Ons loer 'n bietjie na wat die Bokke intussen met hul tyd doen. 

Franco Mostert

Franco Mostert hou lekker teepartytjie saam met sy vrou, Juan-Ri, en hul dogters, Joia-Belle (3) en Jemi-Mílja (1). Franco speel sedert 2018 klubrugby vir die Engelse rugbyklub Gloucester. Die gesin woon op die dorpie Brimpsfield in die graafskap Gloucestershire. 

Juan-Ri het foto’s van hul partytjie in die sosiale media gedeel. 

“Tee, enigeen?" het sy by die foto's laat hoor.

“Dit blyk dat ek lief is vir kunsvlyt en dekor skep vir my dogters — hulle laat my kreatiwiteit vloei, nes hulle my inspireer om beter te wees in alle aspekte van die lewe. Om hierdie “par-TEA” op te stel, het ons dinge gebruik wat ek reeds in die huis gehad het. 

"Hoop dit was oukei vir ’n Britse teemaaltyd. Ons het darem die absoluut beste kelner gehad,” het Juan-Ri by skattige foto’s van haar, Franco en hul dogtertjies geskryf. 

Die paartjie se jongste kind, Jemi-Mílja, het ook onlangs haar eerste verjaardag gevier.

Franco (29) tokkel ook die kitaarsnare terwyl hy tuis is.

Hy mis die rugbyveld. "Ek kan nie wag om weer op die veld te kom om te doen waarvoor ek lief is nie," het hy onlangs laat hoor by 'n foto waar hy op die rugbyveld in aksie is.


Handré Pollard

Handré (26) en sy vrou, Marise, woon in die Franse stad Montpellier waar hy vir die gelyknamige rugbyspan uitdraf. 

Marise het onlangs in die sosiale media verklap dat hulle na ’n nuwe huis trek, die van Handré se Bokspanmaat Frans Steyn en sy vrou, Linca. 

Die Steyns keer terug na Suid-Afrika waar Frans voortaan vir die Vrystaatse Cheetahs sal speel. 

Marise het op Instagram 'n foto van haar en Handré in hul eerste huis gedeel.

“Hierdie foto is geneem net nadat ons in ons eerste huis ingetrek het - as ons net geweet het wat ons nou weet,” het die oud-Tukkiesatleet by die foto geskryf. 

“Dis nou drie jaar later en ons bly in ’n ander land en ons trek na ’n nuwe plek wat vir die volgende paar jaar ons huis gaan wees. Die beste deel van hierdie nuwe huis is dat ons goeie vriende daar gewoon het en ons kon reeds soveel herinnerings daar skep.

"Ons gaan julle mis, maar dankie dat ons in jul huis kan intrek," skryf Marise aan Frans en sy vrou, Linca.


Marise geniet die sonnige weer in Montpellier.

Warrick Gelant

Die Kaapse streekspan die DHL Stormers het onlangs bekendgemaak dat die Bok-heelagter ’n kontrak met hulle gesluit het. 

Intussen bly Warrick (25) besig met ’n nuwe podcast getiteld “Breaking Chains”. Die rugbyspelers Herschel Jantjies en Rosko Specman, sowel as die krieketspeler Reeza Hendricks en die Mamelodi Sundows-doelwagter Reyaad Pieterse het al met Warrick gesels. 

Warrick deel ook gereeld foto’s in die sosiale media van hoe hy fiks bly tydens die inperking. 

“Afpak-week. Vlak 4,” het hy onlangs op Instagram laat hoor. 

Jesse Kriel

Die Bulle se senter Jesse Kriel (26) sorg ook dat sy fiksheidsroetine nie in die slag bly terwyl daar geen wedstryde is nie. 

“Daaglikse vordering,” het hy onlangs geskryf by ’n video waar hy sy aangeevermoë opskerp. 

View this post on Instagram

Daily Progress ????

A post shared by Jesse Kriel (@jessekriel15) on

’n Paar dae later het hy ook ’n foto gedeel saam met sy tweelingbroer, Dan, wat vir die Leeus uitdraf, se kinders. 

View this post on Instagram

??

A post shared by Jesse Kriel (@jessekriel15) on

“Die oulikste,” het Jesse se meisie, Hope Mortimer, oor die foto gesê. 

Elton Jantjies

Elton Jantjies (29) en sy vrou, Iva, het vroeër in Mei hul jongste seun, Leo, se eerste verjaardag gevier. 

“Gelukkige eerste verjaardag aan ons jongste baba! Ons is lief vir jou, Leo. Jammer dat jy nie die beste verjaardagpartytjie kan hê nie, maar ten minste is ons almal saam, gelukkig en gesond. En ja, ek het die koek self gemaak,” het Iva op Instagram laat hoor by 'n foto van haar en Elton by hul drie seuns, Elton jr. (4), Noah en Leo, oftewel Leandro Lee.

“Julle is pragtig,” het die Springbokkaptein Siya Kolisi se vrou, Rachel, laat hoor. 

Elton en Iva het ook onlangs saam met die SA Rugbylegendes-groep voedselpakkies aan minderbevoorregtes uitgedeel. 

Herschel Jantjies

Die Stormers-skrumskakel Herschel Jantjies (24) kan dalk nie saam met sy spanmaats oefen nie, maar hy het geen tekort aan vierpotige oefenmaats nie. 

Herschel het hierdie oulike foto van hom en sy hondemaats in die sosiale media gedeel. 

“Reg, ons gaan twee stelle oefeninge doen!” skryf hy daarby. 

Hy het ook saam met van sy Stormers-spanmaats in ’n grappige video verskyn waar hulle mekaar probeer uitoorlê met slegte grappies.