MARCIEL HOPKINS 

Marciel Hopkins. Foto: Ricardo Lategan
Marciel Hopkins. Foto: Ricardo Lategan

Die Boer soek ’n vrou-aanbieder is mal daaroor om naby die see te bly. Dié Kapenaar en haar verloofde, Handrè Lourens, geniet dit om naweke op Kampsbaai, Clifton of Muizenberg se strande uit te span. 

“Ons loer gewoonlik waar die weer die mooiste is,” sê Marciel. 

“Ons lê en lees en sonbaai graag.”

Met dié dat die inperkingsreëls verslap is, geniet sy ook die buitelewe meer. “Dis heerlik om vryheid van beweging te hê. Ek het op ’n plaas grootgeword en het nog altyd gehou van die buitelewe en om in die natuur asem te skep.”

ZOË BROWN  

Zoë Brown. Foto: Verskaf
Zoë Brown. Foto: Verskaf

“Die strand is vir my baie terapeuties en ek verkies dit om met ’n boek langs die see te ontspan,” vertel dié radio- en TV-vrou. 

“Kaapstad se water is heeltemal te koud vir my,” skerts die Trap! Dis my huis-aanbieder. 

Zoë het ook onlangs die tweede keer sedert die inperkingsreëls verslap is, gaan kajak roei. 

“Ek hou daarvan om te kajak! Ons het dolfyne en ’n rob gesien.” 

JANEZ VERMEIREN

Janez Vermeiren. Foto: Instagram (@janez_vermeiren
Janez Vermeiren. Foto: Instagram (@janez_vermeiren)

Die voormalige Top Billing-aanbieder en sy gesin het vroeër vanjaar Johannesburg vir hul ou tuisstad, Kaapstad, verruil. “Ons hou daarvan om naby die strand te woon, want dit is die beste speelplek vir ons kleintjies, ” sê Janez.

Hy en sy modelvrou, Juliana, het twee seuns, Vincent (6) en Noah (4). 

“Vincent is veral versot op die water en vang al die golwe op sy lyfplank.” 

Janez en sy oudste seun, Matisse (16), uit ’n vorige verhouding, het onlangs begin vryduik.

“Ons vat ook gereeld ons nuwe hond, Bella, vir haar daaglikse stappie op die strand.”

Janez en vroulief Juliana. Foto: Instagram (@janez
Janez en vroulief Juliana. Foto: Instagram (@janez_vermeiren)

“Vir my gaan dit als oor aksie en avontuur, terwyl my vrou vir ure kan sonbaai terwyl sy ’n boek lees,” vertel hy. 

LIESL LAURIE

Liesl Laurie. Foto: Instagram (@liesllaurie)
Liesl Laurie. Foto: Instagram (@liesllaurie)
 

Bikini. Tiek. Groot hoed. Tiek. 

“Die lewe wat ek verdien,” het die voormalige Mej. Suid-Afrika Liesl Laurie by dié smeulende Insta-kiekie van haar op ’n Durbanse strand geskryf. 

TRACY McGREGOR 

Tracy McGregor. Foto: Verskaf
Tracy McGregor. Foto: Verskaf

Dié model geniet dit om soggens saam met haar sewe maande oue seuntjie op die Seepunt-promenade in Kaapstad te gaan stap. 

“Ek is mal oor die reuk van die oseaan en dit voel vir my asof die lug hier varser is,” sê Tracy. Natuurlik kan sy nie strand toe gaan sonder om aan ’n draairoomys te smul nie. 

“Die sjokoladegeur is my gunsteling.” 

SUE DUMINY 

Sue Duminy. Foto: Verskaf
Sue Duminy. Foto: Verskaf

Sue, ’n model en sakevrou, en haar man, die krieketheld JP Duminy, geniet dit om na die sonsondergang te gaan kyk of hul dogtertjies, Isabella (5) en Alexa- Rose (2), ná skool te vat om op die strand te baljaar.

Sue en haar skattige dogters, Isabella en Alexa-Ro
Sue en haar skattige dogters, Isabella en Alexa-Rose. Foto: Verskaf

“Ons geniet dit om langs die see te ontspan en swem. Ons dogtertjies is altyd baie opgewonde om see toe te gaan.”  

RYLE DE MORNY 

Ryle de Morny. Foto: Instagram (@natureboy)
Ryle de Morny. Foto: Instagram (@natureboy)

Dié Expresso-aanbieder is nie skaam om lyf te wys nie. En hoe anders. Hy is immers ’n wêreldkampioen-lewensredder.

Ryle, wat in die Netflix-reeks Blood & Water was, deel gereeld foto’s van hom in die sosiale media waar hy by die see met sy blokkiesmaag poseer. 

RICKY SCHROEDER 

Ricky Schroeder. Foto: Verskaf
Ricky Schroeder. Foto: Verskaf

Die voormalige Goue Leeus-rugbyspeler, wat deesdae op die kassie te sien is in die geselsprogram Tussen ons, sê hy geniet die rustigheid en vrede van by die see bly. 

Ricky gaan draf minstens twee keer per week op die Seepunt-promenade of Biskop-trappe in Kampsbaai.

“Dis altyd lekker as ek gaan draf om so klein bietjie nabetraging te doen. Dis lekker stil en ek het tyd vir myself,” sê Ricky. 

Nou dat almal meer vrylik kan beweeg na die verslapping van die inperkingsreëls, is dit ook vir hom ’n groot vreugde om die buitelug te kan geniet. 

“Dis asof 'n mens na die inperking meer vars lug kan inasem. Dit was omtrent ’n uitdaging om net in my tuin rond te hardloop.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.