In die video dans die gewese Getroud Met Rugby-ster op ’n grappende wyse op die ritme van die Amerikaanse sanger Bruno Mars se enkelsnit Finesse. 

"Wanneer ’n hoogswanger vrou vol suiker probeer en misluk om met ’n verbygaande kitsskare byhou," het die aktrise by die video laat hoor.

Chantal, wat bekend is vir haar rol as Cecile in die sepie 7de Laan en te sien was as die Stryders se fisioterapeut Lindy Davids in Getroud Met Rugby, is duidelik nie bang om haar danspassies in die publiek te wys nie – en dit met boep en al!

"Ek het lanklaas gedans. Ek was met ’n vriendin (die aktrise Caitlin Clerk) uit vir ’n bederf en toe die kitsskare verbykom het sy my eintlik aangemoedig en gesê: 'Ja, doen iets fun. Ek sal dit opneem'," vertel die aktrise aan Huisgenoot. 

Chantal is in haar derde trimester en het sover ’n "probleemvrye" swangerskap. Sy meen egter dat dit nie altyd so prentjiemooi is soos wat mense dit laat lyk nie.  

"Ek besef dat ’n teksboek swangerskap nie iets is wat elke vrou deurgaan nie. Dit wil nie sê dat ek nie met rugpyn en seer voete te doen kry nie. Aan die buitekant lyk dit wel oulik en maanskyn en rose, maar dan loop jy rond met heupe wat seer is."

Chantal en die musikant RJ Benjamin, haar man van die afgelope vier jaar, se eersteling kom na verwagting in die winter. Die paartjie woon in Johannesburg.

Chantal probeer steeds aktief bly deur drie keer ’n week die gimnasium te besoek en in ’n natuurreservaat te gaan stap, maar erken dat dit soms moeilik is aangesien sy deesdae so vinnig moeg word. 

Sy het ook haar werklading aansienlik afgeskaal sedert ons in Februarie vanjaar met haar gesels het

"Ek is deesdae baie rustiger. Ek dink dis ’n goeie ding. Ek het nie meer energie vir iets meer as agtergrondstemwerk nie. Gelukkig is daar meer geleenthede wat ná die swangerskap wag."

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!