Rana Ghadban, president en uitvoerende hoof van Hollywood se sakekamer, het Lucy Liu vroeg in Mei verwelkom as die 2 662ste ster wat op dié gesogte manier gehuldig word.

Terloops, Lucy is slegs die tweede Asiër-Amerikaanse aktrise vir wie die eer te beurt geval het om ’n Hall of Fame-ster toegeken te word.  Anna May Wong was die eerste.

Nog ’n bekroonde aktrise en regisseur, Rhea Perlman, het tydens die seremonie vertel sy het Lucy oortuig om komedie te oorweeg. En die sitkomreeks Pearl (1996) het gevolg – die begin van haar sukses op die kassie en die silwerdoek.

Natuurlik was haar twee “engel”-sterre die eerstes wat haar omhels en gelukgewens het met die groot prestasie.  

Terwyl Rana Lucy se prestasies een na die ander met die entoesiastiese gehoor gedeel het, het Drew liefies haar kop op Cameron se skouer gerus, tipies goeie vriendinne.

En raai net wie het tydens die verrigtinge ook by die drietal aangesluit? Niemand anders as Demi Moore (57) nie.  Maar dié keer was daar geen wilde gevegstonele of onderduimsheid betrokke nie.

Inteendeel, die viertal het soos wafferse jare lange vriende vir mekaar geglimlag en met mekaar geskerts terwyl die seremonie aan die gang was.

Demi het ook ’n kans gekry om die gehoor meer van Lucy te vertel. Tydens hul eerste ontmoeting (op Charlie’s Angels se stel) was sy bekommerd oor die gerugte wat sy oor Lucy gehoor het, naamlik dat sy ’n “ ’n hardekwas met breins is, maar toe besef ek sy is beslis ’n hardekwas met breins, maar ook soveel meer: iemand  met ’n  pragtige hart en die dekselse goeie sin vir humor”.

Waar bevind die engele hulself vandag?

Maar wat het Charlie se veelsydige skop-skiet-en- flankeer-engele aangevang sedert die laaste fliek waarin hulle saam verskyn het (Charlie’s Angels: Full Throttle met Demi Moore as die booswig) in 2003 vrygestel is?

Lucy Liu

Lucy het eers as vyfjarige Engels leer praat, al is sy in Queens gebore. Haar gesin het Mandaryns tuis gepraat. Nadat sy op 19-jarige ouderdom deur ’n talentjagter op die moltrein gewaar is, het sy haar eerste silwerdoekrol in Jerry Maguire (met Tom Cruise) gekry as sy eks-meisie.

Sy is voorwaar ’n hele besending dinamiet.

Wanneer sy nie op die skerm is nie, beoefen sy Kali-Eskrima-silat, ’n mengsel van gevegskuns uit Indonesië en die Filippyne waar met stokke en messe baklei word, sy ski, beklouter rotse, ry perd en . . . speel die trekklavier!

Lucy het selfs die regisseurstoel vir televisie begin volsit met groot sukses: Elementary, Netflix se Luke Cage (seisoen twee se openingsepisode), Law & Order: SVU, Why Women Kill en Graceland.

Cameron Diaz

Die maltrap-blondekop is mal oor huisvrou-wees en sy het reeds in 2018 laat deurskemer dat sy vir eers die toneelwêreld gaan groet en huis-huis speel met haar rocker-man, Benji Madden. Sy was laas te sien in Annie (2014) as Miss Hannigan.

Drew Barrymore

Drew se boek, Wildflower, is beskikbaar by takealo
Drew se boek, Wildflower, is beskikbaar by takealot.com

Sy en Cameron is inderdaad reeds van 2000 met die eerste verskyning in Charlie’s Angels-fliek besties. Terwyl Drew aanbeveel dat jy Cameron moet bel as jy in ’n gevangenis in die middel van die wêreld verkeer omdat sy jou sal uitkry, beskryf Cameron hul vriendskap as ’n prestasie en ’n ware vriendskap.

Drew Barrymore het in 2015 die boek Wildflower geskryf met ’n versameling essays en stories wat haar uitheemse lewe uitbeeld.

Sy is die afgelope vier jaar enkellopend, maar voel glad nie jammer vir haarself nie omdat haar kinders haar lewe is.

“Ek is so gelukkig om twee ongelooflike kinders en ’n voltydse werk te hê, en ook rad vriende. Ek voel ontsettend dankbaar. Moenie die dag vermors om te treur oor dit wat jy nie het nie. Wees gelukkig met wat jy het. Dis daar, ek belowe,” het sy op Instagram geskryf.

Demi Moore

Sy is as Demetria Guynes gebore en het taai kinderjare gehad. Tog het sy haar pad na bo met mag en mening getakel, en sy word as een van die rykste aktrises beskou.

Haar inspirasie vir die silwerdoek? Niemand anders nie as haar buurvrou, die Duitse aktrise Nastassja Kinski (Tess), vir wie sy draaiboeke in Engels moes voorlees . . .

Demi  was die eerste aktrise wat die $10 miljoen-kerf bereik het, maar sy verdien boonop geld uit ’n heel ander oord: tantieme vir liedjies wat sy geskryf het voor sy ’n aktrise geword het!

Maar vandat sy ouer as 40 geword het, het rolle volgens Demi vir haar begin opdroog. Selfs al het sy daarna in 18 flieks verskyn, was daar geen uitskieters nie. En deesdae voel sy dat sy eindelik haar ouderdom begin aanvaar.

Charlie's Angels herlaai weer

Daar is weer ’n Charlie’s Angels op pad, dié keer bestaan die drie uit Kristen Stewart (Twilight) as Sabina, Naomi Scott (Aladdin) as Elena en Ella Balinska (The Athena) as Jane.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Bronne: upi.com, variety.com, popsugar.com, imdb.com, 10-facts-about.com, ohfact.com, mirror.co.uk