Hier is van die oulikste foto’s wat plaaslike glansmense van hul kleingoed in die sosiale media gedeel het.  

Jo-Ann Strauss

Die voormalige Mej. Suid-Afrika en sakevrou het in Oktober die lewe geskenk aan haar vierde kleinding, ’n dogtertjie. Jo-Ann en haar Duitse man, dr. Michael Held, ’n ortopediese chirurg, het twee ouer dogtertjies van onderskeidelik vier en twee jaar oud, en het ook ’n sesjarige seuntjie. 

Hul jongste spruit het haar verskyning op haar pa se verjaardag gemaak, het Jo-Ann op Instagram vertel.

Die ma van vier, wat in Kaapstad woon, het onlangs ’n foto in die sosiale media gedeel en vertel dat hulle op hul eerste uitstappie as ’n gesin van ses gegaan het.

View this post on Instagram

A post shared by Jo-Ann Strauss (@jo_annstrauss)

“Op ons eerste avontuur. Ons het ’n reis na Duitsland beplan om die familie daar te ontmoet, maar dis vir eers op ys. Ons het vier karstoele, min bagasie en harte vol swerflus,” skryf Jo-Ann by ’n foto van haar met ’n stootwaentjie. 

Jo-Ann het vroeër aan Huisgenoot vertel sy en Michael wou nog altyd ’n groot gesin hê.


Cheslin Kolbe

Die Bok-ster is nou die trotse pa van twee dogtertjies.

Cheslin se vrou, Layla, het op 7 November in die Franse stad Toulouse die lewe geskenk aan hul tweede dogter. Cheslin draf sedert 2017 daar uit vir die Franse rugbyklub Toulouse. Cheslin en Layla het ook ’n driejarige dogtertjie, Kylah. 

“Trots op my vrou wat so sterk en ongelooflik was deur die hele kraamproses. Dis nie ’n grap nie, hoor. Werklik ’n onvergeetlike ervaring,” het hy trots op Instagram geskryf by ’n foto waar sy pasgebore dogtertjie op sy bors lê. Hy het nie haar naam verklap nie. 

Cheslin en Layla se paaie het in 2013 die eerste keer gekruis – en dit op Nuweland. Hulle het in September 2016 op dieselfde rugbyveld verloof geraak en ’n jaar later afgehaak. Hulle vier in Desember hul derde huweliksherdenking.

View this post on Instagram

Happy Sunday??

A post shared by Cheslin Kolbe (@cheslin15) on


Roxy Burger

Die stylvolle televisieaanbieder Roxy Burger en haar man, Neil Shraga, het op 1 Oktober hul eerste seuntjie verwelkom. Klein Finnley Cade sluit aan by sy tweejarige ousus, Adrienne. 

Die kleinding is maar nog net ’n maand oud, maar hy het reeds in sy eerste Halloween-kostuum gepryk. 

Roxy het vanjaar soos Carole Baskin van Tiger King-faam aangetrek, en klein Finnley was tog te oulik as ’n tierwelpie uitgetof. Hulle het hul kostuums gewys in ’n video wat Roxy op Instagram gedeel het. 

Ousus Adrienne het vir Halloween soos ’n dokter aangetrek. Roxy het onlangs vertel haar tweede swangerskap tydens die covid-19-pandemie was baie anders as haar eerste een.

“Dié keer het ek my afgesonder en soms baie alleen gevoel. Ons was baie versigtig vir uitgaan in ag genome my toestand en alles wat aangegaan het,” het sy vertel. Adrienne is baie opgewonde om ’n ousus te wees, het Roxy toe verklap.

“Sy kon nie wag om haar bababoetie te ontmoet nie.”

Imari du Plessis

Die voormalige Protea-krieketkaptein Faf du Plessis en sy vrou, Imari, het ook hierdie jaar ’n tweede dogter ryker geraak.

Zoey du Plessis het op 18 Augustus haar opwagting gemaak en sedertdien koer haar ma, Imari, omtrent in die sosiale media oor haar skattige babadogtertjie. Faf en Imari se eersteling, Amélie, is drie jaar oud. 

“Zoey, my soet baba, dis nog net drie maande, maar vir my voel dit of ek jou nog altyd geken en liefgehad het,” het Imari onlangs op Instagram geskryf by ’n foto van haar en ’n slapende Zoey. 

Imari het ook in die sosiale media verklap dat nie elke dag maklik is vir haar of haar dogters nie. 

“’n Kykie na die mooi deel van my dag. ’n Dag wat al vieruur die oggend begin het. ’n Dag waarin ek, Amélie en Zoey al drie iewers trane gestort het. Een van ons het oor Frozen gehuil, so ek weet nie of dit regtig tel nie, maar dit was baie werklik vir haar,” skryf Imari.

“Ek het uit frustrasie gehuil oor als van my kriewelrige baba neersit tot iemand wat ’n harde geraas gemaak het of ’n blaf in die huis. Dis ook nie ’n rede om te huil nie, maar dit het soos stadige marteling gevoel vir my kwesbare geduld. 

“Die beste medisyne daarvoor is altyd skoonheid. Maak dit mooi,” het Imari openhartig geskryf by ’n pragtige foto en video van Zoey in haar kinderbedjie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe