vrou en kinders wat hul Kersboom versier. "So ietwat bewoë geraak, moes ’n traantjie sluk. Dit was ’n lang, tawwe jaar vir ons almal, maar om my gesin saam te sien lag en om die Kersboom trippel, herinner my aan hoop, liefde en God se genade.

"Dankie, Here, dat U ons help om elke Goliat te verslaan en elke ketting te breek wat ons probeer vasbind. U alleen is God!” het die sanger op Instagram laat hoor.


Diaan Lawrenson 

Nes Gerhard het Diaan vanjaar die taak van die Kersboom versier aan haar en haar man, die akteur Jody Abrahams, se kinders, Olivia (9) en Thomas (7), oorgelaat. 

“Dis op! Kinders het vanjaar die boom versier. Ná ’n moeilike week het hierdie my dag gemaak,” het die aktrise by ’n Insta-foto van hul Kersboom geskryf. 

Gareth Cliff

Die omroeper se hond, Carl, deel vanjaar in die Kersvreugde. 

“Carl het sy eie, kleiner Kersboom in die studeerkamer hierdie jaar. Carl gee nie om nie. Carl slaap,” het Gareth by ’n foto van ’n salig slapende Carl geskryf. 

Marisa Drummond 

Die aktrise en regisseur het nostalgies geraak op Instagram oor Kersfees uit haar kinderdae. 

“Spaar vir jou ’n glas melk, Kersvader. Wanneer jy by die trap afkom, wag dit vir jou. ’n Warm gloed van lig en herinnerings aan kindertyd,” het Marisa op Instagram geskryf. 

Anel Alexander

Dit is dalk nie hul eie boom nie, maar die akteurspaar Anel en James Alexander het so 'n bietjie Kersfeesgees gevang in hul aangenome tuiste, Los Angeles. 

“Dit begin baie soos Kersfees voel. Ek is mal oor hierdie tyd van die jaar in LA. Kersliggies maak alles beter. #CoronaChristmas,” het die Inconceivable-ster Anel geskryf by ’n foto van haar en James by ’n reuseboom. 

Anel het onlangs ná "234 dae" eindelik teruggekeer na Los Angeles, haar en James se tuiste van die afgelope vier jaar. Anel het in Maart vanjaar na Suid-Afrika teruggekeer om aan die dramareeks Inconceivable te skiet. Weens die covid-19-pandemie en die inperking wat daarop gevolg het, moes hulle hul tyd in Suid-Afrika verleng.

"Ek het begin Maart in die land aangekom en my vlug terug Los Angeles toe was reeds bespreek vir 25 Mei. Toe word die inperking op 27 Maart aangekondig en James was in daardie stadium in Los Angeles," het sy onlangs aan Huisgenoot vertel. "Ons was drie maande apart voor hy 'n repatriasievlug na Suid-Afirka kon kry."

Anel kon onlangs ná "234 dae" weg van haar huis in Amerika terugkeer.