Op die foto waarin die sangeres Leah van Niekerk en haar vriendinne op ’n bankie sit en glimlag, lyk dit kompleet asof ’n klein apie ’n selfie met hulle in die agtergrond geneem het.
Maar die ware omstandighede van dié foto was effens anders, verklap Leah.
“Ek sal maar die aap uit die mou laat en erken die apie het nie self die foto geneem nie,” vertel sy. “Ek wens hy het, dink net!
“Ons was by die Apieswoud in Ubud en een van die personeellede het die apie met mieliepitte gevoer en op net die regte tydstip die mieliepit aangegee dat die apie sy poot vir die ‘selfie’ uitgestrek het.
“Dis regtig ongelooflik! Die apies kan vrylik rondbeweeg in die park en die publiek mag hul geensins voer of aan hulle vat nie. Die reëls is streng en daar word goed na die apies omgesien.”
Leah vertel sy en drie van haar beste vriendinne het Bali Maandag met ’n seer hart verlaat, aangesien dit een van haar beste vakansies nog was.
“Ons was vir ’n week lank weg en dit was die eerste keer dat ons almal saam oorsee was. Ons het al die lekker toeristedinge in Ubud gedoen. Die groot swaai oor die woud was vir my ’n groot hoogtepunt."
“Ons was ook in Seminyak waar ons na die strandklub toe kon gaan en het ook 'n bietjie by die markte gaan inkopies doen. Die kos in Bali is ongelooflik! Ek sal nou in die gimnasium moet gaan sweet.”
Sy sê sy is baie opgewonde oor die nuwe Boer soek ’n vrou wat Donderdagaand begin. “Dit is ’n baie spesiale seisoen.”
- Die twaalfde seisoen van Boer soek ’n vrou begin Donderdag 17 Oktober op kykNET se kanaal 144.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET