Hy het vroeër vanjaar ure lank geoefen om sy danspassies onder die knie te kry. Die harde werk het vrugte afgewerp toe die sanger Connell Cruise gekroon is as die wenner van Dancing with the Stars.

Maar nou berei hy voor vir ’n heel nuwe rol: dié van pa. Connell se vrou, Sarah Kingsburgh, verwag hul eersteling. “Die oomblik toe Connell uitvind ’n baba is op pad, het hy begin nalees oor swangerskap,” sê Sarah, wat nou 17 weke swanger is.

“As ek nou enige vrae het, is hy my eerste bron.” Sy wou die baba se geslag ’n verrassing hou, maar vermoed sy gaan ingee.

“Connell is desperaat om uit te vind,” sê sy. Hulle het reeds begin dink aan name. “Seun of dogter, ons is gereed,” is al wat Connell wil verklap.