Die model en sakevrou Cindy Nell-Roberts, wat haar eie kosmetiese maatskappy het, se dogter, die sewejarige Aenea, volg reeds in haar ma se voetspore.

Aenea stel al van vyfjarige ouderdom in skoonheid belang en geniet al van ses af manikure en pedikure.

Cindy en haar dogter geniet hulle ontspanningstyd
Ma se kind! Cindy en haar dogter, Aenea, geniet pamperlangsessies. Hulle sit dan gesigmaskers op of span uit in 'n borrelbad met Engelse sout. Foto: Verskaf

Sy spog selfs met haar eie YouTube-kanaal, Aenea’s Amazing Adventures, wat op mode en skoonheid fokus en deur haar model-ma geïnspireer is.

Volgens Cindy, wat ook ’n seun, Ethan (9), het, mag haar dogter nie maskara of lipstiffie dra tensy dit ’n spesiale geleentheid, soos ’n prinsespartytjie, is nie.

“Ons geniet dit om prettige dinge saam te doen soos om haarmaskers van natuurlike bestanddele te maak of gesigmaskers met komkommer op ons oë te sit,” sê sy.

Cindy en haar dogter, Aenea, eenders gekleed in 'n
Cindy en haar dogter uitgetof in eenderse safari-uitrustings. Foto: Verskaf

Cindy geniet dit om gehaltetyd met haar kinders deur te bring. By 'n foto wat sy onlangs van haar en haar dogter op Instagram gedeel het, skryf Cindy sy het talle lesse tydens die inperking geleer. "Om net 'n uur ná werk iets te doen waar ek heeltemal fokus op my kinders, herinnerings maak, avonture aanpak, gesels, lag, alleentyd deurbring. Soveel om te doen!"

Ma en dogter het altyd pret wanneer hulle saam is.

Die sakevrou geniet ook oggendtyd saam met haar kinders. Sy gaan dit die meeste mis sodra die skole weer heropen, sê Cindy.

“Ek dink wat ek die meeste gaan mis, is die oggend cuddles wat ons het. Spring in die bed, drink 'n koppie tee en net laat lê en televisie kyk. Gedurende skooltyd, selfs met tuisonderrig, word ons baie vroeg wakker, trek aan, eet ontbyt en hou 'n roetine. Ek dink ons sal ’n punt daarvan maak om naweke minder uit te gaan en net in 2021 in die bed te bly en daardie ontspanne tye oor naweke te hê,” vertel sy.   

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe