In Julie is die beroemde gesin gekiek terwyl hulle die son in Montenegro geniet.

Verlede maand het hulle na Indonesië gereis, waar hulle in die kragtige aardbewing vasgevang was wat die eiland Lombok getref en tot minstens 142 sterftes gelei het. Maar hul jongste vakansie is sekerlik hul weelderigste en mees sterbelaaide.

Foto: Greatstock/Backgrid

Hul pelle Elton John, sy man, David Furnish, en hul twee seuns, Elijah (5) en Zachary (7), het die Beckhams in die suide van Frankryk aan boord van hul luukse jag verwelkom.

Tydens die pretbelaaide uitstappie het Elton ’n gesellige foto gedeel van waar hy saam met David (43) en Victoria (44) op die boot ontspan.

Die glanspaartjie lyk gelukkiger as ooit. Foto: Greatstock/Backgrid

“Sluit my somervakansie saam met dié lieflike mense af,” het die Rocket Man-sanger by die Instagram-foto geskryf. Tydens die uitstappie het “oom Elton” en “oom David” ook hul peetseun, Romeo Beckham (16 jaar), met ’n vroeë verjaardagete verras.

Die Beckham-gesin, Victoria, David en hul ander kinders, Brooklyn (19), Cruz (13) en Harper (7), het by Elton (71) en David (55) in ’n restaurant in Frankryk aangesluit vir die geleentheid. Victoria het ’n video van hul aand op Instagram gedeel.

Daarop straal Romeo terwyl almal vir hom sing en Elton met sy hande op die tafel tik om wysie te hou. As die vyfmalige Grammy-wenner Elton op die voor- verjaardagpartytjie sing, kan ons ons net indink hoe Romeo se eintlike verjaardagpartytjie gaan wees.

Bron: HelloMagazine.co.uk