Die egpaar, wat in Januarie hul tweede huweliksherdenking gevier het, se eersteling sal na verwagting oor drie weke gebore word. André (24) kan sy opgewondenheid skaars wegsteek. 

"Ons is opgewonde en terselfdertyd benoud, soos enige ouers met hul eerste baba. Net om ons vir die onverwagte voor te berei, was ons vir voorgeboortesorgklasse en Mabea lees maar wat sy kan," vertel hy.

Sy naam is Liam, eintlik ’n akroniem van hul liefde en wense vir hul seun, sê Mabea (24).

“L is for Liam, the loyal lad we love, I is for the irresistible one sent from above, A is for affectionate, the boy we so adore, M is for marvellous, magical and more."

En sal André wil hê sy bulletjie moet eendag in ’n Sharks-trui uitdraf?

"Ek het nie nodig dat my seun in my voetspore volg nie," het dié lywige binnesenter op Instagram gesê by ’n oulike foto van sy voete langs ’n klein paar skoentjies. 

"Ek wil hê hy moet die pad langs my stap en selfs verder gaan as wat ek ooit sou kon droom."

Die egpaar praat met lof van hul ouers by wie hulle vir raad kan aanklop om Liam groot te maak. 

"Ons het gelukkig 'n goeie steunnetwerk met albei ons ouers wat self nie kan wag vir ons liefste Liam nie. Ek is seker ons sal hulle dadelik bel as ons raad of net aanmoediging nodig het, want hulle ken ons die heel beste en dra altyd ons en Liam se belange op die hart," sê Mabea. 

"Hulle het ons tog groot gekry; so hulle het duidelik iets reg gedoen," voeg André laggend by.

swangerskap,boerboele
André en Mabea tuis in Durban saam met hul boerboele, Lues en Lincka. Foto: Precision Photography Ballito

 Nietemin is dié paartjie, oorspronklik van Klerksdorp in Noordwes, vol vertroue in mekaar se ouerskapvermoëns. 

"Ek is seker hy sal 'n betrokke, ondersteunende en liefdevolle pa wees, soos sy pa vir hom is. Ek het al so baie gebid en glo hy gaan sy pa se goeie en sagte hart hê. Dit is een van André se mooiste eienskappe," vertel Mabea.

Sy het die laaste twee jaar saam met manlief in Japan gewoon toe hy in sy afseisoen vir Munakata Sanix Blues in die Japannese Topliga uitgedraf het.

liefde,swangerskap,familie
Dié liefdevolle paartjie word binnekort ouers. Foto: Wilma Towell

"En hy sal beslis Liam se gunsteling wees, want ek sukkel om vir André van 'n animasiefliek af weg te hou; dus sal Liam altyd 'n fliekmaatjie hê," voeg sy by.

André praat ook met lof van sy liefdevolle vrou "wat van nature ’n versorger is". 

"Ek kan sien hoe goed sy reeds vir hom is deur haar swangerskap en ek sal niemand anders as 'n ma vir hom wil hê nie. Sy het soveel liefde in haar en ek is seker sy gaan hom so met haar liefde toegooi soos sy met my doen."

mabea,springbok,rugby,baba
Mabea is opgewonde om aan Liam die lewe te skenk. Foto: Wilma Towell
baba,swangerskap
Mabea is "van nature 'n goeie versorger," sê manlief. Foto: Wilma Towell

André het in Junie verlede jaar sy toetsdebuut vir die Springbokke teen Wallis in Washington, Amerika, gemaak. 

Maar dié senter het wêreldwyd aandag getrek nadat die Engeland-kaptein, Owen Farrell, in November ’n omstrede duikslag teen hom uitgevoer het in die laaste minuut van hul wedstryd teen die Springbokke. 

Die Bokbreier, Rassie Erasmus, het André daarna touwys gemaak van die ‘regte manier’ om ’n duikslag uit te voer in ’n videogreep wat mense in die sosiale media omtrent laat gons het. 

Vanjaar sal André nie net sy eersteling verwelkom nie, maar moontlik ook die Bokke in die Wêreldbeker-toernooi, wat in September begin, verteenwoordig.

"Ek is opgewonde en voel geseën," sê André oor die jaar wat voorlê. 

swangerskap,springbok,rugby
André sal ’n liefdevolle pa wees, vertel sy vrou. Foto: Precision Photography Ballito

“ 'n Mens moet soms 'n tree terug vat en alles stadig inneem, want dit kan maklik oorweldigend voel. Die hele jaar lê nog voor en nog heelwat kan gebeur, maar ek is dankbaar vir wat ek tot dusver bereik het. Liam is en sal elke dag my heel grootste blessing bly.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!