Clare, wat getroud is met Marco Wentzel (40), oudkaptein van die Haaie, het vir haar pa ’n Cockapoo, ’n spanjoel-poedel-kruis, gegee. 

“Ek, my suster en man het die hondjie in Riviersonderend gaan optel. Ons het dit as ’n verrassing vir my pa gehou en ’n strik om haar gebind. Toe hy haar die eerste keer sien, het hy net gegroet met die woord: ‘Hallo.’ Dit was baie mooi om te aanskou,” borrel Clare.

Sy en haar pa het ’n paar weke tevore die teler (Morning Star Puppies) op Stilbaai besoek en het byna 20 verskillende honde gehad om van te kies.

“Ek het ’n paar maande gelede die Cockapoos aanlyn ontdek en my pa daarvan vertel, hy was onmiddellik mal oor die idee.”

View this post on Instagram

#pooped

A post shared by Clare Wiese-Wentzel (@clarewiesewentzel) on

“Ek het later twee oorweeg vir my pa, maar wou eers sien hoe hul persoonlikhede ontwikkel,” vertel sy. Clare het eindelik een gekies wat volgens haar die beste by haar pa pas.

Volgens Clare is hul hele familie lief vir diere. Hulle is veral versot op honde. 

“My pa het sedert hy ’n klein seuntjie was hondjies gehad. Dit is ongelooflik om te sien hoe sy gesig ophelder wanneer hy haar sien,” borrel Clare oor die nuwe hondekind. 

“Hy wou haar Kim noem. Dit het regtig my hart vermurwe, maar ek het aan hom gesê: ‘Sy het haar eie identiteit nodig en ons moet ’n ander naam kies.’ Ons het nog nie ’n keuse gemaak nie,” laat sy hoor.

Die sakevrou het vroeër vanjaar in ’n roerende inskrywing die nuus met haar 13 000 Instagram-volgelinge gedeel dat haar geliefde hondjie, Kimbey, oorlede is. Die Maltesepoedel, was die afgelope 15 jaar soos ’n kind in die Wiese-Wentzel-huis.

Sy het al saam met Clare in talle tydskrifte en selfs ook op Minki van der Westhuizen se Via-geselsprogram, Minki, verskyn.

Sy het ook 'n paar keer op Clare se kykNET-televisieprogram Mooimaak ’n draai gemaak.

“Kimbey was baie lief vir my pa en hulle het ’n hegte en spesiale band gedeel.

“Ons almal sal altyd na Kimbey verlang, niemand sal haar ooit kan vervang nie, maar die nuwe baba het ons gewys dat die menslike hart kan vergroot en plek maak vir nuwe liefde en ’n pragtige nuwe hoofstuk in die boek,” sê Clare. 

Vir nou slaap die nuwe hondjie nog by haar in die bed. “Ek lag en sê ek is haar persoonlike assistent. Ek leer haar potjiedissipline, neem haar vir veeartsbesoeke en vat haar saam op uitstappies.”

Die liewe bondeltjie wol laat omtrent harte vermurwe deur die oulike goedjies wat sy doen.

“Toe sy haarself vir die eerste keer in die spieël sien, was sy baie deurmekaar. Sy het geblaf en gegrom. Dit was so oulik,” vertel Clare. 

Al wil sy nie die nuwe honde-kind met Kimbey vergelyk nie, sê sy tog: “Sy is ’n sensitiewe siel en hou nie so baie van kos soos Kimbey nie. Al het sy ’n bietjie aanmoediging nodig, kry sy by die dag meer selfvertroue. Sy is ’n regte klein karaktertjie!”