Al is sy volgelinge al bekend met die snaakse karakter, Wouter, wat hy graag uitbeeld, is dit die videos van hom en sy Suidooster-medester Gantane Kusch (29), dr. Siya Thuli in Suidooster, wat die afgelope tyd die tonge laat klap.

Die akteurs deel die afgelope maand gereeld videos van twee skreeusnaakse karakters, Brenda en Glenda.

Die videos wat hulle deel, is so gewild dat hul ál meer daarvan deel. Van hul aanhangers het selfs begin versoek dat hulle 'n vertoning lewer.

Die saadjie vir Brenda en Glenda is tussen tonele op die stel van Suidooster geplant.

Dis hier waar die twee akteurs baie tyd saam deurbring en graag met mekaar die gek skeer. 

Op 'n dag het hulle by die grimeerkamer ingehardloop om te kyk of daar nie ’n serp of iets rondlê wat hulle kan gebruik om die karakters uit te beeld nie – en toe is Brenda en Glenda gebore.

“Ons albei kom uit klein gemeenskappe en ken anties soos Brenda en Glenda wat 'n groot rol in die gemeenskap speel,” vertel Dean.

“Ons ken ook almal iemand wat geld leen en vergeet om dit terug te gee,” voeg Gantane by. "Mense kan met die karakters identifiseer."

Volgens die akteurs weet 'n mens nie altyd hoe gewild die videos is wat jy op sosiale media deel nie. 

“Dit kan baie views kry, maar dit beteken nie dat mense noodwendig daarvan hou nie. 'n Mens kan dit net bepaal deur die aantal direkte boodskappe wat ons op Instagram kry, waar mense vra wanneer ons nog ’n video gaan deel of ’n show gaan doen,” sê Dean. 

“Ek was onlangs ’n seremoniemeester by ’n geleentheid in Namibië. Mense kon ná die tyd vrae vra. Ek het gedink mense gaan my vra oor my karakter, Wade, in Suidooster, maar hulle wou eerder by my weet waar Brenda is, wat deur Gantane gespeel word,” vertel hy laggend. 

Gantane sê op sy beurt hy het ook onlangs ’n fees in Port Elizabeth bygewoon, en mense het hom ook gevra van Brenda en Glenda.



Die twee beplan om nog video's te deel. Hulle kan nog nie bevestig of dit op 'n vertoning sal uitloop nie.

Benewens dat hulle heeldag saam op stel is en gereeld tonele teenoor mekaar het, is Dean en Gantane ook goeie vriende. 

“Ons was vriende voor Suidooster en het eintlik gelag toe ons hoor ons albei het rolle in die sepie gekry,” vertel Dean. 

“Ons ondersteun mekaar, en dit help ook dat ons in dieselfde bedryf is. Ek het verskriklik baie by Gantane geleer en ek hoop hy kan dieselfde van my sê,” sê Dean. 

“Ons deel 'n baie hegte band,” voeg Gantane by.

“Ons ondersteun mekaar, deel baie en, anders as Brenda en Glenda, help ons altyd mekaar as een in die knyp is. Anders as Brenda en Glenda bevind ons ons nooit in die posisie waar die een worstel oor die ander een wat vir hom R20 skuld nie,” lag Gantane.