"Ek en my ma is ou reisgenote wat by mekaar se ritmes kan inval," sê Roeline Daneel.

"My ma was al voorheen hier en ek het haar stories en foto’s altyd baie geniet," vertel Roeline uit die stad Seville.

"My destydse kêrel (nou man), Werner, was ook in 2014 in Barcelona en toe byt die Spanje-gogga my behoorlik! Ons het ’n kortlys van bestemmings gehad, maar die kombinasie van redelik billike vliegtuigkaartjies, die belofte van ongelooflike kos en ’n gedeelde belangstelling in Spanje se geskiedenis en kuns en ontwerp het die besluit eindelik makliker gemaak."

Ma en dogter by die Plaza de España in Seville.

Elsabé se seun, Pieter, en sy vriendin Ashleigh May het ’n week lank by hulle aangesluit en ’n paar nagte in Barcelona en Madrid saam met hulle deurgebring.

Hulle het op 11 Oktober gevlieg en die eerste vier nagte in Barcelona deurgebring, toe was hulle in Madrid, Córdoba en nou Seville. Hulle sou die volgende dag na Granada vertrek en eindig in Bilbao wanneer hulle op 30 Oktober na Suid-Afrika terugkeer.

Ashleigh, Pieter, Roeline en Elsabe voor die Palacio Real in Madrid.

Elsabé sê sy is ’n sonsoeker en daarom is sy gaande oor Spanje. "Ek was reeds twee keer in Spanje en was dol oor die hartstogtelike Spaanse temperament en kuns en wou dit graag met my kinders deel.

By die Plaza de España in Seville.
Elsabé in Córdoba.
In Real Alcazar, Seville.

Roeline vertel sy en haar ma het al ’n paar keer saamgereis.

"Die eerste keer toe ek 14 jaar oud was na Holland en die laaste keer vir my nefie se troue in 2014 na Edinburgh, Skotland. Ons is goeie reisgenote wat baie belangstellings deel, maar ook selfstandig genoeg is om verskillende rigtings in te vaar as ons die dag so voel. Ons beplan al bitter lank aan ’n behoorlike reis en was gelukkig om hierdie tydperk te kry wat ons albei se dagboeke pas.

Elsabe en Roeline Daneel
Elsabe en Roeline Daneel by Córdoba se moskee-katedraal.

"Ek en my ma is ou reisgenote wat by mekaar se ritmes kan inval en mekaar kan akkommodeer. Ons is albei dol oor kuns en geskiedenis, maar sy hou meer van paleise en ek van straatkultuur. Ons kan tot laat gesels – een aand in Barcelona het ons tot drieuur die oggend gesels!"

Roeline voor die Museu Nacional d'Art de Catalunya in Barcelona.
Roeline in Madrid.
Elsabe en Roeline Daneel

Sy vertel haar broer en Ashleigh het ’n lekker dinamika tot die reis gevoeg. "Hulle het elke oggend vroeg gedraf en ons daarna vir koffie ontmoet. En dit was lekker om ander jong mense saam te hê om saam met my sangria, cava (vonkelwyn) en wyne uit Rioja te probeer! My ma is nie veel van 'n drinker nie."

Roeline, Pieter en Ashleigh in Barcelona.

Tot dusver was die hoogtepunt van hul reis beslis toe Pieter en Ashleigh hulle verras het deur in Barcelona verloof te raak, vertel Roeline.

"Ek het nie ’n suster van my eie nie, maar is dol oor haar en so opgewonde om haar in die familie te verwelkom. Dis vir my wonderlik om te sien hoe gelukkig sy en my broer mekaar maak. Ons het behoorlik gevier met cava in ’n fancy restaurant op Plaça Catalunya voor ons ’n bottel Suid-Afrikaanse chardonnay in die hotelkamer gaan klaarmaak het."

Die aand toe Pieter en Ashleigh verloof geraak het in El Nacional, Barcelona.
Ashleigh se verloofring deur Daneel Diamond Manufacturers.

Elsabé stem saam en sê dit was 'n besonderse hoogtepunt. 

'n Verdere hoogtepunt was die Barri Gotic - ou antieke straatjies - in ou Barcelona. Daar illustreer die Museu Diocesa onder andere hoe Antoní Gaudí sy asemrowende katedrale beplan het. 

By Anthoni Gaudí se onderstebo katedraalmodel.

"Die opgekropte El Call, Barcelona se ou Joodse deeltjie, het my ook bekoor. In Madrid se Museo Reina Sofia het Picasso se grootse Guernica my opnuut ontstel en hartseer gemaak – veral die gewonde perd met sy oopgesperde bek. Die antieke Córdoba het my hart gesteel met sy kronkelstegies en die moskee met sy gemaklike fusie tussen Romeins, Moors en Christelik. Die Flamenco-dans het my hart nog altyd wild laat klop. Van die drie flamenco's wat ek gesien het, was die een in die piepklein Sala Fabiola in Seville die meesleurendste. Die passie. Die ritme. Die intensiteit. Ek was ademloos!"

Op die trein tussen Madrid en Córdoba.

Elsabé sê dit is 'n baie besonderse ervaring om saam met twee van haar kinders en aanstaande skoondogter te reis. "Almal is ontspanne en op ’n ontdekkingstog wat ons nader aan mekaar bring."