Maar vir haar duisende bewonderaars wêreldwyd sal die ontslape prinses altyd voortleef as hul prinses van harte. Hier is ’n paar seldsame en ook ’n paar bekende foto’s en video’s van Diana — van kleintyd tot op die laaste . . .

Van kind tot ma

Toe Diana ses jaar oud was, het haar ma, Frances, met ’n ryk man weggeloop. Ná groot struweling tussen Frances en Diana se pa het hy toesig oor sy dogters gekry. Die bakleiery en toutrekkery het Diana se selfvertroue ’n knou toegedien.

'n Kaalvoet Diana (10) poseer met 'n croquet-hamer op vakansie in Itchenor. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Soos enige tiener het Diana (toe 16) weldra verlief geraak, maar dit was ’n tameletjie. Dit was op haar suster se kêrel. Die kêrel? Prins Charles. 

Sy het haar sprokiesprins se hart na alle waarskynlikheid net tydelik verower. Kort ná hul huwelik op 29 Julie 1981 het sy gesien Charles dra ’n paar mansjetknope. Dit sou nie so verpletterend gewees het nie as dit nie was dat die letters daarop F&G daarop gegraveer was nie.

Dit was Charles en Camilla se byname vir mekaar: Fred en Gladys.

Prins William is 11 maande ná hul troue gebore, en twee jaar later het Harry gevolg.

Diana se verhouding met haar seuns laat haar net nog dieper in die harte van haar bewonderaars inkruip. Soveel pret, soveel glimlagte . . .

Hier is 'n seldsame video van Diana saam met haar twee prinsies. Kyk net wat vang William aan toe sy vir hom sê Harry gaan al die pret hê.

'Van bed en tafel geskei'

Elf jaar ná Diana en Charles se troue het die Britse eerste minister aangekondig dat hulle "afsonderlik" gaan leef. 'n Jaar later is hulle geskei.

Charles het wel oor sy affair gebieg. Maar Diana het die aankondiging van amper alle nuuswaardigheid ontneem toe sy dieselfde dag met haar "wraakrok" by ’n glansgeleentheid opdaag.

Camilla het intussen ook van haar man geskei, en in ’n privaat seremonie op 9 April 2005 beloof sy en Charles trou aan mekaar.

Spesiale oomblik

Diana was veral bekend vir haar groot bydrae op die gebied van liefdadigheid. Of dit nou vigspasiënte of slagoffers van landmyne was, Diana was daar.

Toe sy gevra is om ’n foto uit te sonder wat vir haar van spesiale waarde is, het sy een gekies wat op 22 Februarie 1996 in Lahore, Pakistan, geneem is. Sy het 'n besoek aan die Shaukat Khkanum-hospitaal afgelê en het, soos gewoonlik, by die kinderafdeling ingeloer.

"Skielik het ’n siek kind my opgeval. Hy was ’n ernstige seuntjie met hartseer oë en ’n afgeremde liggaampie," het sy vertel.

Sy het die seuntjie se ma gevra of sy hom mag vashou. Wat haar sprakeloos gelaat het, was die seuntjie se reaksie. Hy't gevra sy moet hom asseblief nie te spot nie.

"Ek het hom styf vasgehou."

'Ek onthou dié seuntjie, sy stem, sy pyn.' Foto: Reuters.

31 Augustus 1997

Diana en haar kêrel, Dodi al Fayed (42), met wie sy gereeld sedert Julie 1997 gesien is, het kort ná middernag die Ritz-hotel in Parys verlaat. Dit sou hul laaste rit wees. Sy, Dodi en die motorbestuurder, Henri Paul, is op die toneel dood verklaar.

"Ek wil net hê mense moet haar laaste oomblikke as ’n vreedsame oomblik onthou. Sy het gelyk asof sy net slaap,” het dr. Frederic Maillilez, wat Diana na bewering op die toneel behandel het, gesê.

Samesweringsteorieë

Sedertdien doen samesweringsteorieë steeds die ronde. Dodi se pa, Mohamed al Fayed, het beweer sy was swanger met Dodi se kind en dat dit onaanvaarbaar vir die koningshuis sou wees. Maar dit was presies net dit: 'n bewering. Diana was nie swanger nie.

Diana self het geglo sy sou doodgemaak word. Sy het dit in ’n brief aan Paul Burrell, haar eertydse butler, geskryf. Daarin staan onder meer: "Hierdie spesifieke fase in my lewe is die gevaarlikste. [. . .] beplan ’n 'ongeluk' met my motor, remme wat faal en ’n ernstige kopbesering om dit moontlik te maak dat Charles kan trou."

William en Harry

Haar seuns onthou haar as ’n poetsbakker van formaat. En terselfdertyd iemand met onblusbare lewenslus wanneer sy tyd saam met hulle deurgebring het.

Harry was net 12 toe sy geliefde ma sterf.

“Ek onthou mense se hande was nat van die trane wat hulle afgevee het,” het hy in ’n BBC-dokumentêr, Diana, 7 Days, vertel.

Ouboet William (toe 15) het die begrafnisstoet beskryf as een van die moeilikste dinge wat hy al moes doen. “Daardie stappery. Ek het gevoel asof sy amper langs ons stap om ons daardeur te help.”

Ekstra bronne:  harpersbazaar.com, hellomagazine.com