En Huisgenoot was daar toe die glanspaartjie op 22 September 2009 dié nuwe hoofstuk in hul lewe ingegaan het.

Hier is 'n terugflits van hul groot dag. 

'Lente van ons liefde' 1 Oktober 2009 – Lara Atson

Op 'n wit tapyt met kerse wat aan weerskante brand en met wit rose besaai is, stap die fyne Janine haar ma, Freda Herbert, tegemoet. Sy lig haar sluier.

Toe sy eindelik by haar bruidegom kom, fluister Bryan saggies iets vir haar. En almal weet: Die troue van die jaar het amptelik begin.

Bryan Habana staan uitgevat in sy ontwerperspak op die trap van 'n kapel op 'n pragtige landgoed in Centurion. 

Hy loer kort-kort na sy horlosie.

Nee, senuagtig is hy glad nie, sê die blitsige Springbokvleuel vir almal wat vra; net emosioneel.

Vandag is immers sy en sy groot liefde, Janine Viljoen, se troudag.

Janine se strooimeisies, Tina Kruger,Wilma du Toit
Janine se strooimeisies, Tina Kruger,Wilma du Toit en Nadia Beukes, kry die bruid reg om haar bruidegom te ontmoet. Foto: Tumelo Leburu

Going to the chapel and we’re gonna get married,” trek hy los, tot groot vermaak van sy vriende wat voor die kapel rondstaan. “Ek is so opgewonde.”

Later is die voormalige internasionale rugbyspeler van die jaar – en een van Suid-Afrika se grootste sporthelde – kastig kwaai met Percy Montgomery toe dié in 'n wit pak opdaag.

“Net die bruid mag wit dra!” raas hy goedig.

Hierdie sonnige Sondag is die volmaakte dag vir 'n troue, veral dié van een van Suid-Afrika se bekendste glanspaartjies.

Die oud-Blou Bul Wynand Olivier (links) was een va
Die oud-Blou Bul Wynand Olivier (links) was een van Bryan se strooijonkers. Foto: Dino Codevilla

Die besonderse kapel, met muurskilderye wat Bybelse tonele uitbeeld, is vol roosblare gestrooi. 

By die ingang brand kerse en die troukoek kruip in die voorportaal onder fyn wit materiaal vir nuuskierige oë weg.

Die veiligheidsmaatreëls is streng. Die lede van die veiligheidsmaatskappy ADT, geklee in pers hemde met Bryan en Janine se voorletters daarop, kwyt hulle goed van hul taak.

Niemand mag by die landgoed inry nie en selfone en kameras moet in jou voertuig bly. Van die ingang af word gaste met statige, wit Lexus-motors na die kapel aangery.

Die gastelys is indrukwekkend – die Wie’s Wie van die sportwêreld en talle ander bekendes is hier.

Percy Montgomery en sy vrou, Tasmin. Foto: Tumelo
Percy Montgomery en sy vrou, Tasmin. Foto: Tumelo Leburu
John Smit en sy vrou, Roxanne,by die onthaal. Foto
John Smit en sy vrou, Roxanne,by die onthaal. Foto: Tumelo Leburu
JP Pietersen en sy meisie, Megan Weir-Smith. Foto:
JP Pietersen en sy meisie (nou sy vrou), Megan Weir-Smith. Foto: Tumelo Leburu

Onder die 270 gaste is die Springbokkaptein, John Smit, talle ander Bokke soos Victor Matfield, Pierre Spies en Morné Steyn, asook die afrigter, Peter de Villiers, wat opgewek buite met Bryan gesels. 

Die Blou Bul-senter Wynand Olivier is een van die drie strooijonkers.

“Waar’s die ring?” vra die sjarmante bruidegom terloops vir ouboet Bradley, ook 'n strooijonker. Dié lyk ietwat benoud en soek in sy sakke rond voor hy bieg: Hy’t die ring vergeet by die plek waar hulle vroeër aangetrek het.

Bryan lyk raadop, maar Bradley haas hom om die ring te gaan haal. ’n Paar minute later is hy terug en almal slaak ’n sug van verligting.

Bryan en sy strooijonkers
Bryan en sy strooijonkers

Later wys Bradley die ring met sy diamante vir die hofknapie, Reece de Beer (4), en dié is duidelik beïndruk.

“Dis groot!” laat Bryan se peetkind grootoog hoor. “En dit blink vreeslik.”

Van net ná een die middag begin die gaste aankom, terwyl die bruid al van vroegdag af elders op die landgoed onder groot geheimhouding gepamperlang word. 

Sy en haar drie strooimeisies, Nadia Beukes, Wilma du Toit en Tina Kruger, het die aand hier deurgebring.

Nou wag die gaste opgewonde op haar verskyning.

Bryan en sy gevolg stap die kapel binne om daar op sy bruid te wag. Kort ná halfdrie, 'n goeie halfuur laat, hou die bruidskoets wat deur vier wit perde getrek word, voor die kapel stil.

Die sanger Ansua Steyn val weg met die liedjie "Finally" en die bruidegom en gaste loer kort-kort oor hul skouer.

Die strooimeisies in hul pruimkleurige chiffonrokke loop die kerk een-een binne en die afwagting word vir Bryan te groot. 

Hy trap ongemaklik rond, maar glimlag darem van oor tot oor.

Dan verskyn sy bruid in die deur. Almal snak hoorbaar na hul asem en Bryan vee 'n traan weg. 

Die Habanas op hul troudag. Foto: Dino Codevilla
Die Habanas op hul troudag. Foto: Dino Codevilla

Janine lyk soos 'n feëprinses en sprankel nes die Swarovski-kristalle op haar spierwit trourok van dupion-sy en ingevoerde Franse koordkant.

Die Johannesburgse ontwerper Biji en haar helpers het drie maande aan hierdie skepping van ongeveer R40 000 gewerk en ook die strooimeisies se pragrokke ontwerp.

Die Kaapse modeontwerper Charlene Sauerman het Bryan se ma, Faith, en sy suster, Alycia (22), se deftige rokke gemaak.

Op 'n wit tapyt met kerse wat aan weerskante brand en met wit rose besaai is, stap die fyne Janine haar ma, Freda Herbert, tegemoet. 

Janine het soos 'n prinses in haar trourok geluk.
Janine het soos 'n prinses in haar trourok geluk. Foto: Dino Codevilla

Toe sy eindelik by haar bruidegom kom, fluister Bryan iets vir haar. En almal weet: Die troue van die jaar het nou amptelik begin.

Die bruidspaar staan nie soos gewoonlik met hul rug na hul gaste gedraai nie, maar kyk na hulle terwyl past. Charlotte Cronk roerend oor liefde en eenheid preek. Sy ken Bryan en Janine al jare lank en hulle noem haar liefderik “Ma”.

Dat hulle vandag hier voor die kansel staan, is deel van God se plan, sê sy.

Hulle is nou 'n paartjie, weg van hul ouers, en moet hul eie besluite neem. “Wanneer julle trou, word julle een.”

Later sing Bryan en Janine met oorgawe saam met die gaste "Hosanna" van die groep Hillsong United.

Die diep gelowige paartjie sing saam toe Hosanna v
Die diep gelowige paartjie sing saam toe Hosanna van Hillsong United gesing word

Toe hulle hul troubeloftes aflê, kyk hulle diep in mekaar se oë. Bryan beloof eerste ewige trou en raak daarna haastig om die ring aan sy bruid se vinger te steek – tot groot vermaak van die gaste. 

Maar eers moet Janine haar troubelofte aflê.

En dan breek die oomblik aan waarvan hulle so lank gedroom het: Charlotte verklaar hulle amptelik man en vrou.

Hulle soen mekaar innig terwyl die gaste hande klap.

Ma Cronk roep die paartjie na die tafel waar sy tydens die seremonie gesit het. Sy’t 'n geskenk vir hulle – 'n Bybel wat sy maande gelede reeds met die woorde Bryan en Janine Habana laat graveer het.

Voor hulle die huweliksregister teken, breek Bryan vir hulle brood en drink hulle wyn, 'n gewyde nagmaal net vir die bruidspaar.

Maar die intieme seremonie is nog nie verby nie. Faith en Janine se ma, Freda, word na vore geroep waar hulle elkeen 'n kers aansteek en dan nog twee groter kerse om aan Bryan en Janine te oorhandig, waarmee hulle dan saam 'n groot, wit kers aansteek.

Hulle blaas hul onderskeie kerse uit as 'n simbool van twee mense wat pas een geword het. Nou kan die volgende hoofstuk in hul liefdesverhaal begin.

Toe die bruidspaar die kapel verlaat, reën wit roosblare op hulle neer. “Mnr. en mev. Habana,” sê Bryan en lag. 

“Dit klink so mooi!”

Nog voor die onthaal sny hulle die pragtige troukoek net daar in die voorportaal van die kapel.

Die allemintige troukoek
Die allemintige troukoek

Die koek weeg 'n allemintige 80 kg en is te swaar om rond te dra. 

Dit bestaan uit vyf lae Amerikaanse sponskoek, waarvan drie met aarbeie en room versier is en die ander twee met Amarula-likeur en sjokoladefudge gegeur is. 

Dit het 12 uur geverg om te maak, vertel die meesterbrein agter die koek, Jonathen Kershaw van Le Pâte à Choux.

Terwyl 'n duidelik verliefde Bryan en Janine en hul gesinne vir Huisgenoot se flitsende kameras poseer, beweeg die gaste na 'n reusemarkiestent voor die onthaalsaal waar 'n spesiale skemerkelkkroeg ingerig is.

Kelners in pers-en-silwer uitrustings, in pas met die kleurskema van die glanstroue, meng voortdurend skemerdrankies en sit dit voor op silwerskinkborde.

Een daarvan, Eternal Bliss Martini, is spesiaal vir die bruidspaar gemaak.

Terwyl die gaste rustig op wit banke en by ronde tafels kuier, sorg die rocker Karen Zoid vir die musiek.

Dan is dit tyd vir die onthaal.

Bryan en Janine
Bryan en Janine

Die deure van die onthaalsaal word oopgemaak en die gaste snak weer na hul asem.

Dis 'n sprokie van pruimkleurige drapeersel, reuse rangskikkings met wit lelies en rose en kerse wat by die hooftafel brand.

Die sagte beligting van imposante kandelare dra by tot die romantiese atmosfeer.

Die seremoniemeesters, Bryan se pelle Theo Jantjies (Xander van 7de Laan) en Deon Nobrega, sorg soos wafferse skoolmenere dat al die gaste hul sit kry.

Hierna word foto’s uit die bruidspaar se kinderjare op 'n groot skerm vertoon. Skielik verskyn ’n video van Bryan en Janine daarop met 'n spesiale dankieboodskap aan almal wat hul groot dag met hulle meemaak.

“Ons is getroud!” sê Janine opgewonde in die video.

“Mnr. en mev. Habana. Eindelik!”

Die pasgetroudes saam met hul gaste
Die pasgetroudes saam met hul gaste

I got a feeling . . . ” begin Bryan op die skerm sing voor die Black Eyed Peas se trefferliedjie met dieselfde naam begin speel en die paartjie die saal onder luide applous binnekom.

Terwyl die gaste weglê aan 'n buffet van onder meer oesters, seekos en vichyssoise, is dit tyd vir die toesprake.

“Janine, jy lyk waarlik soos 'n prinses, maar eintlik mooier as 'n mens,” sê Freda.

Sy vertel hoe Janine altyd briefies en kaartjies vir haar geskryf het.

“Jy was 27 jaar lank net vir my 'n plesier. Jy is ook my beste vriendin, my sielsgenoot, maar ook my gebedsvennoot. Ek het al jou briefies mooi verpak en gee dit graag aan jou en Bryan. Glo my, julle sal dit geniet.

"Bewaar dit vir jul kinders. Hulle sal dit beslis ook geniet.”

Een van die strooimeisies oorhandig dié spesiale geskenk aan die bruidspaar.

Freda draai na haar skoonseun. 

“Baie dankie dat jy hierdie mooi dag so spesiaal vir Janine en ons almal gemaak het. Ek wil opreg sê ek het nie vandag 'n dogter verloor nie, maar 'n seun gewen. Wat God vandag bymekaargevoeg het, kan geen mens skei nie.”

Janine bedank namens haar en Bryan hul trouekoördineerder, Juanita Beukes van Event Setters, wat gesorg het dat die dag seepglad verloop.

Janine het self 'n spesiale boodskap vir haar man. 

“Ek kry vanaand 'n goeie man en ek is baie dankbaar vir hom,” sê sy. “Bryan, ek is lief vir jou.”

Al het hy en die seremoniemeesters heeltyd die gaste laat skater met hul sêgoed, is Bryan ernstig toe hy voor die mikrofoon inskuif.

“Wat sê 'n mens as jy 'n nuwe hoofstuk van die gelukkigste tyd van jou lewe begin?

“Vandag het ons afgewyk van 'n paar tradisies. Die kerkdiens was iets unieks, iets wat regtig deel van ons is, iets wat ons wou hê julle almal moet waardeer.”

Faith, Alycia en Bradley is almal in trane toe Bryan sy gesin bedank vir alles wat hulle vir hom beteken het. Hy verklap hoe stresvol dit was om die troue te beplan – veral omdat hy die afgelope nege maande so druk besig met sy rugby was.

Gelukkig het sy ouers hom met die beplanning gehelp. 

Sy ma het die week voor die troue nog tot laatnag die stoeloortreksels vir die onthaal gemaak.

Vir sy pa, Bernie, sê hy spesiaal dankie vir sy steun die afgelope nege jaar van groot rugby.

“Pa, dit was 'n ongelooflike reis. Ek moes grootword, die dinge van die wêreld leer en dit was nie altyd maklik nie, maar ek het iemand van onberispelike karakter gehad om te volg. 

"Iemand van baie unieke statuur was daar om my te lei. Toe ek nie drieë gedruk het nie, het jy selfs oorsee gevlieg om vir my te kom sê jy is steeds lief vir my, en jy sal altyd daar wees om seker te maak ek word die beste wat ek kan wees,” sê Bryan voor hy weer moet trane afvee.

“Wat jy my geleer het, die man wat ek oor die afgelope 26 jaar geword het, wat jy my gegee het, is iets wat ek nooit sal kan terugbetaal nie. Ek is lief vir jou. Dankie vir al jou liefde en ondersteuning.”

Dan draai hy na die nuwe mev. Habana. “En Janine, my vrou. Jis, dit klink goed,” sê hy onder luide toejuiging.

Bryan en Janine op hul groot dag. Foto: Tumelo Leb
Bryan en Janine op hul groot dag. Foto: Tumelo Leburu

“Interessant genoeg het sy sewe jaar gelede nie veel kennis geneem van my nie. Ek was net ’n normale ou op universiteit wat met 'n pragtige meisie probeer gesels het. Dit het my twee jaar geneem om haar te beïndruk. Salomo sê in Spreuke: He that findeth a wife findeth a good thing,” sê Bryan.

En tydens hul verhouding die afgelope vier jaar en nege maande het hy in Janine die volmaakte mens ontdek.

“’n Goeie vriend het vir my gesê goeie goed kom in klein pakkies. En jy is beslis ’n ongelooflike klein pakkie en jy is so goed en dit het my laat besef jy is die een.

“Jou prag en skoonheid toe jy vandag by daardie kapel instap op maat van ’n liedjie wat so intiem vir ons albei is, is ’n oomblik wat ek vir die res van my lewe in my hart sal koester.

As ek met woorde moet beskryf hoe jy vanaand gelyk het . . . geen woordeboek in die wêreld sou genoeg woorde hê nie. Jy lyk absoluut pragtig,” sê hy terwyl hy na haar kyk.

“Om te weet dat jy die eerste en laaste gesig sal wees wat ek van nou af elke dag gaan sien . . . ” sê hy en sy stem raak weg.

“Jy is regtig 'n prinses en ek wil regtig die res van ons lewe saam jou prins wees, jou opdra aan die Here vir alles wat jy vir my beteken. Ek is lief vir jou, Janine Habana,” sê hy onder luide toejuiging.

Dan laat hy so ewe hoor: “Vat asseblief die mike weg voor ek weer huil!”

Dis tyd om die dansbaan te open. Bryan dra Janine op sy skouer na die dansbaan en hulle doen 'n volmaakte dansroetine op maat van Taylor Swift se romantiese liedjie "Love Story". Tot kort ná middernag bly die paartjie saam met hul vriende op die dansbaan.

Dan vertrek hulle lughawe toe vir hul wittebrood by 'n geheime bestemming.

Maar jy weet sommer: Waar die twee hulle ook al bevind, sal hulle gelukkig wees as hulle net by mekaar kan wees. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.