Die gewese Mej. Heelal het op haar Instagram-profiel ’n kort video gedeel waarin sy verklap dat sy ’n klein rol in die nuwe Supergirl fliek gaan vertolk. Supergirl is die niggie van die superheld Superman. Die laaste Supergirl-fliek is in 1984 uitgereik. Daar is nog nie veel bekend oor die jongste fliek nie, maar volgens bronne het Warner Bros. die flieks in die Superman-stal nuwe rigting gee. 

In die video op Instagram Stories vertel Demi dat sy tans in die Suid-Amerikaanse land Bolivië is om tonele vir haar rol in die fliek te verfilm. 

"Ek is hier, want ek verfilm 'n fliek, Supergirl. Ek het 'n baie klein babarol, maar ek is so opgewonde en so dankbaar vir die geleentheid," het sy in 'n video vertel. "Dis my eerste fliek en ek is super, super opgewonde."

Demi en haar Amerikaanse sportster-man Tim het op 20 Januarie in 'n spogtroue op die prentjiemooi landgoed La Paris in Franschhoek in die Boland voor 260 gaste afgehaak.

Demi, wat deesdae in Amerika woon, het onlangs foto's van haar troudag gedeel ter viering van haar eerste maand as mev. Tebow. 

"Een hele maand as jou vrou! Ek is lief vir jou met my hele hart @timtebow," skryf die boorling van die Wes-Kaapse kusdorpie Sedgefield op Instagram by pragtige foto's van haar en Tim op hul groot dag. 

Demi het ook Donderdag foto's gedeel van haar sussie, Franje, wat in 2019 oorlede is. Franje sou op 27 Februarie haar 14de verjaardag gevier het. 

"14 jaar van jou ken ons klein prinses! Daar is nie ’n dag wat verbygaan waar jy nie oneindig gemis word nie! Gelukkige verjaardag my liefste sussa! Ons is so ongelooflik lief vir jou! Altyd en altyd!," skryf Demi by foto's van Franje.

Franje is gebore uit Demi se pa, Bennie Peters, en sy tweede vrou, Elzabé, se huwelik. 

Franje is met ’n seldsame breintoestand, subtotale serebellêre agenesie, gebore en is in Mei 2019 oorlede. 

Demi het verlede jaar met Huisgenoot gesels oor die verlies van haar lieflingsussie terwyl sy haar troue beplan het. 

"Om Franje te verloor was die moeilikste ding wat ek nog moes hanteer. Al het ek en sy nooit ’n gesprek gevoer nie, was daar steeds die spesiale susterlike band tussen ons," het Demi destyds vertel. Franje kon weens haar toestand nie praat nie. 

Demi en Tim het danksy Franje die eerste keer ontmoet. 

Tim het sy eie stigting wat elke jaar die naweek voor Valentynsdag skooldanse vir mense met spesiale behoeftes in meer as 20 lande aanbied. 

Kort na hul wittebrood het Demi en Tim Parys en Rome besoek vir vanjaar se Night to Shine-geleenthede. 

In Rome het die egpaar ook die geleentheid gehad om Pous Franciskus in die Vatikaanstad te ontmoet. 

Terug in Amerika het hulle ook hul intrek in hul nuwe huis in Florida geneem. 

Hul nuwe tuiste is ’n spog-herehuis in Jacksonville se eksklusiewe Glen Kernan Golf & Country Club. 

Tim, wat tans vir die New York Mets-bofspalspan uitdraf, het ook sy Instagram-profiel aangekondig dat hy die Filippyne gaan verteenwoordig in die Wêreld Bofbalkampioenskaptoernooi se kwalifiserende rondtes.

Die voormalige Amerikaanse voetbalster is in dié land gebore terwyl sy ouers, Robert en Pamela, daar sendingwerk gedoen het. 

Bronne: Channel24, CNBC, Gainesville Sun, We Got This Covered