Kan die sangers hul eie 15de verjaardag onthou? Dit was blykbaar vir niemand so ’n mylpaal soos Innibos s’n nie.

Die komediant Wicus van der Merwe het net sy kop geskud: “Ek kan nie eens verlede week onthou nie.”

Nog ’n komediant, Margit Meyer-Rödenbeck, oftewel Dowwe Dolla, het gesê sy kan wel haar 16de verjaardag onthou, “want ek het geen oulike presentjies langs my bed gekry toe ek wakker word nie”.

Maar ná skool het ’n splinternuwe Pasola-motorfietsie vir haar gewag.

Reynardt Hugo, lid van die manne-trio Adam, sê hy sal sy agtste verjaardag nooit vergeet nie. Hoekom? Sy ma het vir hom ’n Ninja Turtle-koek gebak.

Sorina Erasmus, ook bekend as Die Flooze, het gesê sy kan nie eens onthou wanneer haar 15de verjaardag was nie.

“Ek is ’n blond en ’n vrou!” spot sy. “Boonop was wiskunde nog nooit my sterk punt nie.”

Die Country-­konings Die Campbells.
Dit het gekóók by vanjaar se Innibos.
Bobby van Jaarsveld stem sy kitaar voor hy op die verhoog gaan.
Juanita du Plessis is ’n ware superster met meer as 2 miljoen albumverkope.
Die manne van Adam, Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle Grant, in ’n stuitige bui.
Die komediante Wicus van der Merwe en Margit Meyer-Rödenbeck in aksie.
Corlea se Swart Koffie was ’n gunsteling.
Die akteurs Francois Jacobs en Simoné Nortmann, wat die hoofrolle in Huisgenoot se eeufeesfliek Vir die Voëls vertolk het, was die seremoniemeesters.
Die Ghoema-bekroonde Dewald Wasserfall het die gehoor op hul voete gehad met treffers soos Jy Is die Storm.
Lee Scott het die konsert met die Volkslied geopen wat hy saam met die koor van die Lowveld High School gesing het.
Riana Nel en Pierre Greeff het die duet Doen Net Wat Ek Wil gesing.

Die hartebreker Bobby van Jaarsveld en die countryduo Die Campbells het gesê die een verjaardag wat hulle nooit sal vergeet nie, was hul 21ste.

Bobby het ’n Grease-temapartytjie gehad waar almal soos karakters uit dié musiekblyspel aangetrek het. Die Campbell-broers, Harry en Tony, het saam met hul vriende ’n spitbraai gehou.

Foto’s: Martin de Kock