Dié sexy sanger en beoordelaar van die sangkompetisiereeks The Voice SA en sy vrou, Annatjie, het onlangs hul sewende huweliksherdenking gevier en Bobby het ’n oulike liefdesboodskap aan die ma van sy drie kinders op Instagram gedeel.

“Deur soveel dinge saam. Hemel en hel, maar ek kies jou weer en weer en weer,” skryf Bobby by ’n foto waar hy Annatjie liefdevol soen.

"Lief vir jou my Anna," sluit hy sy boodskap af.

Bobby het ook verlede jaar op hul sesde huweliksherdenking ’n liefdesboodskap aan sy vrou op Instagram gedeel.  

Sy ousus, Karlien van Jaarsveld, en die aktrise Angelique Gerber het ook die paartjie op dié sosiale netwerk gelukgewens. “Kinners by dosyne” en “geluk julle 2 Jaarsies” het Karlien laat hoor.

Sy't ook bygevoeg dat haar skoonsuster, Annatjie, meer as "goud" werd is.

Bobby en Annatjie het twee seuns, Sion (6) en Leben (5), en ’n dogter, Armani, wat in Maart haar eerste verjaardag vier.

Bobby deel gereeld die skattigste foto's van sy kroos.

Bobby het ook in Desember die mooiste boodskap vir sy jongste seun, Leben, op sy vyfde verjaardag op Instagram gedeel.

"Jy leer ons regtig wat dit is om te lewe, om ’n lewe te probeer leef in oorvloed. Ek is so trots om jou pa te kan wees," het die pa vertel.

Baie geluk, julle!