Die Bok-agsteman (33) het onlangs ’n “rugby 101”-video in die kuberruim gedeel waarin sy oudste, Anru (5), vir sy jonger boetie, Zian (2), wys hoe om ’n verdediger te systap. 

View this post on Instagram

Rugby 101.....??

A post shared by Duane Vermeulen (@customs08) on

“Hierdie is ’n moeilike een. So jy moet hom so step,” verduidelik Anru en demonstreer met sy gladde links-regs-bewegings op ’n duiksak. "Vinnig, nie stadig nie!" is sy raad aan sy boetie, Zian, wat stil-stil op die rusbank sit en sy ouboet se kennis soos ’n spons opslurp.

Hul streke het selfs die aandag van die Springbok-stut Tendai "Beast" Mtawarira getrek. "Begin hulle jonk, bru," het hy by die video geskryf. Die Blou Bul-vleuel Rosko Speckman het ook van sy kant af laat hoor: "Die volgende step-seun." 

“Anru is in gr. R en neem deel aan Team Future wat 'n rugby- en krieketprogram vir kleuters is, terwyl Zian ook alles geniet wat sy boetie doen. Albei is super hero fanatics,” vertel hul ma, Ezél Vermeulen. 

Sy verwys na die Suid-Afrikaanse spanne se Marvel-tema wat vanjaar in die Superrugbyreeks te sien was.

“Hulle love dit om rugby te kyk veral wanneer hul pappa speel. Hulle skree heeltyd en spot hom dadelik,” sê Ezél, wat ’n dansskool in Kaapstad bestuur. 

Volgens haar geniet Duane dit om hulle van kleinsaf touwys te maak, maar wanneer hy vir sy werk reis, leer hulle ook vaardighede op die televisie en by die skool. 

“Hulle het ’n groot verbeelding en speel gereeld teen mekaar. Dis hoekom ek die duiksakke gekry het, want hulle duik mekaar asof hulle al groot rugbyspelers is,” vertel sy. 


Ezél geniet dit om haar man terug in Suid-Afrika te hê.

“Dis so lekker om hom in die land te hê, want hy kan nou meer deel wees van die kinders se aktiwiteite en ons sien hom nou gereelder. Dis maar moeilik wanneer jou man twee tot vier maande op ’n slag weg is.”

Dié Blou Bul-staatmaker, het voorheen in Japan vir die Kubota Spears uitgedraf, maar het vanjaar ’n tuiste in Pretoria geskep. Sy vrou en kinders woon in Kaapstad. 

“Dis nie ideaal dat ons nie in dieselfde stad woon nie, maar ek sal veel eerder ’n twee-uur- pleks van ’n 21-uur-vlug van Japan neem om my gesin te sien,” het Duane voorheen aan Sport24 vertel. 

Die Springbokke se eerste kragmeting sal vanjaar op 20 Julie teen Australië in Johannesburg wees. 

Ekstra bron: Sport24