Michael Lewis en lady Kitty Spencer in hul trou-ui
Michael Lewis en lady Kitty Spencer in hul trou-uitrustings. Foto: Magazine Features

Koninklikes, miljardêrs en bekendes onder die gaste. ’n Bestemming op die Italiaanse platteland. Vuurwerke wat die nag­hemel ophelder.

Twee dae lank het Engeland se rykes en beroemdes uitgehang asof die geld nooit kan opraak nie.

Die geleentheid? Lady Kitty Spencer (30), wyle prinses Diana se broerskind, het aan die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Michael Lewis (62) trou beloof.

Kitty, die dogter van Charles Spencer en die niggie van prinse William en Harry, het seker gemaak haar troue met dié skatryk man, meer as 30 jaar ouer as sy, sal nie gou vergeet word nie. 

Die trounaweek het begin met ’n dinee in die Galleria Del Cardinale, ’n geskiedkundige paleis in Rome, waarna die gaste na hul kamers in die Hotel de la Ville verkas het, ’n vyfsterhotel waar kamers sowat R20 000 per nag kos.

Hulle is in Villa Aldobrandini ge­troud.
Hulle is in Villa Aldobrandini ge­troud. Foto: Backgrid/Greatstock

Die bruilof self het in die Villa Aldobrandini, ’n imposante 17de-eeuse villa in die groen heuwels buite die Italiaanse stad Frascati, plaasgevind. 

Dit was ’n snikwarm dag, tipies van die Mediterreense somer, en die geselskap het heeldag ontspan voor die fees om ses­uur, in die effens koeler aandlug, begin het.

Daar is geëet en gedans, en die hoogtepunt was toe die gaste op ’n balkon byeengekom het om hulle aan ’n vuurwerkvertoning bokant die vallei te verkyk. En soos ’n wafferse prinses het Kitty haar man ’n soentjie gegee op die balkon die oomblik toe die hemelruim in bont kleure uitbars. 

Die paartjie was sedert 2019 verloof en moes hul troudag weens die corona-viruskrisis uitstel, maar alle frustrasie was op die bruilof vergete. 

Kitty se breë glimlag het dit duidelik gesê: Dit was die volmaakte dag. Of byna . . .

Al wat ’n mens vermoed ’n bruid nog op haar groot dag sou wou gehad het, was om saam met haar ouers te wees. Maar Charles Spencer en Kitty se ma, Victoria Lockwood, was nêrens te sien nie. 

Gerugte oor Kitty en Michael se romanse het in Mei 2018 begin opduik toe hulle saam-saam die eksklusiewe The Mark in New York verlaat het – dieselfde hotel waar Meghan, die hertogin van Sussex, haar ooievaarstee gehou het.

Die twee het destyds seker gemaak niemand neem ’n foto van hulle saam nie.

Michael het die hotel eerste verlaat en hul Uber op die sypaadjie ingewag. Eers toe die huurmotor opdaag, het Kitty blitsvinnig uit die hotel geglip en saam met Michael daarin geklim. Maar niemand kan ware liefde lank wegsteek nie.

Hul romanse is bevestig toe die paartjie gesien is waar hulle kort daarna buite ’n klub in Saint-Tropez in die suide van Frankryk soentjies uitruil. Dis verstaanbaar dat dié verhouding die oë laat rek het.

Op 62 is Michael nie net meer as twee keer Kitty se ouderdom nie; hy is ook vyf jaar ouer as haar pa.’n Bron naby aan die familie sê nie een van haar naasbestaandes het ’n probleem met die paartjie nie. 

“Hulle is almal lief vir Michael,” sê hy. “Al is hy ryk, is hy baie nederig.”

Michael, die voorsitter van Foschini Group en stigter van die Israeliese bio­tegnologiefirma ProChon Biotech Ltd., is in Kaapstad gebore. 

Kitty het ook ’n Kaapse konneksie: Sy het hier grootgeword in die jare toe Charles hom in die Moederstad gevestig het. Haar ma woon steeds in Kaapstad.

Dit was trouens tydens ’n besoek aan dié stad dat Michael Kitty die jawoord gevra het. Nie Victoria of Charles, wat in 1997 geskei het, was op hul eersteling se troue nie.

Vermoedelik het covidbeperkings Victoria daarvan weerhou om na Italië te reis, terwyl Charles moontlik weens ’n skouerbesering by die huis moes bly.

Hy het in ’n onlangse onderhoud gesê ’n “pynlike en onaangename” besering belemmer sy beweging.

Te oordeel na ’n foto wat hy die aand voor die troue van die maan geneem en met die hutswoord #althorp (die naam van die Spencer-familie se landgoed in Northamptonshire, Engeland) op Instagram gedeel het, lyk dit asof hy by die familie se woning in dié gebied was.

Hy woon daar saam met sy vrou, Karen, met wie hy in 2011 getrou het. Kitty se broer, Louis Spencer (27), en haar halfbroer uit haar ma se tweede huwelik, Samuel Aitken (18), het dus die voorreg gehad om haar na die kansel te begelei. 

Kitty se susters, die tweeling Eliza en Amelia Spencer (29), was ook onder die gaste, asook Michael se drie kinders uit sy vorige huwelik met Leola Lewis.

’n Soen op die balkon.
’n Soen op die balkon. Foto: Backgrid/Greatstock

Hoewel sy glo baie naby aan haar neefs die prinse William en Harry is, was hulle nie daar nie. Aanvanklik was daar wel sprake dat Harry en Meghan die oggend van die troue in Rome sou aankom, maar om die een of ander rede het hulle van dié planne afgesien.

Nog beroemde gaste het ingesluit die akteur Idris Elba en sy vrou, Sabrina, die popsanger Pixie Lott en die Dolce & Gabbana-model Emma Thynn.

Nog ’n gas met ’n Suid-Afrikaanse konneksie was Elon Musk se ma, Maye.

Kitty het ook as model naam gemaak en is ’n verteenwoordiger van Dolce & Gabbana.

Daar was groot belangstelling in wat sy op haar groot dag sou dra. Al vyf haar rokke is deur dié modehuis gemaak. Die eerste was ’n poeierblou skouer­lose gewaad met pienk blomme wat sy vir die dinee vooraf aangetrek het.

Die aandrok van organza-sy met handgeverfde blomme
Die aandrok van organza-sy met handgeverfde blomme. Foto: Magazine Features

Op haar troudag het sy in ’n uitrusting met ’n Victoriaanse tema gepronk, een wat die ontwerphuis blykbaar ses maande geneem het om aanmekaar te sit.

Die hoë nek, lang moue, pofskouers en ellelange sleep het herinner aan die uitrusting wat haar ma op haar troue gedra het, asook prinses Diana en Catherine, die hertogin van Cambridge, se rokke.

“Sy het dadelik aan ons gedink toe sy haar trouskeppings beplan het, en ons is baie gelukkig daaroor,” het Domenico Dolce van die modehuis gesê.

Kitty in groen.
Foto: Instagram/@ dolcegabbana

Volgens hom het Kitty ’n duidelike visie gehad oor hoe haar rok moes lyk. “Sy wou ’n tradisionele skoon snit vir die trourok hê; sy wou hê dit moet ’n tydlose bekoring hê.”

Die ontwerpers het glo dagin en daguit aan die rok gewerk. Kitty moes vier keer kom aanpas. “Dit was alles natuurlik en eg,” gaan Domenico voort.

“Lady Kitty Spencer het haar droomrok aan ons beskryf en ons het haar wense geïnterpreteer.”

Dolce and Gabbana het vyf rokke vir die bruid se g
Dolce and Gabbana het vyf rokke vir die bruid se groot dag geskep. Foto: Instagram/@ dolcegabbana

Kitty het nie volgens tradisie die Spencer-familie se diamanttiara, wat Diana ook op haar troue in 1981 gedra het, op haar troudag gedra nie.

Ná die seremonie het sy ’n aandrok van organza-sy met handgeverfde blomme en kristalle daarop gedra. Dié rok is vir ’n aandrok met silwer en goue krale verruil.

Die laaste uitrusting waarin sy die naweek gesien is, was ’n Mikado-syrok met blinkers, blomme en strikkies. Die bruidegom het deurgaans sy wit pak met ’n swart strikdas gedra.

Dit was onduidelik of die pasgetroudes beoog het om langer in Italië te bly vir hul wittebrood, of hulle na hul huis van R390 miljoen in Londen sou terugvlieg en of hulle dalk na ’n ander eksotiese bestemming sou koers kies.

Met ’n fortuin van R1,6 miljard agter sy naam kan Michael vir Kitty sekerlik gee net wat haar hart begeer. Maar die bruid sê haar diepste wens is vir dinge wat geld nie kan koop nie.

“Ek sien uit na ’n gelukkige huislike lewe, ’n gelukkige huwelik en gelukkige kinders,” het sy vroeër in ’n onderhoud gesê. “En dit verskaf my baie vrede dat dinge uitwerk soos dit moet.” 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, PEOPLE.COM, PAGESIX.COM, HELLOMAGAZINE.COM, THESUN.CO.UK
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe