Op 21 Mei het berigte oor die twee se verliefdheid begin opduik. Dit was net ’n paar dae nadat Ariana (25) aangekondig het haar verhouding met die rapper Mac Miller is iets van die verlede.

Pete (24) is nog kort tevore gesien saam met sy jare lange meisie, Cazzie David, die komediant Larry David se dogter.

’n Week later het die Saturday Night Live-akteur die gerugte van ’n romanse bevestig toe hy ’n foto van hom en sy nuwe liefde in Harry Potter-kostuums deel.

Liefde met die eerste oogopslag? Foto: SNL

Tien dae later het Pete op Instagram gespog met tatoes wat hy ter ere van sy nuwe meisie gekry het: Ariana se voorletters en haar bekende haasoremasker.

En toe byna vier weke ná die aanvanklike berig bevestig die tydskrif People die twee mik kansel toe. Net ’n week later het Ariana op Instagram nog ’n groot stap in hul verhouding aangekondig: Hulle het saam ingetrek.

‘Ek het nog altyd aan angstigheid gely’

Al is Ariana se vele aanhangers in die wolke, meen party skeptici die onbehoorlike haas is deels aan die langdurige uitwerking van posttraumatiese stressteuring te wyte.

Die sangeres het onlangs teenoor Vogue erken dit was vir haar uiters traumaties toe ’n bom in Mei 2017 by haar konsert in die Manchester Arena ontplof en 22 lewens eis. “Ek dink nie ek sal ooit daaroor kan praat sonder dat ek huil nie,” het sy gesê.

“Ek het nog altyd aan angstigheid gely, maar toe ek ná die toer by die huis kom, was dit die ergste wat ek dink dit al ooit was.”

Haar aanstaande het self al met psigiese toestande geworstel.

Grenslynpersoonlikheidsteuring (GPS) is in 2016 by Pete gediagnoseer en hy het al openhartig oor sy stryd daarteen gepraat. Hy het onlangs teruggekap oor die nare reaksie in die sosiale media op sy verhouding met die Dangerous Woman-sangeres.

Ariana het gevra Miley Cyrus moet saamsing op die geldinsamelingskonsert One Love Manchester. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Gewoonlik lewer ek nie op so iets kommentaar nie,” het hy in ’n Instagram-plasing geskryf, “maar ek hoor baie praatjies dat ‘mense met GPS nie in ’n verhouding kan wees nie’. Net omdat iemand ’n psigiese siekte het, beteken dit nie hulle kan nie gelukkig en in ’n verhouding wees nie. Dit beteken ook nie so iemand maak die verhouding toksies nie.”

Bronne: Pagesix.com, People, TheCut.com