Nie net het die paartjie se seuntjie, Dawid, op 22 November sy eerste verjaardag gevier nie, Liza het Woensdag 30 jaar oud geword en Ricus vier vandag sy 40ste verjaardag.

Lize Bronner
Die paartjie geniet hul gesamentlike partytjie. Foto: Verskaf

Die paartjie het Woensdag op Liza se verjaardag sommer ’n gesamentlike partytjie gehou om die mylpaal-verjaardae te vier. 

Lize Bronner
Die aktrise Christel van den Bergh by Liza en haar man, Ricus Nel. Foto: Verskaf

“Om 30 te word is vir my fantasties,” sê Liza. “Ek dink die lewe begin nou eers. Hulle sê mos as jy 30 is, is jy oud genoeg om terug te kyk na al die goeie herinneringe op jou lewenspad, maar nog jonk genoeg om na die toekoms uit te sien. Dis hoe ek voel,” borrel die pragtige blondekop. 

“Die hoogtepunt van my verjaarsdag was toe Ricus en Dawid my vroeg die oggend wakker gemaak het om my met geskenke te verras," vertel Liza.

Die sangeres vertel dat haar en Ricus se partytjie later die dag besonder spesiaal was.

Die feesvieringe is by hul huis in die ooste van Pretoria gehou en 44 van hul naaste mense het saam kom feesvier terwyl 'n vleisie op die kole gebraai is.

“Ons het heerlik gekuier en ons vriende het ons baie spesiaal laat voel,” sê Liza.

Lize Bronner
Liza geniet haar 30ste verjaardag. Foto: Verskaf

Verskeie van die paartjie se vriende uit die vermaakwêreld het die makietie bygewoon. Onder die bekende gesigte by die partytjie was die Getroud met Rugby-aktrise Christel van den Bergh, die Binnelanders-aktrise Je-ani Swiegelaar en die glanspaartjie Bok van Blerk en Hanna Grobler.

Lize Bronner
Christel van den Bergh, Je-ani Swiegelaar en Lize. Foto: Verskaf

Ricus het ook 'n spesiale inskrywing in die sosiale media gemaak om sy vrou geluk te wens.

“Vandag word myne 30 jaar oud,” het hy op Liza se verjaardag by ’n rits foto’s van hulle geskryf. “Baie geluk my pop. Jy is een van God se mooiste skeppings.”

Liza was ewe opgewonde om weer vir Ricus op sy verjaardag in die sosiale media geluk te wens. 

"Vandag is die mooi man van my 40. Ek dank die Here elke dag vir jou. Ek is ongelooflik trots op jou en definitief jou heel grootste aanhanger. Dis vir my so mooi om te sien hoe die Here jou van krag tot krag vat."

Op klein Dawid se eerste verjaardag einde verlede maand het Liza in die sosiale media geskryf dat haar gunsteling-titel dié van mamma is.

“Ek sluk vandag swaar aan my trane,” het haar inskrywing gelui.

“Dit is trane van dankbaarheid en vreugde. Ek is dankbaar teenoor die Here dat Hy my geseën het met jou, my klein Dawid. Voor jou geboorte het ek geleer wat dit is om met 'n smeek gebed te glo en te vertrou dat God getrou sal wees aan Sy woord.

"Ná jou geboorte het ek besef dat God altyd getrou sal bly aan Sy woord. Ek beleef alles weer opnuut, vir die eerste keer saam met jou, en ek geniet elke oomblik daarvan.


"Nooit het ek gedink dat 'n hadida my so sal kan laat glimlag nie (jou ogies verhelder as jy hoor hoe hulle skree), of dat ek sal hande klap en ‘mooi’ sê elke keer wat jy poep nie (ja poep, vra maar vir elke ma), dat ek ‘tjoeke tjoekepaf’, ‘handjies klap’, ‘wielie walie’ en natuurlik "Boerepompie" uit volle bors saam sing net om te sien hoe lekker jy daai lyfie beweeg nie, en om die weirdste danspassies te doen net om jou te hoor lag nie. Ek het ook nooit gedink dat ek so sal kan lief hê nie. Met elke mylpaal besef ek net weer hoe groot God is.”