Sorina het die mooiste foto’s van Miana se verjaardagpartytjie met ’n prinses-tema met haar 14 300 Instagram-volgers gedeel.

"Wanneer ’n poplappie prinsessie verjaar is dit ’n koninklike fees vol pienk prag en praal. Baie dankie aan almal wat my prinses Miana Riekert se dag prentjiemooi perfek gemaak het," skryf die sangeres.

Die Sout en Peper-sangeres en haar man, Braam Riekert, woon in Pretoria met hul dogtertjie en seuntjie, Braambossie (4), soos wat sy Miana se ouboet, Braam, noem.

"Miana se partytjie was by ons huis gehou en sy het self op die tema besluit," vertel Sorina aan Huisgenoot.

"Sy is ’n regte klein dametjie wat elke oggend as haar ogies oopgaan ’n rokkie met hoëhakskoene wil aantrek met ’n bypassende kroontjie. So ’n pienk prinsessie partytjie het daardie visie vir haar vervolmaak.”

Miana is haar ma se klein prinsessie.
Miana is haar prinsessie, sê Sorina. Foto: Bambino Photography

En wie was almal onder die gaste?

"Ons maak elke jaar ’n groot makietie van die kinders se verjaardag en nooi nie net hul maatjies nie, maar ook die ouer boeties en sussies om saam te kom feesvier,” sê sy.

"Die dogtertjies was pienk prinsessies en Braambossie en die seuns was die soldate wat die kroonprinses moes beskerm.

"Ons familie en vriendekring is ook klein en ons kinders is ook almal bevriend, so dit was awesome om só ’n spesiale dag mee te kon maak."

Pa Braam en Sorina swel behoorlik van trots oor hu
Pa Braam en ma Sorina swel behoorlik van trots oor hul twee spruite. Foto: Bambino Photography

Volgens Sorina het klein Miana haar dag soveel geniet dat sy aandring om meer as een keer per jaar te verjaar.

"Sy vra steeds as sy wakker word of dit nou weer haar beurt is," vertel die sangeres oor haar borrelende dogtertjie. 

Die gesin beplan om Paasnaweek gehaltetyd as gesin saam te spandeer.