Demi-Leigh en Tim, ’n bofbalspeler vir die New York Mets, het in Januarie op die La Paris-wynlandgoed buite Franschhoek afgehaak. Die paartjie koer sedertdien gereeld in die sosiale media. En nou het hulle albei op hul Instagram-profiele skattige foto's van die jongste toevoeging tot die Tebow-huishouding gedeel - hul nuwe viervoetige hondekinders.

View this post on Instagram

The Tebows ?? @thetebowpack

A post shared by Demi-Leigh Tebow (@demileighnp) on

"Die Tebows, @thetebowpack," skryf die voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh (24) by ’n foto van haar en Tim (32) saam met hul drie honde. 

Die twee se drie honde heet Paris, Kobe en Chunk. En die drie spog nes die Jonas Brothers-sanger Nick Jonas en sy aktrise-vrou, Priyanka Chopra, se hondekind, Gino, ook met hul eie Instagram-profiel: @thetebowpack

"Hi vriende, my naam is Paris. Ek is ’n Dalmasiër en ek is agt weke oud. So gelukkig om by die huis te wees met my mense en broers, selfs al irriteer hulle my al klaar," skryf hulle op hul hondekinders se Instagram-blad by 'n foto van Paris. 

"Het jy vir Benji saam met jou na die VSA gebring?" wou een van Demi-Leigh se volgelinge weet. 

Demi-Leigh het in 2018 foto's van haar hondjie Benji in die sosiale media gedeel toe sy teruggekeer het na haar tuisdorp, Sedgefield, in die Suid-Kaap. 

Dit is nie bekend of Benji by Demi in die VSA is, of steeds op Sedgefield by haar ouerhuis is nie. 

Sedert hulle in Februarie vanjaar hul intrek in hul nuwe huis in Jacksonville, Florida, geneem het, deel Demi en Tim ook gereeld foto's van hul nuwe tuiste en verklap ook hoe hulle met die uitpakkery vorder. 

Die oudstudent aan die Noordwes-universiteit het in Februarie gewys hoe lyk van die trougeskenke wat sy en Tim ontvang het. 


"Amptelik in my nuwe huis ingetrek en ons het die grootste verrassing gekry toe ons trougeskenke ons verwelkom het . . . Tim het veral daarvan gehou om die breekware te kies," het sy laat hoor.

Al bly Demi-Leigh deesdae in Amerika, vergeet sy nie sommer van haar geboorteland en sy mense nie. Sy het Dinsdag 'n foto op Instagram gedeel waar sy die Suid-Afrikaanse landsvlag vashou kort voor inperking ingeskop het. 

"My hart is altyd by jou Suid-Afrika," het sy laat hoor. "Ek weet daar is soveel vrees en angstigheid weens die landwye inperking wat geïmplementeer word. 

"Ek wil graag my mede-Suid-Afrikaners aanmoedig om mekaar te ondersteun in die onseker en onbekende tye deur mekaar te motiveer, goedhartig met mekaar en onbaatsugtig te wees," het Demi-Leigh verder geskryf.

"Ons kan nie almal help nie, maar ons kan mekaar help."