Dit was vyf luilekker dae toe die aktrise Bertha le Roux-Wahl en haar man, Karel Wahl, onlangs op die prentjiemooi strande van die Maledive-eilande ontspan het.

“Die tyd het toevallig met ons 16de huweliksherdenking saamgeval, toe vier ons dit daar,” vertel Bertha. “Ons is heerlik met goeie geselskap en fantastiese kos bederf. Om in die glashelder water te snorkel was nog ’n hoogtepunt; die visse is volop en kleurryk,” vertel sy.

Foto: Verskaf.

Terwyl hulle die blaaskans saam met ’n groep vriende geniet het, het haar ma, Griet, hul twee dogters, Kiana (11) en Brioné (8), by die huis opgepas.

Die Binnelanders-akteur Hykie Berg was een van die vriende wat saam met hulle op die eiland gekuier het. “Ons het lekker uitgerus, die eiland verken en saam met goeie geselskap ontspan,” sê Bertha.

Foto: Verskaf.

“Dit het my ook kans gegee om saam met God tyd deur te bring, veral tydens die sonsondergange. Ons is uiters dankbaar.”

Al was die voormalige Mej. Suid-Afrika en Wie’s Jou Poppie?-aanbieder, Melinda Bam, en haar man, die sakeman Adriaan Bergh, al op meer oorsese reise as wat die meeste mense in ’n leeftyd sal ervaar, staan hul wittebrood in die Maledive steeds vir hulle uit as een van hul gunstelingvakansies saam.

Hulle het ook verlede jaar Adriaan se 30ste verjaardag daar gaan vier en nou weer in dieselfde tyd as Bertha-hulle daar gaan ontspan.

Melinda het haar sexy lyf byna daagliks in ’n ander swembroek gewys. Toe een aanhanger op Instagram vra hoeveel baaikostuums sy vir hul wegbreek van 10 dae ingepak het, het Melinda erken: “Te veel; wie het klere nodig op dié plek?”

Die blondekopsanger Bobby van Jaarsveld en sy gesin het ook ’n maand gelede in die Maledive gaan vakansie hou. Hy was, soms saam met sy pienk flamink, soos ’n vis in die water terwyl hy gesnorkel, geski en geswem het.