Dit hoor hy gereeld, vertel Marcus Els (22) van Gordonsbaai in die Wes-Kaap. Hy is die broer van Toanette Els (25) van die kykNET-maatsoekprogram Boer soek ’n vrou.

Maar elke keer, sonder uitsondering, erken hy maar beleef: Hy is nie. Tog sou jy jouself sweerlik kon verkwalik as jy dié twee verwar, want met daardie baritonstem en blonde krullebol lyk die twee op ’n haar na mekaar.

Elandre
Foto's: Instagram

En ja, Marcus is self ’n sanger. Hy is ewe lief daarvoor om ure aaneen towernote uit sy kitaar te tokkel.

“Ek speel al jare lank tromme en kitaar,” vertel Marcus aan Huisgenoot.

“Dalk is dit ’n ode aan my ma. Sy kon enige instrument bespeel: van ’n trekklavier tot ’n orrel en ’n klavier. En hoewel ek altyd daarvoor lief was om ook musiekinstrumente te bespeel, het my groot liefde vir sing eers kort voor haar dood werklik vlam gevat.”

Marcus Els
Op sy gelukkigste: Marcus op die verhoog. Foto: Verskaf

Sy ma, Trudie, het verlede jaar haar stryd teen kanker verloor.

Marcus is nou terug in Suid-Afrika nadat hy drie jaar lank aan-en-af in Amerika geboer het. Hy werk nou as ’n terreinbestuurder vir ’n maatskappy wat bou- en herstelwerk doen.

“Dis terwyl ek in Amerika was dat ek eers werklik begin sing het. Eers net vir die lekker – en later toe ek besef het hoe vinnig ek ’n groot liefde daarvoor gekweek het,” vertel hy.

“Ek het toe sommer vir kompetisies begin inskryf om soveel moontlik te leer en te groei. Hier in Suid-Afrika het ek dit tot in die halfeindronde gemaak in die Music in Me-sangkompetisie. Ek is ook in die halfeindronde van die Mpumalanga-talent-sangkompetisie, maar sal nie deelneem nie omdat ek nou in die Kaap is.”

Video’s waarin hy sing en op sy kitaar tokkel is gewild op Facebook en Instagram – en aanhangers moedig hom omtrent aan om ’n sangloopbaan na te streef.

View this post on Instagram

Longbar jou lekker ding

A post shared by Marcus Anton Els (@marcus_anton_els) on


“Ek gaan nie vir jou jok nie; die hele ervaring is nogal scary,” bieg hy.

“Daar is soveel wat ek moet leer. Ek weet ek het nog baie groei en leiding nodig, en dat ek werklik kan baat vind by die leiding van ’n mentor wat dieselfde pad as ek gestap het.”

Maar, sê hy, dit het gou sy grootste droom geword: Om voor ’n gehoor sy kitaar te speel en sy hart uit te sing.

“Ek sal graag professioneel wil sing. Die laaste ses maande, veral met my deelname aan die kompetisies, het vir my baie groei beteken. Nou is my volgende hoop om dalk binnekort in ’n ateljee te kom. Ek het so een of twee liedjies geskryf, en ek sal dit graag professioneel wil opneem.”

Sy staan bankvas by haar broer, vertel Toanette aan Huisgenoot.

“Ek is supertrots,” vertel sy. “ Ek het nog altyd geweet dat hy iets in ’n musikale rigting gaan doen omdat hy byna enige musiekinstrument kan speel.”

Op Facebook skryf sy: “Ons wil sy drome waar maak en sy goue stem aan almal bekend maak.”

Marcus Els
Marcus op die strand in Gordonsbaai waar hy deesdae woon. Foto: Verskaf

Oor haar ondersteuning lag Marcus net skaam. “Ons ondersteun mekaar nog altyd, in alles wat ons doen. Ek is baie opgewonde vir wat die toekoms inhou. En dan? Wie weet wat die toekoms inhou. Dalk word hierdie droom dan tog bewaarheid.”