Simoné Pretorius

Dis ’n dogtertjie! Die voormalige Binnelanders-aktrise en haar man, Andries, het in Oktober hul aanhangers verras met die nuus dat Simoné swanger is met hul eersteling. “Woorde kan nie ons euforie beskryf nie,” het Simoné oor haar en haar man, Andries, se babanuus geskryf. 

Die aktrise, wat sowat 20 weke swanger is, het in November die geslag van hule eersteling bekend gemaak en onthul 'baba Pretorius' is ’n dogtertjie.

Simoné was die ene trane toe pienk rook onthul dat hulle 'n dogtertjie verwag.

View this post on Instagram

A post shared by Simone´ Pretorius (@simonenortmann)

“Lewe begin in die moederskoot en God is die een wat lewe gee en ons is oorweldig met die volmaaktheid van Sy tydsberekening en hoe onverdiend ons is vir Sy genade,” skryf Simoné.

Haar kleinding maak in Mei 2021 na verwagting haar opwagting.

Charlize Berg

Die sangeres Charlize Berg het ook onlangs bekend gemaak sy is swanger met haar tweede kind, 'n seuntjie. 

“Ek word verspoel met liefde, en ons harte loop oor van dankbaarheid en opgewondenheid, want ons gesinnetjie kry nog twee voetjies by,” het Charlize by ’n gesinsfoto van haar, haar man, Warren Linden, en hul eersteling, Aleiah-Rose (2), gedeel. 

Charlize, wat onlangs ’n nuwe enkelsnit, “Verspoel My”, bekendgestel het, straal behoorlik tydens haar tweede swangerskap en deel gereeld die pragtigste foto’s van haar boepie op Instagram. 

"Ons het 'n wens gemaak en dit het waar geword. Dankie Jesus, ons gaan 'n klein seuntjie kry!" het sy tydens die geslagonthulling op Instagram geskryf.

Lee-Ann Liebenberg

Die beeldskone Lee-Ann het in September verklap dat sy swanger is met haar derde kind. “Ons is baie opgewonde om ons spesiale babanuus met julle te deel. Ons verwag #BabyVanDerWalt. Ons harte bars van vreugde,” het sy op Instagram laat hoor.

Lee-Ann en haar man, die sakeman Nicky van der Walt, het reeds twee dogters, Gia (10) en Gabriella (6).

Gedurende die vroeë dae van haar swangerskap het Lee-Ann aanhangers omtrent geterg met die geslag van die kleinding. 

Die gelukkige gesin het ’n geslagsonthulling by die strand gedoen en was oorstelp van vreugde toe die blou konfettie die lug inskiet om te onthul dat Lee-Ann en Nicky se eerste seuntjie op pad is.   

Sy het onlangs op Instagram geskryf sy wag geduldig vir haar seuntjie se koms. "Nog 'n ruk om te gaan," het Lee-Ann laat hoor. 

Carla Else 

Die rolprentmaker Sean Else, wat voorheen lid was van die sanggroep Eden, se vyfde seuntjie is op pad. “Ons het in Julie uitgevind ons is swanger,” vertel Sean se vrou, Carla, aan Huisgenoot.

Carla het op die 24ste week van haar swangerskap ’n oulike foto in ’n bikini gedeel waar sy omtrent met haar bababoep spog. By die foto laat sy hoor dat die tyd omtrent vlieg tydens hierdie swangerskap.

Die paar het vier ouer seuns, Caylem (16), Vaughn (14), Daniel (7) en Noah (5). Die boeties is vreeslik opgewonde dat hul gesin uitbrei. Die gesin het in 2018 in Constantia in Kaapstad kom nesskop nadat hulle twee jaar in Mauritius gewoon het. 

Caroline-Grace Brüssow

Dit was ’n groot skok vir die sangeres Caroline-Grace Brüssow en haar man, die oud-Springbok Heinrich Brüssow, toe hulle uitvind hul gesin gaan uitbrei.

Die gelukwensinge het ingestroom vir die egpaar nadat Caroline in Oktober vanjaar die babanuus in die sosiale gedeel het. Hulle het reeds 'n seuntjie, Marcel Werner, wat in Desember 2019 gebore is. Marcel gaan nou 'n kleinsus ryker word. 

Caroline deel gereeld foto’s van haar eersteling in die sosiale media en het onlangs ’n foto gedeel waar sy en Marcel pret voor kamera het. By die oulike kiekie skryf sy: “22 Weke! Marcel dink nie baie van die situasie nie, hoekom moes ek die foto 'n duisend keer neem? Tipies man," het sy geskerts. 


Damian De Allende

Die Springbok-rugbyspeler Damian de Allende en sy Italiaanse meisie, Domenica Vigliotti, het onlangs in die sosiale media aangekondig dat hul eersteling op pad is. 

Die opgewonde paartjie het trots met hul kleinding se sonarfoto’s op Instagram gespog. "Baba Doogz kom volgende jaar. @domenica_vigliotti08_ jy gaan die beste mamma wees," het Damian op Instagram geskryf by 'n foto van hom en Domenica wat voor 'n Kersfeesboom poseer met onder meer sonarfoto's van hul kleinding. 

Damian se pa, Tony, het aan Netwerk24 onthul die paartije se babaseuntjie maak in Maart 2021 sy verskyning. "Ons is baie opgewonde," het hy laat hoor.

JJ Engelbrecht 

Die rugbyspeler JJ Engelbrecht en sy vrou, Alise, gaan vir die eerste keer ouers word. Die paartjie het die nuus in die sosiale media gedeel en hulle straal behoorlik! 

“Jy is die definisie van perfeksie. Jy is elke gedagte wat ons al ooit oor fantaseer het, elke droom wat ons gedroom het. Elke gebed wat beantwoord is, elke wens wat waar geword," skryf JJ by 'n foto van hom en Alise terwyl hulle sonarfoto's vashou. "Bo als, is jy ’n testament van ons Vader se liefde, goedheid, guns en grasie,” skryf JJ. 

Die egpaar het in Januarie 2019 tydens 'n spogtroue op die prentjiemooi Cavalli-wynlandgoed op Stellenbosch afgehaak. Hul paaie het die eerste keer in 2014 in 'n restaurant op Stellensbosch gekruis. Hulle het in 2016 begin uitgaan en drie jaar later was hulle man en vrou. Nou is hul eersteling op pad.

Emmanual Castis

Die akteur Emmanuel Castis en sy verloofde, Sharlene Economou, het aangekondig hulle verwelkom in Februarie 2021 hul kleinding. En dis ’n dogtertjie! 

By ’n sonarfoto van sy "engeltjie" skryf ’n trotse Emmanuel: ‘’n Bietjie skaam vir die kamera anders as haar pa. Sien jou in Februarie klein engel.” 

Bekende aktrises soos Rolanda Marais, Sandi Schultz en Kim Engelbrecht het opgewonde die paartjie gelukgewens met die babanuus.

Baie geluk! Ons kan nie wag om al die kleingoed te sien nie!