Net ’n paar dae gelede het ’n vrou haar in die Checkers-winkel in die Strand naby Kaapstad voorgekeer en gevra: "Was jy nie op TV nie?" Hulle het begin gesels oor haar tyd saam met Jan op die vrugte-groente-en-pluimveeplaas in die Ceres-distrik.

"Jy is seker bly jy het hom nie gevat nie," sê die vrou toe.

"Ek kan nou lekker lag daaroor," het Erica (55) van haar laat hoor.

Sy en die 66-jarige Jeremie het mekaar vyf jaar gelede ontmoet toe die episodes waarin sy verskyn in die 10de seisoen van die pasmaatprogram Boer Soek ’n Vrou op kykNET uitgesaai is. Hulle het ’n blok van mekaar af in die Strand gewoon en mekaar gedurig raakgeloop.

Hy het geweet waar sy bly en het ’n briefie in haar posbus gegooi waarop staan: "Kan ek nie kom koffie drink nie?" En van daar af het hulle begin uitgaan.

Erica se twee seuns Pierce (links) en Beneric Both
Erica se twee seuns Pierce (links) en Beneric Bothma gee haar af.

"Ons ken mekaar nou goed genoeg. Daarom het ons nou eers getrou," verduidelik Erica. Hulle het Sondag afgehaak. Hulle het op 28 Augustus verlede jaar om twaalfuur verloof geraak op Vlaeberg toe die kanon soos elke dag daardie tyd afgevuur word.

Hulle teken die register saam met ds. Leon Marais.
Hulle teken die register saam met ds. Leon Marais.

"Ons verlowing het met ’n bang begin soos die proppe van die vonkelwyn wat op ons troue afgeskiet is," vertel Erica. Die kanonnier was daardie dag so gaaf om vir hulle die slagdoppie waarmee die kanon afgevuur is, as aandenking te gee.

Pasgetroudes Erica en Jeremie Kotzé
Pasgetroudes Erica en Jeremie Kotzé

Daardie dag was dit die 66 280ste skoot wat deur die kanon op Vlaeberg afgevuur is. Hul hou daagliks telling van elke skoot en dit word op 'n bord aangebring.

Jeremie het intussen afgetree uit die beplanningsafdeling van Rheinmetall Denel Munition by Denel, waar hy 42 jaar lank gewerk het. Erica het ook ophou werk in die suurstof-terapiebedryf sodat hulle hul liefde vir reis kan voed.

"Ons is baie lief vir die natuur en kamp gereeld (met ons ingerigte vierwielaangedrewe bakkie met daktent) en ry gereeld 4x4-roetes. Ons het onder meer vanjaar 40 dae lank deur Botswana en Namibië getoer. Ons beplan om volgende jaar die Doodsakker in Angola aan te pak,” sê sy.

Erica as gloeiende bruid.
Erica, die gloeiende bruid by haar broer, Jaco se huis.

"Ek kon, soos enige bruid, nie wag om Sondag om halftwaalf in die eg verbind te word met Jeremie nie," sê sy. Dit was vir haar ’n voorreg om haar twee seuns, Beneric (en sy vrou, Zahn-mari) en Pierce, van Kroonstad, by die troue te hê. Jeremie se dogter, Renée, was ook daar.

Die liefdesverhaal het haar net weer van nuuts af laat besef: "Elke wolk het voorwaar ’n silwer randjie".