“Ons kuier gereeld saam,” vertel Dirk (28) aan Huisgenoot. “Ons is ’n paar goeie pelle wat saam kuier, waarvan Brendan deel is.”

“Ons oefen saam, so ons sien mekaar gereeld en dan braai ons so een of twee keer ’n week saam met al ons pelle. Dit hang af hoe besig ons is met vertonings en ander verpligtinge,” sê Dirk, wat bekend is vir treffers soos Strooi Jou Suiker op My.

In die video’s sing Dirk en Brendan, die sanger agter die gewilde liedjie Klim Jou Everest, terwyl dié groep vriende by Dirk se huis in Montana in die noorde van Pretoria kuier. Brendan (22) woon net buite Pretoria op sy plaas wat hy met sy Tropika Island of Treasure-wengeld van R1 miljoen gekoop het.

View this post on Instagram

Lekker accoustic vibes langs die vuur saam @brendan_peyper en klomp pelle! Vol Video op Facebook ??????

A post shared by Dirk van der Westhuizen (@dirk_vd_westhuizen) on

Dit is Brendan, wat gereeld kitaar in die hand sing, wat hulle ook in die video’s begelei. “Ek speel kitaar, maar baie eenvoudig,” sê Dirk, wat meer op danspassies in sy vertonings fokus. “Ek is wel mal daaroor om saam te sing as iemand kitaar speel.”

Daar is “beslis” ’n moontlikheid dat hy en Brendan meer gereeld saam gaan sing, maar Dirk wil nie verder van hul planne verklap nie.

Dirk, wat vir sy dansmusiek bekend is, sing nie baie op akoestiese musiek nie, maar sê dat hy dalk eendag rustiger musiek sal maak. “Ek luister graag akoestiese musiek, maar as kunstenaar wil ek bekendstaan vir my dansmusiek.

Hoewel hulle albei in ’n mededingende musiekmark kunstenaars is, is Brendan en Dirk boesemvriende wat mekaar ten volle ondersteun. “Dit is awesome as kunstenaars saamstaan. Ons gun mekaar alles en vier mekaar se sukses. Dis wat ware vriende doen.”

Waarmee moet aanhangers intussen gelukkig wees terwyl hulle vir ’n nuwe liedjie wag? “Wel, ons gim saam, so baie gimvideo’s op Instagram,” sê Dirk.