Die 32-jarige Blitsbok se spanmaats, familie en vriende was omtrent in die wolke toe hy Donderdag die eerste foto van hul babadogtertjie in die sosiale media deel.

In die kiekie staan Kyle langs sy vrou, Tarryn, se hospitaalbed terwyl hul babadogter knus in haar arms lê en hul eersteling, Ethan, wat langs sy ma op die bed sit, vir die kamera wuif. "@tarryn_brown en ek en Ethan is ongelooflik bly om klein Olivia Brown aan die wêreld bekend te stel. Sy is pragtig op elke enkele manier," skryf Kyle by die foto wat hy met sy 15 200 Instagram-volgelinge gedeel het. 

Kyle en Olivia
Die paartjie is gaande oor hul nuweling. Foto: Instagram/@Kylebrown

Gelukwensings het ingestroom van bekendes soos Kyle se Blitsbok-spanmaat Seabelo Senatla, die Southern Kings-losskakel Kurt Coleman, die voormalige Proteas-kaptein Graeme Smith en Rachel Kolisi, die vrou van die Springbok en Stormers-kaptein Siya Kolisi.

"Sy was presies betyds op Woensdag 3 April om 07:36!" vertel die trotse pa aan Huisgenoot.

Die egpaar, wat tans op Stellenbosch woon, se babadogter is by die Mediclinic Panorama in Kaapstad deur middel van ’n keisersnee in die lewe gebring en het 3,14 kg by geboorte geweeg. "Tarryn is waarlik die ongelooflikste en sterkste vrou wat ek al ooit ontmoet het," sê hy oor sy vrou van die afgelope drie jaar en met wie hy 13 jaar gelede begin uitgaan het. 

Danksy haar ginekoloog was die geboorte van albei haar kinders 'n goeie ervaring en sonder komplikasies, vertel Tarryn, wat goed aansterk ná klein Olivia se geboorte.

Kyle, die voormalige kaptein van Suid-Afrika se sewesspan, die Blitsbokke, en Tarryn het in 2016 afgehaak. Hul eersteling, Ethan, is 'n jaar later gebore.

Volgens Kyle was die knapie heel opgewonde om sy babasussie te ontmoet. Hy's nog nie heeltemal seker of Ethan verstaan wat 'n sussie is nie.

"Ethan het 'n wonderlike geaardheid; ek hoop regtig hy pas goed aan in sy rol as ouboet," laat Kyle trots hoor.

"Ethan geniet al die ekstra aandag op die oomblik; dus is hy nog nie te gepla met sy nuwe rol nie, maar soos Kyle sê, ek dink hy sal 'n ongelooflike broer en hopelik baie beskermend oor sy sussie wees," sê ma Tarryn.

Kyle wou nog altyd 'n dogtertjie gehad het, verklap Tarryn, 'n geoktrooieerde rekenmeester.

"Om eerlik te wees is ek dankbaar om 'n gesonde kind te hê, of dit nou 'n seun of dogter is." Sy is versot op haar "klein Livvy", vertel sy. "Ek dink daar lê nog baie inkopieuitstappies voor vir ons," sê Tarryn. 

View this post on Instagram

Goodness gracious I love you.

A post shared by Kyle Brown (@kylebrown) on

En watter lesse beplan hulle om klein Olivia te leer? "Om seker te maak sy weet dat sy vir altyd deur haar familie geliefd sal wees," sê Kyle. 

"Ek gaan haar oor selfliefde en -respek leer. Dit speel so 'n belangrike rol in alle aspekte van die lewe," vertel sy vrou. 

Kyle, wat aan die South African College High School (SACS) in Kaapstad gematrikuleer het, het in 2006 sy rugbyloopbaan by Boland se o.19-span begin. Hy het in 2008 sy debuut vir die Blitsbokke gemaak en het hom sedertdien as een van die mees ervare spelers in die groep gevestig. As kaptein het hy in 2016 sy span tot 'n bronsmedalje in sewesrugby se Olimpiese Spele-debuut in Rio de Janeiro aangevoer.

Volgens Kyle beweeg sy onvergeetlike rugbyloopbaan na 'n einde se kant toe en is hy nie heeltemal seker wat die toekoms inhou nie. Tog is hy steeds opgewonde oor die pad vorentoe.